Bonatuurlik Wat die Bybel sê oor die onsigbare wêreld en waarom dit belangrik is Michael S. Heiser ________________ Supernatural Copyright © 2015, Michael S. Heiser Supernatural, Afrikaans translation © 2020, Miqlat Die inhoud van hierdie vertaling kan gekopieër en oorgedra word met toestemming van die outeur. Hierdie toestemming is slegs van toepassing op die vertaling wat deur Miqlat.org gepubliseer word. Miqlat.org is 'n organisasie sonder winsbejag in die Verenigde State. Daarom is hierdie toestemming nie van toepassing op ander vertalings in dieselfde taal of enige ander taal wat deur Lexham Press gepubliseer is nie. Tensy anders vermeld, is alle Bybelaanhalings uit die Nuwe Lewende Vertaling. Skrifaanhalings gemerk NLV is geneem uit die Nuwe Lewende Vertaling © 2006. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou. ISBN 978-1-77000-663-8 Alle teksverwysings kan aanlyn gevind word by https://my.bible.com/af/ Vertaal deur Werner Nieman met hulp van Charl en Marlene De Villiers aan ─ Odette, Jenna en Marco ─ ________________ Inhoudsopgawe Inhoudsopgawe 3 Voorwoord 6 HOOFSTUK EEN: Glo Die Bybel 7 HOOFSTUK TWEE:Die Onsigbare Wêreld: God en die Gode 10 Die Gode Bestaan Regtig 11 Die Werk En Struktuur Van Die Hemelse Raad 12 Waarom Is Dit Belangrik? 13 HOOFSTUK DRIE:Gewese En Toekomstige Konings 15 Eden: God Se Hoofkwartier 15 God Se Beelde 15 Twee Rade, Een Doel 16 Waarom Is Dit Belangrik? 17 HOOFSTUK VIER:Bonatuurlike rebellie 19 Probleme In Die Paradys 19 Die Bose Nageslagte 21 Waarom Is Dit Belangrik? 22 HOOFSTUK VYF:Kosmiese Geografie 25 Die Toring Van Babel 25 Die Gode En Hulle Volke 26 Die Deuteronomium 32 Wereldbeskouing 27 Waarom Is Dit Belangrik? 29 HOOFSTUK SES:Die Woord, die Naam en die Engel 30 Abraham Ontmoet Die Woord 30 God In Menslike Vorm 31 Jesus: Die Woord, Die Naam En Die Engel 32 Waarom Is Dit Belangrik? 33 HOOFSTUK SEWE:Reëls van die Geveg 35 Wie Is Yahweh? 35 Israel ─ God Se Familie En Aardse Verteenwoordigers 36 Die Wet ─ Gelewer Deur Die Hemelse Raad 37 Geloof En Lojaliteit 37 Waarom Is Dit Belangrik? 38 HOOFSTUK AGT:Heilige Grond 40 Die Konsep Van Heiligheid 40 Hoe Is God "Anders"? 40 Die Oplossing Vir Die Probleem Van Onreinheid 41 Hemel (En Hel) Op Aarde 42 Waarom Is Dit Belangrik? 43 HOOFSTUK NEGE:Heilige Oorlog 45 Israel Se Bonatuurlike Denke 45 'n Tweede Kans 47 “Heeltemal Verwoes” 48 Waarom Is Dit Belangrik? 49 HOOFSTUK TIEN:Verborge in volle sig 51 'n Geskiedenis Van Mislukking 51 Die Oplossing ─ En 'n Probleem 52 Die Kriptiese Messias 52 Dele Van Die Messiaanse Profiel 54 Waarom Is Dit Belangrik? 54 HOOFSTUK ELF:Bonatuurlike Voorneme 56 Die Boosheid Om Uitgeskei Te Word 56 'n Voorsmaak Van Eden 57 Kom Kry My Maar 58 Waarom Is Dit Belangrik? 60 HOOFSTUK TWAALF:Kom op die wolke 61 “‘n Oue Van Dae” En Sy Raad 61 Soos Die Seun Van 'n Mens Op Die Wolke 62 Julle Is Gode, Maar Tog Sal Julle Soos Mans Sterf 63 Waarom Is Dit Belangrik? 64 HOOFSTUK DERTIEN:Die Groot Ommekeer 66 Pinkster 66 Pinkster En Babel 67 Ons Stryd Is Nie Teen Vlees En Bloed Nie 68 “Op Na Spanje” 68 Waarom Is Dit Belangrik? 69 HOOFSTUK VEERTIEN:Nie van hierdie wêreld nie 71 Heilige Grond En God Se Teenwoordigheid 71 Uitlewering Aan Satan 72 Doop As Geestelike Oorlogvoering 72 Waarom Is Dit Belangrik? 74 HOOFSTUK VYFTIEN:Deelnemers aan die Goddelike Natuur 76 Seuns Van God, Afstammelinge Van Abraham 76 Familie Reünie 77 Waarom Is Dit Belangrik? 79 HOOFSTUK SESTIEN:Heers oor Engele 80 Deelname Aan Die Koninkryk Nou 80 Aangestel Oor Die Nasies 81 Die Ewige Eden 82 Waarom Is Dit Belangrik? 82 Gevolgtrekking 84 Ons Identiteit: Ons Behoort In Die Familie Van God 84 Ons Lewensdoel: Ons Rol In God Se Plan, Die Herstel Van Eden 85 Gebed vir Vergifnis 87 Gebed Vir Vergifnis - 'n Waardevolle Geskenk 87 Gebed Vir Vergifnis - Moontlik Gemaak Deur Jesus Christus 87 Gebed Vir Vergifnis - Vra God Vir Vergifnis 87 Gebed Vir Vergifnis - Kry 'n Nuwe Lewe 88 Skrywer se versoek 90 ________________ Voorwoord Aangesien Supernatural gebaseer is op my boek The Unseen Realm, pas die gedagtes wat in die erkennings van daardie boek uitgespreek word, ook hier, hoewel in verkorte vorm. Ek het baie te danke aan die aanlynbesprekingsgroep wat opgerig is kort nadat ek besluit het dat ‘die hemelse raad’ en ‘die onsigbare wêreld’ in die Bybelse teologie, die fokuspunt van my akademiese loopbaan sou wees. Uiteraard noem ek dit ‘the Divine Council Study Group’. Die DCSG word in 2004 ontbind nadat ek my doktorsgraad voltooi en aan my loopbaan by Logos Bible Software begin het, maar dit dien as goeie oefening om my voor te berei vir die skryf van beide boeke. The Unseen Realm het begin as ‘n manuskrip getiteld “The Myth That Is True” wat ek begin het vir aanhangers van my webtuiste en roman, The Façade. Baie van die materiaal verskyn eers in ‘n maandeliks nuusbrief en later op ‘n blog. Die idee hiervan was om myself aanspreeklik te hou om maandeliks iets te produseer. Die eerste volledige weergawe van “the Myth book”, soos dit genoem word, was in 2012 voltooi. Die manuskrip verbeter na aanleiding van die lesers se terugvoering. Spesifieke bydraers word vermeld in die dankbetuiging in The Unseen Realm. Die groot motiveerders vir die publikasie van The Unseen Realm, en dus ook Bonatuurlik, was drie bestuurders by Faithlife Corporation/Logos Bible Software: Bob Pritchett, Dale Pritchett en Bill Nienhuis. Hulle slaag nie net daarin om die manuskrip na ‘n hoër vlak te bring nie, maar sien ook die behoefte aan ‘n gedistilleerde weergawe van die inhoud. Bonatuurlik is dus gebore uit hierdie visie. Dave Lambert, die redakteur van The Unseen Realm, het ook aan Bonatuurlik gewerk. Sy kennis en ervaring is te sien op elke bladsy. Hy sorg daarvoor dat ek die leek in die kerkbank nie uit die oog verloor nie. Ten slotte wil ek my vrou Drenna bedank. Sy maak alles wat ek doen moontlik. ________________ HOOFSTUK EEN: Glo Die Bybel Glo jy wat die Bybel sê? Dit kan na 'n vreemde vraag klink aangesien die meeste lesers van hierdie boek waarskynlik Christene is. Maar ek dink nie dit is so 'n vreemde vraag vir Christene nie. Die Bybel is vol vreemde dinge ─ dinge wat veral in die moderne wêreld van vandag moeilik is om te glo. Ek praat nie van die groot dinge, soos dat Jesus God op aarde was, en dat Hy aan die kruis gesterf het en weer uit die dood opgestaan het nie. Ek dink ook nie aan die wonderlike verhale soos die uittog van die Israeliete uit Egipte waarin God ‘n weg deur die Rooi See gemaak het nie. Die meeste Christene sal saamstem dat hulle hierdie stories glo. As jy immers nie glo in God, Jesus of die wonderwerke wat hulle gedoen het nie, waarom noem jy jouself 'n Christen? Ek verwys eintlik na die minder bekende, vreemde dinge wat jy soms in die Bybel teëkom, maar wat skaars in die kerk genoem word. 1 Konings 22 vertel byvoorbeeld die verhaal van die bose koning van Israel genaamd Agab. Hy en die Koning van Juda wou oorlog voer teen 'n vyand in 'Ramot in Gílead'. Die koning van Juda wou egter eers weet wat die toekoms sou bring as hulle sou aanval. Daarom het hulle Agab se profete geraadpleeg. Al Agab se profete het die groen lig gegee, maar in werklikheid het hulle net gesê wat Agab wou hoor. Die konings besluit dus om God se profeet, Miga,te raadpleeg. Maar wat hy sê is nie goeie nuus vir Agab nie: “Miga het voortgegaan: “Luister wat die Here sê. Ek het die Here gesien waar Hy op sy troon sit met die hemelse leërmag weerskante van Hom. Die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab gaan oortuig om teen Ramot-Gilead oorlog te maak sodat hy daar kan omkom?’ Hulle het hiernatoe en daarnatoe gepraat. Uiteindelik het die leuengees voor die Here gaan staan en gesê: ‘Ek sal dit doen!’ “‘Hoe sal jy dit doen?’ vra die Here vir hom.“Die gees het geantwoord: ‘Ek sal gaan en al Agab se profete oortuig om leuens te vertel.’ “‘Jy sal slaag,’ sê die Here. ‘Gaan voort en doen dit.’ “U sien, die Here het ’n leuengees in die monde van die koning se profete gelê omdat die Here ’n ramp vir jou bepaal het.” (1 Kon. 22:19-23) Verstaan jy wat die Bybel hier sê? Glo jy regtig dat God 'n vergadering met 'n groep bonatuurlike wesens het om te besluit wat op aarde gebeur? Is dit werklik so? Hier is nog 'n voorbeeld uit die brief van Judas: “Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag.” (Jud. 1: 6 AFR83) God het 'n groep engele na 'n ondergrondse tronk gestuur? Is dit regtig wat daar staan? Soos ek gesê het, die Bybel bevat baie vreemde dinge, veral wat die onsigbare bonatuurlike wêreld betref. Ek ken baie Christene wat geen twyfel het oor die minder omstrede, bonatuurlike dinge in die Bybel, soos wie Jesus is en wat Hy gedoen het nie, maar verse soos hierdie maak hulle ‘n bietjie ongemaklik, soveel so dat hulle dit ignoreer. Ek het eerstehands hierdie tendens al ervaar. Ek en my vrou het eenkeer 'n kerk besoek waar die predikant 'n reeks preke oor Petrus se eerste brief gelewer het. Toe hy by 1 Petrus 3:18-22 kom, het hy gesê, "Hierdie verse is nogal vreemd, so ons sal dit oorslaan." Met "vreemd" bedoel hy eintlik dat hierdie verse bonatuurlike elemente bevat wat nie in sy teologie inpas nie. Soos: “Ons moenie dink dis net ons wat onverdiend ly nie. Ook Christus het só gely toe Hy eens en vir altyd vir ons sondes gesterf het. Hy het nooit enige sonde gedoen nie; tog het Hy vir sondaars gesterf om julle by God te laat tuiskom. Wat sy liggaam betref, het Hy gesterf, maar wat sy gees betref, is Hy lewend gemaak. Só het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en sy oorwinning daar aangekondig. Hierdie geeste is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy baie geduldig met hulle was. Dit het gebeur in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net agt mense is uit die verskriklike vloed gered.” (1 Pet. 3:18-20) Wie was hierdie geeste en waar is hulle opgesluit? Die predikant moes die antwoord òf nie geken het nie, òf hy het nie van die antwoord gehou nie en eenvoudig besluit om hierdie verse te ignoreer. As 'n Bybelwetenskaplike het ek geleer dat dit juis die vreemde gedeeltes (en baie ander, minder bekende of misverstaande gedeeltes uit die Bybel) is wat eintlik baie belangrik is. Uit sulke gedeeltes kan ons spesifieke begrippe leer oor God, die onsigbare wêreld en oor ons eie lewens. Glo dit of nie, maar as ons bewus was van hierdie teksgedeeltes en die inhoud daarvan regtig verstaan het, sou ons baie anders kyk na God, mekaar, ons doel in die huidige lewe en ons ewige skeppingsdoel. In Paulus se eerste brief aan die Korinthiërs, was hy woedend oor die manier waarop gelowiges mekaar hof toe geneem het om geskille te beveg. Hy het gedink dit was nie net 'n vermorsing van tyd en energie nie, maar ook 'n slegte voorbeeld van die geloof. Hy het gesê, "Weet jy nie dat jy die wêreld sal oordeel nie? Weet jy nie dat jy selfs oor engele sal regeer nie?" (1 Kor 6:3, eie parafrase). Die wêreld beoordeel? Regeer oor engele? Wat Paulus in hierdie raaiselagtige vers sê, is ongelooflik, maar terselfdertyd ook lewensveranderend. Die Bybel verduidelik die verband tussen die optrede van bonatuurlike wesens en ons eie lewens en toekoms. Eendag sal ons die wêreld oordeel. Ons sal oor engele regeer, net soos Paulus geskryf het. Meer hieroor later. Die rede waarom Paulus dit vir die Korinthiërs gesê het ─ en daarom ook vir ons sê ─ is dat die storie van die Bybel gaan oor hoe God ons gemaak het en begeer vir ons om deel te wees van Sy hemelse familie. Dit is nie toevallig dat familie-verwante terme gebruik word om die verhoudings tussen God, Jesus, die bonatuurlike wesens en gelowiges soos ek en jy te beskryf nie. Hulle word beskryf as 'n familie wat saam woon en werk. God wil hê dat die mensdom moet deel wees van Sy familie en van die bestuur van Sy skepping. Ons ken almal die konsep van "op aarde soos in die hemel". Hierdie term kom van die idees en frases uit die "Onse Vader" gebed (Matt. 6:9-13). Van die begin af, wou God hê Sy menslike familie moes saam met Hom leef in 'n volmaakte wêreld ─ saam met die familie wat hy reeds in die bonatuurlike wêreld gehad het, Sy hemelse leër. Die verhaal van die Bybel ─ God se plan, opposisie daarteen van die magte van duisternis, die mislukking en die uiteindelike sukses van hierdie plan ─ is waaroor hierdie boek gaan. Ons kan hierdie verhaal net regtig waardeer as ons al die karakters betrek ─ insluitende al die bonatuurlike karakters wat deel is van hierdie epiese verhaal maar dikwels deur Bybelleraars geïgnoreer word. Die lede van God se hemelse leër speel selfs 'n sentrale rol in ons storie, die storie van die mensdom, in die hele verhaal van die Bybel. Ons as moderne lesers mis te dikwels hoe die bonatuurlike wêreld teenwoordig is in die mees bekende Bybel verhale. Dit het my baie jare geneem om te verstaan wat ek nou in die Bybel sien ─ en ek wil die resultaat van al die jare se studie met jou deel. Voordat ons verder gaan, wil ek teruggaan na die vraag wat ek in die begin gevra het. Glo jy regtig wat die Bybel sê? Dit is waaroor dit gaan. Andersins is daar geen punt om te leer wat die Bybel oor die onsigbare wêreld sê en hoe dit met ons eie lewens oorvleuel nie. In 2 Konings 6:8-23 lees ons dat die profeet Elisa (weer) in die moeilikheid is. 'n Bose koning het Elisa se huis met sy troepe omsingel. Wanneer sy dienaar paniekerig raak, sê Elisa vir hom: “Moenie bang wees nie!” sê Elisa vir hom. “Daar is meer aan ons kant as aan hulle kant!” Toe bid Elisa: “Here, maak tog sy oë oop sodat hy kan sien!” Die Here het sy dienaar se oë oopgemaak. Toe hy opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was.” Elisa se gebed is ook my gebed vir jou, dat God jou oë mag oopmaak en dat jy nooit weer op dieselfde manier na die Bybel sal kyk nie. HOOFSTUK TWEE: Die Onsigbare Wêreld: God en die Gode Mense het 'n fassinasie met die bonatuurlike. Kyk maar na die vermaaklikheidsbedryf van die laaste paar jaar. Duisende boeke, reekse en films gaan oor engele, monsters, buiteruimtelike wesens, demone, spoke, hekse, towerkuns, weerwolwe en superhelde. Baie van Hollywood se “blockbusters” gaan oor die bonatuurlike: X-Men, die Avengers, Harry Potter, Superman, en die Twilight fliek reeks. Televisie reekse soos Supernatural en X-Files het 'n toegewyde ondersteunersbasis. Maar was mense nie maar nog altyd gefassineer deur die bonatuurlike in stories en kuns nie? Hoekom? Een van die antwoorde is omdat ons graag die alledaagse werklikheid wil ontsnap. Dit neem ons na 'n wêreld wat meer interessant en opwindend as ons s'n is. Die kosmiese stryd tussen goed en kwaad is vir ons aangrypend. Die epiese stryd tussen die helde van die Middel-aarde (Gandalf, Frodo en kie) en die donker magte van Sauron het lesers (en kykers) van “The Lord of the Rings” al vir meer as 'n halwe eeu gefassineer. Hoe meer bonatuurlik die vyand is, hoe meer skouspelagtig sal die oorwinning wees. Nog 'n rede waarom mense aangetrokke is tot ander wêrelde is omdat, soos die boek Prediker sê, God "die bewustheid van die ewigheid in die harte van die mense geplant het" (Pred. 3:11). Daar is iets in ons menslike natuur wat smag na iets hoër as die menslike ervaring ─ iets goddeliks. Die apostel Paulus het ook oor hierdie begeerte geskryf. Hy het geleer dat dit bloot was omdat ons leef in 'n wêreld geskep deur 'n bonatuurlike God. Die skepping getuig van 'n skepper en dus 'n bonatuurlike wêreld buite ons eie (Rom 1:18-23). Paulus sê selfs dat sulke begeertes so sterk is dat hulle net bewustelik onderdruk kan word. (vers 18). Tog kyk ons na die epiese verhale van die Bybel anders as na ons eie stories van die bonatuurlike in boeke, films of legendes. Daar is redes daarvoor en is nie net as gevolg van die gebrek aan spesiale effekte nie. Vir sommige mense is die Bybelse karakters alledaags of outyds. Hulle kom nie regtig dinamies of heldhaftig voor nie. Ons ken immers hul stories van kleins af danksy Sondagskool. Dan is daar ook 'n kulturele versperring. Ons vind dit moeilik om empatie te hê met ‘n eindelose optog van herders met grys baarde en mans in rokke, soos die figure wat die geboorte van Jesus elke Kersfees uitbeeld. Ek dink daar is selfs 'n belangriker rede waarom fantasie en wetenskapfiksieverhale by ons meer aanklank vind as die van die Bybel. Dit het te make met hoe ons geleer is om te dink oor die bonatuurlike wêreld van die Bybel. Wat ek deur die jare in kerke gehoor het, mis die punt nie net heeltemal nie ─ dit maak die bonatuurlike redelik vervelig. Selfs erger nog, die leringe van die Kerk stroop die onsigbare, bonatuurlike van al sy krag. Baie van wat Christene oor die onsigbare wêreld glo, is verkeerd. Engele het nie vlerke nie. (Gerubs tel nie hierin nie, hulle is nie engele nie en lyk meer dierlik. Engele het egter altyd ‘n menslike voorkoms). Demone het nie sterte en horings nie. Hulle is ook nie daar om ons te maak sondig nie (dit is maklik genoeg vir ons sonder hulle hulp). Alhoewel die Bybel demoniese besetenheid reg beskryf as iets verskrikliks, het die intelligente donker magte beter en meer slinkse dinge om te doen as om mense as handpoppe te gebruik. Boonop is engele en demone net pionne in die skaakspel. Die kerk praat egter nooit van die groot spelers en hul agenda nie. Die Gode Bestaan Regtig In die eerste hoofstuk het ek gevra of jy regtig glo wat die Bybel sê. Kom ons toets gou jou antwoord. Die Bybel sê dat God 'n taakmag van hemelse wesens het wat Sy besluite uitvoer. Dit word ook Sy hemelse raad, hemelse hof of vergadering van God genoem (Ps. 89:5-7; Dan. 7:10). Een van die duidelikste verse hieroor is Psalm 82:1. Die Lewende Bybel sê dit pragtig: "In die vergadering van die gode staan God op en gee sy uitspraak oor die gode:" Dit is beslis 'n skokkende vers as jy mooi daaroor dink. Ek was verbaas toe ek hierdie vers die eerste keer goed bekyk het. Maar hierdie Bybelvers is eintlik baie eenvoudig, dit beteken presies wat dit sê. Soos enige ander vers, moet Psalm 82:1 gelees word in die konteks van wat die Bybel op ander plekke sê, in hierdie geval wat die Bybel oor die gode sê en hoe hierdie term gedefinieer moet word. Die oorspronklike Hebreeuse woord vir "gode" is elohim. Die meeste van ons ken dit net as een van die name van God die Vader. Dit kan dus moeilik wees om die wyer betekenis van die woord te begryp. Die woord verwys na enige inwoner van die onsigbare geestelike wêreld. Daarom word hierdie woord vir God (Gen. 1:1), demone (Deut. 32:17) en oorlede mense in die hiernamaals gebruik (1 Sam. 28:13). Vir die Bybel is elke wese wat sonder ’n liggaam is en in die geesteswêreld bly, 'n elohim. Die Hebreeuse term het niks te doen met die spesifieke vermoëns en eienskappe wat net God het nie. Die Bybel onderskei God van alle ander gode op ander maniere, maar nie deur die woord elohim te gebruik nie. Byvoorbeeld, die Bybel beveel dat alle gode die God van die Bybel aanbid (Ps. 29:1). Hy is hulle Skepper en Koning (Ps. 95:3, 148:1-5). Psalm 89:7-8 sê: "Want wie is daar in die hemel wat met U vergelyk kan word, Here?" (1 Kon. 8:23; Ps. 97:9), "Want U Here is hoog verhewe bo die hele aarde; U is verhewe ver bo alle gode." Die skrywers van die Bybel is net te bly om dit duidelik te maak dat die God van Israel geen gelyke het nie ─ Hy is die God van die gode (Deut. 10:17; Ps. 136:2). Hierdie wesens in "die Raad van Heiliges" bestaan regtig. In die eerste hoofstuk het ek 'n gedeelte aangehaal waarin God met Sy hemelse raad vergader om die lot van koning Agab te besluit. Die lede van hierdie hemelse groep word in hierdie gedeelte, geeste genoem. As ons glo dat die geesteswêreld werklik bestaan en dat God en ander geestelike wesens wat Hy geskep het (soos engele byvoorbeeld) daar woon, dan moet ons ook erken dat God se bonatuurlike taakmag, soos in die verse hierbo en op baie ander plekke na verwys is, werklik bestaan. Andersins, is ons slegs besig om lippehulde te bring aan die geestelike realiteit. Aangesien die Bybel die lede van hierdie hemelse raad as geeste identifiseer, weet ons dat die gode nie net bloot beelde van klip of hout is nie. Standbeelde werk nie vir God in 'n hemelse raad nie. Dit is waar dat mense voorheen standbeelde gemaak het van die gode wat hulle aanbid het. Maar hulle het geweet dat beelde wat hulle met hulle eie hande gemaak het, niks kon doen nie. Hierdie handgemaakte afgode was net voorwerpe waarin die gode kon woon om offers te ontvang en wysheid aan hulle volgelinge te deel. Die gode is deur spesiale rituele in hierdie standbeelde verwelkom. Die Werk En Struktuur Van Die Hemelse Raad Die gode in Psalm 82 word in vers 6 die "seuns van die Allerhoogste [God]" genoem. Die "seuns van God" word 'n aantal kere in die Bybel genoem, gewoonlik in die teenwoordigheid van God (byvoorbeeld Job 1:6, 2:1). In Job 38:7 lees ons dat hulle geskep is voordat God die mens en die aarde geskep het. Dit is baie interressant. God noem hierdie geestelike wesens, Sy seuns. Hy het hulle gemaak, so logies word hulle in terme van 'familie' beskryf. Jy noem jou nageslag ook seuns en dogters,aangesien jy betrokke was met die skep van hulle. Maar God is nie net hulle Vader nie, Hy is ook hulle Koning. In die antieke wêreld het konings dikwels saam met hul uitgebreide families regeer. Koningskap was oorgedra aan die erfgename. Die regering was 'n familiebesigheid. God is heerser in Sy raad. Sy seuns is die volgende in rang gebaseer op hulle verhouding met Hom. Maar, soos ons later in hierdie boek sal teëkom, het iets gebeur ─ sommige van hierdie seuns het afvallig geword. Die seuns van God het ook self besluite geneem. Ons weet uit 1 Konings 22 (en baie ander gedeeltes) dat God se familiebesigheid interaksie met die geskiedenis van die mens behels. Toe God besluit het dat Agab se tyd verby was, kon Sy raad besluit hoe hy sou sterf. Benewens Psalms 82 en 1 Konings 22, word baie ander vergaderings van die hemelse raad in die Bybel beskryf. Sommige hiervan het die geskiedenis van hele koninkryke gevorm. In Daniël 4 lees ons dat Nebukadnésar, die koning van Babilon, deur God gestraf is ─ hy het tydelik mal geword. Hierdie oordeel was 'n besluit van God (Dan. 4:24) en die besluit van “die wat wag hou” (Dan. 4:17). “Die wat wag hou” is 'n term vir bo-aardse wesens wat deel uitmaak van God se hemelse raad. Hulle is so genoem omdat hulle altyd toesig hou oor die sake van die mensdom. Hulle slaap nooit nie. Hierdie Bybelse tonele van die hemelse raad vertel vir ons dat die hemelse wesens deel in God se regering. In sommige gevalle besluit God wat gaan gebeur, maar Hy laat Sy bonatuurlike verteenwoordigers toe om te besluit hoe dit gaan gebeur. Engele maak ook deel uit van God se raad. In die oorspronklike taal van die Bybel beteken die term engel eintlik boodskapper. So die woord engel is dus eintlik 'n werksbeskrywing. Engele dra boodskappe oor aan mense. Later in hierdie boek, sal ons meer leer oor engele en hul pligte, asook die pligte van God se ander raadslede. Waarom Is Dit Belangrik? Ek verbeel my jou reaksie klink nou so: "Fassinerend, ek het dit nog nooit in die Bybel gesien nie. Maar hoe is dit van toepassing op my, op my daaglikse lewe en op hoe my kerk funksioneer?". Die antwoord op hierdie vrae is dat al die feite in hierdie boek betrekking het met hoe ons God sien, waar ons in verhouding met Hom staan en wat ons doel op aarde is. Ek sluit voortaan elke hoofstuk af met 'n paragraaf soos hierdie, om die praktiese toepassings van elke hoofstuk te verduidelik. In hierdie hoofstuk het dit duidelik geword hoe God se kosmiese regering in die Bybel beskryf word, en daardeur het ons nuwe insigte oor God en ons verhouding met God opgedoen. Eerstens is God se hemelse familiebesigheid 'n voorbeeld van die verhouding tussen ons en God. Dit sal in die volgende hoofstukke duidelik word, maar hier is 'n voorbeeld: Jy mag wonder waarom God enigsins raad nodig het. God moet nie hulp nodig hê met enigiets nie, nie eens in die geestelike wêreld nie. Hy is immers God! Tog wys die Bybel duidelik dat God laer wesens gebruik om dinge gedoen te kry. Hy het nie hemelse raad nodig nie, maar Hy kies om dit te gebruik. Hy het ons dus ook nie nodig nie. Hy kan eenvoudig die evangelie hardop uit die hemel verkondig aan almal wat dit moet hoor en almal bemoedig om na Hom toe te kom. Hy kan mense oortuig om mekaar meer lief te hê deur Sy stem in hulle koppe te laat klink. Hy doen dit nie, maar in plaas daarvan gebruik hy mense ─ ek en jy ─ om die werk te doen. Tweedens, kan God vooraf bepaal wat gaan gebeur sodat alles gaan soos Hy dit wil hê, maar Hy doen dit nie. In die verhaal van koning Agab, laat God Sy hemelse assistente besluit hoe Sy wil gedoen moet word. Met ander woorde, Hy laat hulle toe om hul eie vrye wil te gebruik. Hieruit kan ons sien dat nie alles wat gebeur vooraf bestem is nie. En dit is nie net in die bonatuurlike wêreld waar nie ─ maar ook vir ons wêreld. In die Bybel het die onsigbare, bonatuurlike wêreld 'n spesifieke struktuur. God is die direkteur, en Sy familielede is diegene wat vir Hom werk. Hulle is deel van die direksie en neem deel aan hoe die besigheid bestuur word. Verbasend genoeg praat die Bybel ook so oor die mens. Sedert die begin in die tuin van Eden, het God die mens geskape om saam met Hom die aarde te regeer. God het vir Adam en Eva gesê, "Wees vrugbaar en word baie, vul die aarde en bring dit onder julle gesag" (Gen 1:28). Adam en Eva was die kinders van God ─ Sy aardse familie. God wou by hulle woon en hulle laat deelneem aan Sy plan om die hele aarde soos Eden te maak. Dit behoort vir die meeste lesers bekend te wees. Wat wel minder bekend sal wees, is dat Adam en Eva nie die enigste familielede in Eden was nie. Sy hemelse familie was ook daar. Eden was waar God gewoon het ─ waar God woon is waar Sy familie woon. Ons sien die hemel as 'n plek waar ons eendag saam met God en Sy engele as een groot familie sal woon. Dit was die oorspronklike plan, en so sal dit in die toekoms wees. Aan die einde van die Bybel lees ons dat die hemel aarde toe sal kom en dat die hele wêreld soos Eden sal wees (Op.21 - 22). Om ons eindbestemming te verstaan, moet ons teruggaan na die tyd toe God se twee families nog op dieselfde plek gewoon het. Ons moet teruggaan na die tuin van Eden. ________________ HOOFSTUK DRIE: Gewese en Toekomstige Konings Ons het nou 'n kort inleiding gehad tot God se hemelse raad ─ Sy onsigbare familie en taakmag. Daar is natuurlik baie meer daaraan ─ spesifiek hoe groot spelers soos Jesus en Satan in hierdie prentjie inpas. Maar voordat ons teruggaan na die onsigbare wêreld, moet ons eers leer om op 'n nuwe manier na onsself te kyk. Hoe God met Sy hemelse raad in die onsigbare wêreld regeer, is die voorbeeld vir Sy heerskappy op aarde ─ teoloë noem dit die Koninkryk van God. Dit het alles begin in Genesis, in die tuin van Eden. Eden: God Se Hoofkwartier Wat is die eerste ding wat by jou opkom wanneer jy "Tuin van Eden" hoor? Die meeste mense met wie ek gepraat het dink aan Adam en Eva. Eden was hulle tuiste. Dis waar God hulle geplaas het (Gen. 2:15-25). Maar Eden was ook God se tuiste. Esegiël noem dit dus "die tuin van God" (Eseg. 28:13; 31:8-9), wat vir ons geen verrassing is nie. Wat wel verbasend is, is dat Esegiël ook Eden "die heilige berg van God" noem (Eseg. 28:14). In baie antieke godsdienste word luukse tuine en ontoeganklike berge beskou as plekke waar die gode gewoon het. Die Bybel beskryf Eden op beide maniere. Eden was God se huis en, daarom, die plek waar Hy Sy sake gereël het. Dit was Sy hoofkwartier. En waar God is, daar is Sy hemelse raad. God Se Beelde Een van die belangrikste verse in die Bybel wys vir ons dat beide God en Sy raad in Eden was. In Genesis 1:26 sê God, "Laat ons mense maak wat ons beeld is" AFR53 (eie beklemtoning bygevoeg). God het dit aan ‘n groep duidelik gemaak wat Sy bedoelings was. Met wie praat Hy? Sy hemelse leër ─ Sy raad. Hy praat nie met die ander lede van die Drie-eenheid nie, want God kan nie iets weet wat hulle nie ken nie! Hier word die groep met wie God praat eintlik vertel wat God besluit het om te doen. Dié tipe kommunikasie is nie moeilik om te verstaan nie. Dit is dieselfde as wat ek vir my vriende sê, "Kom ons kry pizza!". Duidelik genoeg. Maar ons moet een ding nie miskyk nie. God betrek nie die groep in die proses om Sy plan te volbring nie. Anders as die ander vergaderings van die Hemelse Raad, is die lede van God se hof nie by hierdie besluit betrokke nie. Wanneer die mensdom geskape word, lees ons vervolgens dat God die enigste een is wat die werk doen (Gen. 1:27). Terug na my pizza-vergelyking : Ek het voorgestel dat ons pizza gaan kry, maar as ek die bestuurder is en die rekening vir almal betaal, is ek uiteindelik die een wat al die werk gedoen het. En dit is wat ons hier sien. Dit maak sin dat God die enigste een is wat die mense maak. Die hemelse wesens van Sy raad het nie hierdie krag nie. Maar dit bring nog 'n belangrike punt na vore. In Genesis 1:27 word mense na die beeld van God geskape ("God het die mens na Sy beeld geskape," eie beklemtoning bygevoeg). Wat het geword van “ons beeld” van vers 26? Eintlik het niks gebeur nie. Die verandering van 'ons’ gelykenis na 'Sy’ gelykenis in Genesis 1:26-27 wys vir ons iets fassinerends. God se stelling, "Laat ons mense maak wat ons beeld is," beteken dat Hy en diegene met wie Hy praat iets in gemeen het. Wat dit ook al is, mense deel dit ook sodra hulle deur God geskape is. In sommige opsigte is ons nie net soos God nie, maar ook soos die goddelike wesens van Sy raad. Wat ons met hulle deel, word duidelik gemaak met die frase "na ons beeld." 'n Beter vertaling van Genesis 1:26 sou wees dat die mens gemaak word ‘as’ ons beeld. Om mens te wees beteken om 'n afbeelding van God te wees. Ons is God se verteenwoordigers by wyse van spreke. Om God se beeld te wees is nie 'n vermoë wat jy van God ontvang het, soos byvoorbeeld intelligensie, nie. Ons kan vermoëns verloor. Maar ons kan nie ons status as God se beeld verloor nie. Dit sou beteken dat ons nie meer ‘n mens is nie. Elke mens, van bevrugting tot die dood, sal altyd menslik wees en dus altyd God se beeld. Daarom is elke menslike lewe heilig. Hoe verteenwoordig ons God? In die vorige hoofstuk het ons gesien dat God sy gesag met die hemelse wesens van Sy onsigbare taakmag deel. Hy doen dieselfde met die mens op aarde. God is die hoogste koning van die sigbare en die onsigbare. Hy deel daardie heerskappy met Sy familie in die geestelike en in die menslike wêreld. Ons is hier om deel te neem aan God se plan, om die hele wêreld te maak soos Hy dit wil hê en om dit saam met Hom te kan geniet. Uiteindelik het God self gewys hoe om dit te doen. Niemand kan God beter verteenwoordig as Jesus nie. Jesus word die beeld van die onsigbare God genoem (Kol. 1:15; Heb. 1:3). Daarom moet ons Jesus as voorbeeld neem (Rom. 8:29; 2 Kor. 3:18). Twee Rade, Een Doel Ek hoop jy sien watter punt ek hiermee wil maak. Mense is in werklikheid God se regering ─ Sy raad ─ op aarde. Ons is gemaak om saam met Sy hemelse familie in God se teenwoordigheid te woon. Ons was gemaak om God vir ewig te geniet en Hom te dien. Die oorspronklike idee was dat dit ook op aarde sou plaasvind. Eden was waar hemel en aarde oorvleuel het. God en Sy raadslede saam met die hele mensdom op dieselfde plek. Maar vir watter doel? God het vir Adam en Eva gesê, "Wees vrugbaar en vermeerder, vul die aarde en bring dit onder julle gesag" (Gen. 1:28). Dit was die taak gegee vir God se beelde. Hulle sou God dien as rentmeester-konings van Sy skepping. Dit was die mens se taak om oor die aarde te versprei en Eden regoor die aarde uit te brei ─ en sodoende God se Koninkryk te versprei. Hierdie taak was te groot vir net twee mense, en daarom wou God hê dat Adam en Eva kinders moes hê. Soos ons reeds weet, het Adam en Eva en hulle nageslag misluk. Die mensdom het gesondig. As dit nie gebeur het nie, sou die hele aarde geleidelik in ‘n wêreldwye Eden verander het. Ons sou vir ewig op 'n perfekte planeet woon, saam met God en Sy hemelse familie. God het die mens liefgehad, daarom het Hy Adam en Eva vergewe. Maar die res van die mensdom was van daardie punt af bestem om te volg in die voetspore van Adam en Eva. Ons almal sondig en daarom verdien ons almal die dood sonder dat God ingegryp het (Rom. 6:23). Ons is sterflik en, daarom, sondaars. Ons het redding nodig. Die idee dat God wil hê ons moet by Sy hemelse familie aansluit om deel te wees van Sy raad en in Sy teenwoordigheid leef, help ons om sommige ongelooflike dinge oor die Bybel te verstaan. Dit verduidelik waarom gelowiges in die Bybel "kinders van God" genoem word (Joh. 1:12; 11:52; Gal. 3:26; 1 Joh.3:1-3). Dit verduidelik waarom ons beskryf is as "aangenome" kinders in God se familie. Dit verduidelik waarom ons as “erfgename” van God en Sy Koninkryk beskryf word (Gal. 4:5-7; Rom. 8:14-16; Tit. 3:7; Jak. 2:5) en deelnemers aan sy "Goddelike natuur" (2 Petr. 1:4; sien ook 1 Joh. 3:2). Dit verduidelik waarom, na Jesus se terugkeer, Hy aan gelowiges sê "elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek laat eet van die boom van die lewe wat in God se paradys staan." (Op. 2:7). Dit verduidelik waarom Hy belowe om saam met ons oor die nasies te regeer (Op. 2:26-28), selfs van Sy eie troon (Op. 3:21). Ons beweeg vorentoe deur die lewe, terug na ‘n tyd soos dit in Eden was. Die hemel sal terugkeer na die aarde. Dit is hoe ons lewe in die hiernamaals sal wees ─ in 'n nuwe globale Eden. Ons sal ervaar waaraan Adam en Eva oorspronklik sou werk. Die ewige lewe beteken nie om 'n harp te speel en 24 uur per dag liedjies te sing nie. Dit gaan oor die ontdekking en geniet van God se onbesoedelde en ondenkbare skepping, saam met God, die opgestane Jesus en ons mede-beelde van God, menslik en bonatuurlik. Waarom Is Dit Belangrik? Aanvanklik lyk dit miskien nie so nie, maar baie lewensveranderende idees kom hier uit. Om te leef met die idee dat ons God in ons daaglikse lewens verteenwoordig en Sy plan sal voortsit ─ selfs al sien ons nie nou daardie plan nie ─ sal die manier waarop ons elke nuwe dag benader, verander. God se oorspronklike plan was om die hele aarde soos Eden te maak. God wou hê mense moes deelneem aan die verspreiding van Sy goeie Heerskappy, vanuit Eden na die res van die aarde. Hy het vir Adam en Eva gesê om kinders te hê om heer en rentmeester van die Skepping te wees (Gen. 1:26-28). Hierdie opdrag is nie na die Sondeval vergeet nie. In werklikheid is hierdie opdrag herhaal na die verskriklike gebeurtenis van Die Vloed (Gen. 8:17; 9:1). Al was Eden verlore, wil God dit steeds herstel. Uiteindelik sal Sy Heerskappy ─ Sy Koninkryk ─ in volle heerlikheid terugkeer wanneer Jesus terugkom en God die nuwe hemel en aarde (wat snaaks genoeg, volgens Openbaring 21 en 22 soos Eden lyk) maak. Intussen kan ons die waarheid oor God en die evangelie van Jesus versprei. Ons is God se manier om Eden hier en nou te herstel en ons wag op die dag waarop Jesus dit sal voltooi. Om daarvan bewus te wees dat ons God se verteenwoordigers ─ Sy beelde ─ is beteken dat ons keuses belangrik is. Christene, mense oor wie die sonde nie meer mag het nie, kan God se plan volbring met die hulp van die Heilige Gees. Ons is op aarde om te wys hoe mooi die lewe met God is en die evangelie met ander te deel, sodat hulle ook so 'n lewe kan geniet. Ons paaie kruis dié van baie ander. Dit beteken dat ons baie mense kan beïnvloed, wat weer op hulle beurt 'n goeie invloed op ander kan hê. Ons is óf 'n voorbeeld van 'n lewe met God óf sonder God, daar is geen middelweg nie. Noudat ons weet dat elke mens as 'n beeld van God gemaak is, moet ons elke lewe as heilig sien. Dit strek verder as die groot etiese besluite oor lewe en dood. Wat ons geleer het, het ‘n groot invloed op hoe ons na mekaar kyk en hoe ons met mekaar betrekking het. Daar is geen ruimte vir rassisme in God se wêreld nie. Onregverdigheid en om God te weerspieël, gaan nie hand aan hand nie. Die misbruik van krag ─ by die werk, huis of in die regering ─ is goddeloos. Dit is nie hoe God sy kinders in Eden hanteer het nie, en daarom moet ons ons naaste mede-beelde nie so behandel nie. Ten slotte, om God te verteenwoordig beteken dat enige werk wat Hom eer, 'n geestelike roeping is. Enige wettige taak kan bydra tot die verspreiding van Eden en tot seën vir ander wees ─ of nie. Vir God is iemand wat in voltydse bediening werk, nie meer heilig of meer spesiaal as iemand in 'n sekulêre werk nie. Waaroor God omgee, is hoe ons Hom verteenwoordig, waar ons ook al is. Of ons veg teen die duisternis en deel die lewe wat God met almal wil deel, of nie. Die geleenthede hoef nie skouspelagtig te wees nie, solank ons van hulle gebruik maak. God se plan met Eden, so skouspelagtig soos dit was, het nie lank geduur nie. Slegs God is volmaak. Vryheid in die hande van onvolmaakte wesens ─ selfs hemelse wesens ─ kan rampspoedige gevolge hê. ________________ HOOFSTUK VIER: Bonatuurlike rebellie Die vorige hoofstuk het geëindig met die stelling dat vrye wil in die hande van onvolmaakte wesens, rampspoedige gevolge kan hê. Dit is lig gestel. Sommige katastrofes uit die vroeë hoofstukke van die Bybel wys dit duidelik, en in alle gevalle is menslike en bonatuurlike wesens daarby betrokke. Onthou, God het besluit om Sy gesag met hemelse wesens in die bonatuurlike wêreld en met mense op aarde te deel. Ons kan dit uit die volgende sien: God het gesê, "Laat ons mense na ons beeld maak" (Gen. 1:26, eie beklemtoning bygevoeg) en Hy het hulle uiteindelik in Sy beeld geskape. Hemelse magte en mense is albei uitbeeldings van God. Albei deel in Sy gesag en verteenwoordig Hom as mede-heersers. Aan die een kant was dit 'n wonderlike besluit van God. Om soos God te lyk, kan nie sonder vrye wil gedoen word nie. Daarsonder sou ons nie soos God kon wees nie. Sonder vrye wil is liefde en selfopoffering nie moontlik nie. As jy bloot geprogrammeer was om iemand lief te hê, is daar geen keuse daaragter nie. Vooraf geprogrammeerde woorde en aksies is nie werklik nie. Dit herinner my aan die toneel uit die Star Wars-fliek Return of the Jedi: Wanneer Obiwan Kenobi met Luke Skywalker praat oor Darth Vader sê hy, "Hy is nou meer masjien as mens". Dit blyk egter nie heeltemal waar te wees nie. Darth Vader red Luke ten koste van sy eie lewe. Hy was nie net 'n vooraf geprogrammeerde robot nie, hy het gekies om hom te red. 'n Keuse uit sy hart, uit sy menslikheid ─ sy eie vrye wil. Maar daar is ook 'n nadeel aan God se keuse om ons vrye wil te gee. As intelligente wesens vry wil wees, beteken dit ook dat hulle verkeerde keuses kan maak en selfs kies om te rebelleer. Dit is gewaarborg om verkeerd te gaan, aangesien God die enigste een is wat volmaak is. Hy is die enigste een wat Hy werklik kan vertrou. Daarom kon, en het, alles in Eden verkeerd geloop. Probleme In Die Paradys Dink terug aan Eden. Adam en Eva was nie alleen daar nie. God was daar met Sy raad. Eden is die hemelse/menslike hoofkwartier om die aarde te “onderwerp” deur die res van die aarde te vul en soos Eden te maak (Gen. 1:26-28). Maar een persoon in God se hemelse raad was nie gelukkig met hierdie plan nie. Soos in Genesis 1, vind ons ook leidrade in Genesis 3 dat daar ander bonatuurlike wesens in Eden is. In vers 22, nadat Adam en Eva gesondig het, het God gesê, "Nou het die mens gelyk geword aan ons, nou het Hy kennis van goed en kwaad." Hieruit kan ons dieselfde afleiding maak as wat ons in Genesis 1:26 ("ons gelykenis") lees . Ons weet dat die hoofkarakter van Genesis 3, die Slang, nie regtig 'n slang was nie. Hy was nie eintlik ‘n dier nie. 'n Hok in 'n dieretuin sou hom nie gekeer het nie. Hy was 'n bonatuurlike wese. Openbaring 12:9 identifiseer hom as die Duiwel of Satan. Sommige Christene neem aan dat Openbaring 12:7-12 gaan oor engele wat kort na die skepping in opstand gekom het: Daar het toe oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en die engele onder sy beheer het oorlog gemaak teen die draak. Die draak en die engele onder sy beheer het aan die oorlog deelgeneem, maar hy is verslaan. In die hemel was daar geen plek meer vir die draak en die engele onder sy beheer te vind nie. Die reuse draak is uitgegooi, dit is die slang van die oertyd wat ook die duiwel en Satan genoem word, en wat die hele bewoonde wêreld verlei. Hy is op die aarde neergegooi, asook sy bose engele saam met hom. (Op. 12:7-9) Maar die oorlog wat daar beskryf word, is eintlik geassosieer met die geboorte van die Messias : 'Sy stert het ’n derde van die sterre van die hemel meegesleur en hulle op die aarde neergegooi. Die draak het reg voor die vrou wat op die punt was om geboorte te skenk, gaan staan om wanneer sy geboorte skenk, haar kind op te vreet. Sy het geboorte geskenk aan ’n manlike kind, wat al die nasies met ’n ysterstaf sal beheer. Haar kind is weggeruk van die draak af, na God en na Sy troon toe. Toe het ek ’n kragtige stem in die hemel hoor sê: “Nou het die verlossing en die krag en die koninklike heerskappy van ons God aangebreek, asook die mag van sy Christus. Die aanklaer van ons medegelowiges is neergegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.' (Op.12:4-5, 10) Nêrens in die Bybel staan daar dat voor die gebeure in Eden, enige van Sy beelde ─ hemels of menslik ─ teen God gerebelleer het nie. Omstandighede het egter drasties verander in Genesis 3. Die slang se misdaad was om uit vrye wil te kies om God se gesag te verwerp. God het bepaal dat Adam en Eva by die familiebesigheid sou aansluit. Hulle sou die hele aarde soos Eden maak. Maar die vyand wou hulle nie daar hê nie. Hy het die plek van God self geneem en by homself gedink,”Ek sal na die hemel toe opklim en my troon bo God se sterre neersit. Ek sal regeer op die godeberg ver in die noorde.” (Jes. 14:13) Hy het ‘n wrede ontnugtering gehad. Aangesien die Slang se besluit Adam en Eva mislei het, was hy self uit God se huis verdryf (Eseg. 28:14-16) en na die aarde verban ─ neergewerp in die gebied van die dode (Jes. 14:11-12) ─ die plek waar die dood heers, waar die ewige lewe nie is nie. In plaas daarvan om heerser van die lewe te wees, het hy heerser van die dood geword. Dit beteken dat hy 'n wettige aanspraak op die mensdom het aangesien mense sedert die gebeure in Eden nie meer 'n aardse ewige lewe het nie. Om die ewige lewe saam met God in ‘n nuwe Eden te hê, moes die mensdom eers verlos word. Die gevolge van die sondeval was 'n reeks opeenvolgende vloeke. Die vloek vir die Slang het ook 'n profesie bevat. God het gesê dat die afstammelinge van Eva en dié van die Slang in stryd sou wees: "Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”(Gen. 3:15). Wie is Eva se nageslag? Die mensdom! Maar wie is die nageslag van die Slang? Dit is egter 'n bietjie meer abstrak. Johannes die apostel gee vir ons 'n paar voorbeelde ─ soos die Joodse leiers. "Julle vader is die duiwel," sê Jesus vir hulle (Joh. 8:44). Hy het ook Judas die verraaier, 'n duiwel genoem (Joh. 6:70). Die slang se nageslag bevat almal wat God se plan wil dwarsboom. Die Bose Nageslagte Na Eden het dit nie lank gevat vir nog probleme om te ontstaan nie. Een van Adam en Eva se kinders het 'n moordenaar geword. Kain het Abel vermoor en so gewys dat hy "uit die bose was" (1 Joh. 3:12). Soos die bevolking van mense gegroei het, so ook het die boosheid (Gen. 6:5). Wat volg is nog 'n oortreding van bonatuurlike wesens, een wat ons nie dikwels van hoor in die kerk nie, maar wat 'n groot impak gehad het op die verspreiding van boosheid op die aarde. Hierdie keer was daar meer as een rebel. Die besmetting van die aarde met boosheid, wat deur die mensdom in Gen 6:5 versprei word, het te make met die verhaal in Gen 6:1-4 van die seuns van God wat hulle eie aardse kinders, die Nefilim, gewek het. In Genesis word daar min oor hierdie gebeurtenis beskryf, maar ons kan meer daaroor lees in tradisionele Joodse geskrifte sowel as in ander dele van die Bybel. Die skrywers van die Nuwe Testament was bekend met die Joodse tradisies en haal dit aan in hulle werk. Judas en Petrus skryf byvoorbeeld oor engele wat voor die vloed gesondig het (2 Petr. 2:4-6; Jud. 5-6). Sommige van die dinge wat hulle sê kom uit Joodse bronne buite die Bybel. Petrus en Judas skryf dat die seuns van God wat gesondig het, gevange gehou word onder die aarde ─ met ander woorde, hulle moet hul tyd in die hel uitdien ─ tot op die dag van die finale oordeel. Hierdie dag van finale oordeel word in die Bybel ook "die Dag van die Here" genoem. Bybel kenners en geleerdes is bekend met die bronne wat Petrus en Judas hier aangehaal het. Een van hierdie bronne staan bekend as die "Eerste Boek van Henog", of 1 Henog. Hierdie boek was baie gewild onder Jode in die tyd van Jesus en onder Christene in die vroeë kerk. Hierdie boek het egter nie dieselfde status as Bybelse boeke gehad nie, dit is nie gesien as 'n heilige en God-geïnspireerde boek nie, maar Petrus en Judas het die inhoud van 1 Henog belangrik genoeg beskou om dit in hul briewe aan te haal. Hierdie bronne spekuleer dat God se seuns óf die mensdom wou “help” deur hulle hemelse kennis te gee, maar uiteindelik self van die reguit pad af gedwaal het, óf dat hulle God wou naboots deur iets in hulle eie beeld te maak. Hulle verduidelik ook die oorsprong van demone. Demone is die verlate geeste van die Nefilim wat voor en tydens die vloed gesterf het. Hulle dwaal op die aarde en teister mense terwyl hulle soek na 'n liggaam om te bewoon. In die boeke ná Genesis word die afstammelinge van die Nefilim in Gen 6:1-4 ook die Enakiete of Refaïete genoem (Num. 13:32-33; Deut. 2:10-11). Sommige van hierdie Refaïete verskyn in die koninkryk van die dood (Jes. 14:9-11) waarna die Slang verban was. In die Nuwe Testament word hierdie plek later "hel" genoem. Hierdie idees wys vir ons dat die vroeë Joodse skrywers die erns van die saak van Gen 6:1-4 verstaan het. Die seuns van God wou Eden, waar die goddelike en die aardse saamleef, op hulle eie manier herformuleer. Soos die heel eerste rebel, die Slang, het hulle gedink hulle het beter as God geweet wat op die aarde moes gebeur. Om God se plan vir die herstel van die aarde in jou eie hande te plaas, sal dinge net vererger. Die gebeurtenis van Genesis 6:1-4 is meer as 'n beskrywing van wesens wat in die voetspore van die Slang volg. Dit is 'n voorsmaak van wat moet kom. In die tyd van Moses en Josua, toe die Jode die Beloofde Land binnegegaan het, het hulle in konflik met verskeie stamme gekom. Sommige van hierdie stamme het uit reuse bestaan (Deut. 2-3) en hierdie reuse stamme het verskillende name gehad. In Numeri 13:32-33 word hulle Enakiete genoem en word beskryf as afstammelinge van die Nefilim, afstammelinge van die seuns van God uit Genesis 6:1-4. Die Ou Testament vertel vir ons hoe die Israeliete, reuse krygers geveg het tot Dawid se tyd. Hy het Goliat (1 Sam. 17) verslaan en van die helde van Dawid se leër het die broers van Goliat doodgemaak, wat die einde van die Nefilim was (2 Sam. 21:15-22). Waarom Is Dit Belangrik? Die profetiese vloek oor die Slang, en die bonatuurlike oortredings wat gevolg het, is die vroeë beginsels van wat teoloë "geestelike oorlogvoering" noem ─ die stryd tussen goed en kwaad, 'n oorlog teen God en Sy volk. Dis 'n oorlog geveg op twee gebiede: die sigbare en die onsigbare wêreld. So vreemd soos hierdie verhale klink, het hulle 'n belangrike boodskap: God het bonatuurlike teëstanders gehad toe dit by die lot van die mensdom gekom het. Hierdie teëstanders is vandag nog daar. Opposisie teenoor God se wil vir die aarde en mensdom is lewendig en gesond, in die geestelike wêreld en onder die mense. God se plan vir die hereniging van hemel en aarde is vasgestel. Die vyandige magte se inmenging sal nie ongestraf bly nie. Die mensdom is te waardevol vir God en Sy plan vir Sy menslike familie sal nie omgekeer of verander word nie. Hierdie gedeeltes het ook 'n positiewe boodskap. Alhoewel hierdie lang stryd teruggevoer kan word na die oomblik toe God besluit het om beelde te skep ─ menslik en goddelik, wesens met vrye wil ─ is God self nie die oorsaak van boosheid nie. Nêrens in die Bybel vind ons dat God Sy skeppings aanmoedig tot ongehoorsaamheid, of dat hulle ongehoorsaamheid vooraf bepaal is nie. Die feit dat God weet wat in die toekoms gaan gebeur, beteken nie dat dit bestem is om te gebeur nie. Dit word duidelik in verskeie tekste gestel, waarvan 1 Samuel 23:1-14 'n voorbeeld is. In hierdie verhaal, het Dawid die stad Keïla van die Filistyne bevry. Na hierdie geveg, het Saul uitgevind dat Dawid in Keïla was. Saul het gevrees dat Dawid hom sou onttroon en daarom het hy sy leër na Keïla gestuur. Toe Dawid hoor van Saul se plan, vra hy God: Dawid het gebid: “O Here, God van Israel, ek, u dienaar, het gehoor dat Saul kom om Keïla te vernietig omdat ek hier is. Sal die inwoners van Keïla my aan hom uitlewer? En sal Saul regtig kom soos ek verneem het? Here, God van Israel, sê my, asseblief.” Die Here antwoord hom: “Ja, hy sal kom.” Dawid vra weer: “Sal hierdie inwoners van Keïla my en my mense aan Saul uitlewer?” En die Here antwoord: “Ja, hulle sal jou verraai.” (1 Sam. 23:11-12). Dawid het gedoen wat enige een van ons sou doen ─ hy het so vinnig as moontlik uit die stad gevlug. Hierdie verhaal wys dat selfs al weet God wat gaan gebeur, is hierdie gebeure nie vooraf bepaal om te gebeur nie. 1 Samuel 23 vertel van twee gebeure waarvan God geweet het maar wat nooit plaasgevind het nie. Voorkennis beteken nie dieselfde as predestinasie nie. Op hierdie manier moet ons ook na die sondeval kyk. God het geweet dat Adam en Eva sou sondig. Hy was nie verbaas nie. Hy weet van alles wat kan en sal gebeur. Die feit dat God deur die keuses van mense en hemelse magte geweet het dat rebellie en boosheid in die wêreld sou kom, beteken nie dat Hy die oorsaak van boosheid is nie. Dit is hoe ons moet kyk na die boosheid wat ons vandag sien. God het die val voorspel en was dus gereed met 'n plan om dit reg te stel. Hy het ook geweet dat ons as sondaars gebore sou word en keer op keer misluk. Hy het dit egter nie vir ons bestem om te misluk nie. Wanneer ons sondig, is ons daarvoor verantwoordelik. Ons sondig omdat ons so kies. Ons kan nie sê dat dit God se plan was of dat ons geen keuse in die saak gehad het nie. Maar God het ons so liefgehad dat "Christus het vir ons gesterf toe ons sondaars was" (Rom. 5:6-8). God het ons so liefgehad ten spyte daarvan dat Hy van alles geweet het wat ons sou doen. Hy het ons nie net die vryheid gegee om te sondig nie, maar Hy het ons ook die vryheid gegee om in die goeie nuus van Jesus te glo. God weet ─ net soos ons ─ dat slegte dinge met goeie mense gebeur, selfs met Christene. Boosheid is in die wêreld omdat mense (en bonatuurlike wesens) die vryheid het om kwaad te doen. Ons God is nie 'n bose, verwronge god wat aaklige dinge bestem het nie, en Hy het ook nie nodig vir verskriklike misdade en sondes om te gebeur vir 'n groter onderliggende plan om suksesvol te wees nie. God het nie boosheid nodig nie! Sy planne sal uitgevoer word ten spyte van boosheid ─ en boosheid sal oorwin en veroordeel word. Ons wonder dikwels waarom God nie net alle ellende op aarde beëindig nie. As God 'n einde sou maak aan alle boosheid in die wêreld, sou dit ook beteken dat Hy 'n einde sou moes maak aan Sy aardse en hemelse beelde, die onvolmaakte wesens. Die probleem van boosheid sal dan opgelos wees, maar dit sou beteken dat God se oorspronklike plan, om aardse en goddelike wesens te skep en saam met hulle te heers, 'n ernstige fout was. Maar God maak nie foute nie. Ons mag ook wens dat God nooit vrye wil aan die mens gegee het nie. As Hy nie het nie, sou ons sinnelose slawe of vooraf geprogrammeerde robotte wees. Dit is die enigste alternatief tot vrye wil. Aangesien vrye wil 'n eienskap is wat ons met God deel, kan ons nie Sy beeld wees sonder vrye wil nie. God is nie 'n robot nie. Hy het ons soos Hom gemaak, en dit was ook nie 'n fout nie. God het die mensdom te veel liefgehad om die alternatief te kies. Dit is waarom Hy 'n plan beraam het, na die sondeval, om die mensdom te red, Eden te vernuwe en elke traan weg te vee (Op. 7:17; 21:4). Volgende kyk ons na die lang stryd teen God. God het 'n strategie vir hierdie stryd. Maar eers gaan dinge erger word voor Hy sy eerste skuif maak. ________________ HOOFSTUK VYF: Kosmiese Geografie In die vorige hoofstuk het ons gekyk na die oortredinge en sondes van hemelse wesens. Hierdie rebellies was bonatuurlike rebellies gefokus daarop om God se heerskappy en Sy plan vir die mensdom oor te neem. In hierdie hoofstuk bespreek ons nog 'n opstand, 'n opstand deur die mens. Hierdie opstand het 'n nadelige situasie geskep, waarvan ons vandag nog deel is. Hierdie rebellie behels ook bonatuurlike wesens. God se plan vir herstel het van koers af gegaan en kon slegs reggestel word deur die koms van Jesus. Die Toring Van Babel Die verhaal van die Toring van Babel (Gen. 11:1-9) is gelyktydig een van die mees bekende en die minste verstaanbare verhale in die Bybel. Op Sondagskool leer kinders dat dit die oomblik was toe God verwarring gebring het onder die tale van die mense. Na die vloed herhaal God die opdrag wat Hy vir Adam en Eva gegee het om die hele aarde te vul. Op hierdie manier het Hy probeer om Sy plan te hervat om mense toe te laat om die aarde om sy onthalwe te regeer. Maar weereens het die mense geweier. Met weerstand in hul harte het hulle met 'n beter plan vorendag gekom. Altans, hulle het gedink dit was 'n beter plan. Hulle besluit om 'n toring te bou om te “keer dat ons oor die hele aarde verstrooi word” (Gen. 11:4). Die idee lyk vreemd. 'n Ongelooflike toring sou hulle wel beroemd maak, maar hoe sou dit verhoed dat hulle oor die aarde versprei word? Ons vind die antwoord in die toring. Bybelwetenskaplikes en argeoloë weet dat in antieke Babilon en in die omliggende stede is torings, genaamd ziggurats, gebou. Die doel van so 'n ziggurat was dat mense daar kontak met die gode kon maak. Dit was ‘n tempel-toring. In plaas daarvan om die hele wêreld soos Eden te maak ─ die kennis en heerskappy van God regoor die aarde versprei ─ wou die mense God op een plek hou. Dit was nie God se plan nie, en hy was nie gelukkig daarmee nie. Daarom het Hy vir die ander lede van Sy hemelse raad gesê, "Laat ons na hulle gaan en verwarring van spraak onder hulle skep, sodat hulle mekaar nie meer verstaan nie." (Gen. 11:7). God het dit gedoen, en so het die mensdom verdeeld en verspreid geword. Hierdie voorval verduidelik hoe die verskillende nasies van Genesis 10 ontstaan het. Dit is die storie wat die meeste Christene ken. Nou volg die deel wat die meeste nie weet nie. Die Gode En Hulle Volke Genesis 11 is nie die enigste hoofstuk in die Bybel wat die voorval van die toring van Babel beskryf nie. Deuteronomium 32:8-9 beskryf dit so : “Toe die Allerhoogste aan die nasies grondgebied toegeken het, het Hy die mensdom verdeel, en grense van volke bepaal volgens die aantal Israeliete. Want die volk Israel behoort aan die Here; Jakob is sy besondere eiendom.” Meeste Afrikaanse Bybelvertalings sê "seuns van Israel" of “Israeliete” in plaas van "seuns van God." Israel het egter glad nie bestaan tydens die tyd van die toring van Babel nie. God het Abraham eers ná Babel genader (Genesis 12). Dus kan "seuns van Israel" of “Israeliete” nie reg wees nie. "Seuns van God" is 'n term gevind in die Dooie See manuskripte, die oudste manuskripte wat ons van die Bybel het. Die bewoording is belangrik. Toe God die nasies onder die aarde verdeel het, het Hy hulle verdeel volgens die getal van die seuns van God. God het die nasies aan lede van Sy hemelse raad toegeken. Dit is die Bybelse antwoord op die vraag waarom ander nasies ander gode aanbid het. Tot en met die tyd van Babel wou God 'n verhouding met die hele mensdom gehad het. Maar die opstand by Babel het dit verander. Hy het die bestuur van hierdie nasies aan ander lede van Sy raad oorgelaat. God het die mensdom geoordeel. Selfs na die vloed sou hulle nie deelneem aan God se oorspronklike koninkryksplan nie. Dus het God besluit om Israel, Sy nuwe volk, Sy “erfdeel” te maak volgens Deut. 32:9. Hy het dit begin met die roeping van Abraham in Genesis 12, die hoofstuk wat onmiddellik na die verhaal van die Toring van Babel volg. God se toekenning van die nasies aan ander gode, is die raamwerk vir die res van die Ou Testament. Jy vra dalk hoe? Die res van die Ou Testament beskryf hoe die God van Israel en Sy volk in konflik is met ander gode en hulle volke. Dit was nie God se oorspronklike plan nie. God het wel die nasies tydens die Babel-voorval veroordeel, maar dit was nog nooit God se plan om die nasies vir ewig te verlaat nie. Toe God Sy verbond met Abraham gesluit het, het Hy gesê "In jou sal al die mense op die aarde geseën word" (Gen. 12:3). God was van plan om op ‘n sekere tyd alle nasies weer deel van Sy familie te maak. Paulus het dit ook geweet. In sy preek aan die heidense filosowe in Athene, het hy gesê: Uit een mens het Hy elke nasie van die mensdom gemaak, om oor die hele aarde te woon. Hy het die tye van hulle bestaan bepaal, en die grense van hulle blyplek. “God se doel met die nasies was om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Nie dat Hy ver van enigeen van ons af is nie. (Hand. 17:26-27) Deur middel van Moses het God Sy eie volk gewaarsku om nie "die hele leër van die hemel” te aanbid nie (Deut. 4:19-20, AFR53). Dieselfde term word vir die hemelse leërmag gebruik (1 Kon. 22:19). Hand 17:26-27 maak dit duidelik dat dit God se bedoeling was dat die nasies Hom steeds op een of ander manier sou najaag. Die gode wat oor ander nasies moes regeer, het egter op twee maniere ingemeng met hierdie plan. In Psalm 82:1 lees ons dat God die gode van Sy hemelse raad saam geroep het. Later in hierdie Psalm word dit duidelik waarom. Die gode het nie met geregtigheid oor die nasies regeer nie ─ in opposisie met die ware God se begeertes en beginsels van geregtigheid. God het hulle dadelik beskuldig toe die byeenkoms begin het, “Hoe lank nog sal julle onregverdige beslissings vel en die goddeloses bevoordeel?” (Ps. 82:2). Nadat God hulle verder vir hulle korrupsie berispe het, lees ons twee verse later dat hierdie gode nie probeer het om die nasies te help om hulle pad terug na God te vind nie: “Maar hulle weet nie en verstaan nie. Hulle lewe in duister terwyl die fondamente van die aarde skud” (Ps. 82:5). Ongelukkig het die Israeliete begin om ander gode te aanbid (Deut. 29:25; sien ook 32:17) in plaas daarvan om die ware God na te jaag. God se oordeel was kort en kwaai : “Ek het wel gesê: ‘Julle is gode, seuns van die Allerhoogste.’ Maar nee! Julle sal sterf soos ’n mens, soos enige maghebber sal julle val.” (Ps. 82:6-7) Die gode sou hulle onsterflikheid verloor (Ps. 82:7) en sterf soos mense. Uit ander gedeeltes weet ons dat hierdie straf met die eindtyd geassosieer word (Jes. 34:1-4). Aan die einde van Psalm 82 lees ons dat die skrywer uitsien na die dag wanneer alle nasies terug is by God se familie. Soos ons later sal sien, sal sy wens reeds in die Nuwe Testament vervul word. Die Deuteronomium 32 Wereldbeskouing As gevolg van die wêreldbeskouing wat Deuteronomium 32 skep, neem die geografie van die Bybel 'n kosmiese aanslag. Grond is óf heilig, dit wil sê, dit is afgesonder aan Jahweh, óf dit is die gebied van ‘n ander god. Hierdie wêreldbeskouing kan op baie plekke in die Bybel gesien word. Byvoorbeeld, die boek Daniël sê dat die ander lande regeer word deur goddelike “prinse” (Dan 10:13, 20-21). Nog 'n voorbeeld: toe Dawid van Koning Saul gevlug het, was hy gedwing om na Filistynse gebied te gaan. In 1 Samuel 26:19 sê Dawid “Want hulle het my uit my woonplek verdryf asof ek nie meer deel is van die volk van die Here nie. Hulle sê: ‘Gaan dien ander gode!’”. Dawid het beslis nie sy godsdiens verander nie en hy ontken ook nie dat God alomteenwoordig is nie. Israel was egter heilige grond, dit het aan die ware God behoort. Dawid was vasgevang in die domein van ander gode. My gunsteling gedeelte in die Bybel waarin dit duidelik na vore kom is 2 Konings 5. Naäman was 'n kaptein in die Aramese leër. Hy was ook ‘n melaatse. Nadat hy Elisa se instruksies gevolg het en homself sewe keer in die Jordaanrivier gewas het, is hy wonderbaarlik genees van sy melaatsheid. Naäman het vir Elisa gesê: “Nou weet ek dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel. Aanvaar asseblief my geskenk.” (2 Kon. 5:15). Die Profeet wou egter geen geskenk aanvaar nie, daarom het Naäman nederig gevra of hy sy esel met soveel grond as moontlik kon laai om huis toe te neem. Grond? Waarom het hy vir grond gevra? Want daardie grond het behoort aan die God van Israel. Dit was heilig. Dit is nie toevallig dat ons hierdie selfde idee in die Nuwe Testament sien nie. Paulus gebruik verskillende terme vir vyandige bonatuurlike wesens (Ef. 1:20–21; 3:10; 6:12; Kol. 2:15): heersers, owerhede, magte, trone. Wat het hierdie terme in gemeen? Hulle was almal bekende terme wat geografiese heerskappy beskryf. Die apostel Paulus het twee briewe aan die gemeente in Korinte geskryf om sekere probleme waarvan hy gehoor het aan te spreek. In die eerste brief het hy die leiers van die Kerk beveel om 'n man te verban wat nie wou bekeer van seksuele sondes nie (1 Kor. 5:1-13). Vreemd genoeg skryf hy dat hulle “hierdie man aan die Satan moet oorgee” (1 Kor. 5:5). Hoe maak hierdie woorde enige sin? Paulus se stelling maak net sin as jy die kosmiese-geografiese wêreldbeskouing van die Ou Testament insluit. In die teologie van die Ou Testament, was Jahweh se “deel” die volk van Israel sowel as die land Kanaän, wat Hy vir hulle gegee het. Sy teenwoordigheid het die grond geheilig. Oorspronklik was Sy teenwoordigheid woonagtig in die tabernakel. Wanneer die Israeliete gerus en hulle kamp opgestel het, was die verbondsark in die middel van die kamp geplaas, sodat Israel se kamp as heilige grond gemerk was. Later, toe die Israeliete Kanaän toe getrek het, was dit Yahweh se teenwoordigheid in die tempel wat nou die beloofde land in heilige grond verander het. Jahweh en Sy mense was tuis. Nou woon Jahweh se teenwoordigheid in gelowiges ─ ons is God se tempel (1 Kor. 6:19; 2 Kor. 6:16; Rom. 8:9). Dit beteken dat gelowiges, die liggaam van Christus, die nuwe volk van God is, ‘n nuwe Israel. Paulus maak dit duidelik in Galasiërs 3: “Julle moet dus insien: Die ware kinders van Abraham is hulle wat glo. Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo. Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal. Nou is daar nie langer sprake van Jood of Griek, slaaf of vryman, man of vrou nie; julle is tog almal één in Christus Jesus. Verder, omdat julle aan Christus behoort, ís julle die nageslag van Abraham en dus erfgename van die belofte!” (Gal. 3:7, 26–29). Aangesien gelowiges ─ en die plekke waar gelowiges vergader ─ heilige grond is, moet sonde verdryf word. Nes die grondgebied buite die Israeliete se kamp, en soos die omliggende lande wat onder die heerskappy van ander gode geval het, as onheilige grond gesien was, so, in die Nuwe Testament ─ en vandag nog ─ is die grond buite die plek waar gelowiges is of bymekaar kom dus onheilig. Daarom het Paulus beveel dat die man wat hom nie wou bekeer nie, aan Satan uitgelewer moet word. Om uit die kerk geskors te word, het beteken om terug op onheilige grond geplaas te word. Dit was waar sonde behoort het. Waarom Is Dit Belangrik? Hierdie kosmiese geografie, wat die resultaat is van God se oordeel oor die nasies by Babel, is die agtergrond van Israel se stryd. Dit is ook belangrik vir die Evangelie. Die goeie nuus van Jesus se werk aan die kruis is dat Jode nie meer die enigste mense van God is nie, alle gelowiges is nou! (Gal. 3). Wanneer dissipels uitgaan in die wêreld, word die domein van Satan omskep in die gebied van God. Die Koninkryk van God brei uit en herstel weer die beheer van die ander nasies. Die les is dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie. Duisternis het die aarde deurtrek. Ongelowiges word in wese eintlik gevange gehou deur bonatuurlike magte. Hulle het die evangelie nodig om bevry te word. Moet nie mislei word nie: die evangelie is ons wapen. Ons is nie die gesag gegee om die owerhede en magte van die duisternis direk te konfronteer nie. Daar is geen sulke tipe gawes van die Gees wat aan ons oorgedra is deur die apostels nie. Om getrou die evangelie te versprei, sal egter die gety verander. Die Groot Opdrag is 'n geestelike oorlogsplan. Ons sal in die komende hoofstukke meer hieroor leer. Nog 'n les is dat ons elke byeenkoms van ware gelowiges as heilige grond moet sien. Die uiterlike voorkoms van kerkgeboue of die grootte van die groep is nie vir God belangrik nie. Wat belangrik is, is dat Jesus teenwoordig is waar twee of meer saam is (Matt. 18:20). Die plek is heilig. Elke gemeente, hoe groot dit ookal is, is op die voorste linie in die geestelike stryd. Elke kerk het dieselfde taak en die magte van die duisternis sal nie seëvier nie. Ons sal later terugkeer na die idee van kosmiese geografie wanneer ons Jesus se bediening behandel. Vir nou, ten minste, is die strydlyne gemerk. Die nasies van die aarde word deur God veroordeel en onteien. Die tyd het vir Hom aangebreek om Sy eie mense weer te skep en oor te begin. ________________ HOOFSTUK SES: Die Woord, die Naam en die Engel In die laaste hoofstuk het ons geleer van die kosmiese geografie van die Bybel. In reaksie op die menslike opstand by die Toring van Babel, het God die nasies onteien. Hy het hulle onder die lede van Sy hemelse raad, die seuns van God, ingedeel (Deut. 32:8-9). Om die verwerpte nasies te vervang, sou Hy sy eie nasie skep. Hierdie volk sou nou aangestel wees om Sy Koninkryk op aarde te vernuwe. Hierdie taak was egter baie moeilik, gegewe dat die ander gode en die mense in hulle gebied gewelddadige vyande van Israel en God sou word. God se nuwe volk het begin met 'n man genaamd Abram, wie se naam Hy later na Abraham sou verander. Kort na die uitspraak by Babel, het God hom besoek. Abraham Ontmoet Die Woord Meeste Christene ken die verhaal in Genesis 12 van God wat Abraham besoek het. God het vir Abraham gesê om na 'n land te reis wat hy nog nooit tevore gesien het nie. God het belowe om hom te lei. Hy sou Abraham se God wees en maak spesiale beloftes in die vorm van 'n verbond. Hy sou verseker dat Abraham en Sara 'n seun kry, selfs al was hulle albei bejaard. Uit daardie seun sou baie nasies kom wat God se nuwe, aardse familie sou wees. Deur hulle sou alle nasies op aarde geseën word. Ons dink dikwels dat Abraham se ontmoeting met God 'n oomblik was toe hy 'n stem uit die hemel, of in sy kop, gehoor het. Dalk selfs in 'n droom. Dit is duidelik in die Bybel dat God dit wel gedoen het met verskeie profete en ander mense. Maar dit is nie wat met Abraham gebeur het nie. God het iets meer dramaties gedoen. God het gekom as 'n man. Hy en Abraham het van aangesig tot aangesig gesels.(Gen. 15:5). Ons sien tekens hiervan in Genesis 12:6-7. Die Bybel sê dat God aan Abraham verskyn het. Drie hoofstukke later verskyn God weer (Gen. 15:1-6 AFR83). Die keer verskyn God aan Abraham as “die woord van die Here” in ‘n visioen. Hierdie was nie ‘n stem in sy kop nie aangesien die “woord” Abraham na buite geneem het en hom die sterre gewys het om te illustreer dat sy nageslag ontelbaar sou wees (Gen.15:5) Op ander tye het God ook as 'n man aan Abraham verskyn (Gen. 18). Hy het dieselfde met sy beloofde seun Isak gedoen (Gen. 26:1-5) en aan Jakob, die seun van Isak (Gen. 28:10–22; 31:11–12; 32:24–30). Die stem of "woord" van God as 'n uitdrukking van God in menslike vorm word op onverwagte plekke in die Bybel aangetref. My gunsteling is in 1 Samuel 3. Een nag het die jong Samuel 'n stem gehoor wat sy naam verskeie kere geroep het. Eli, die priester saam met wie hy geleef en gewerk het, het uiteindelik besef dat dit God is. In vers 10 staan daar: “Die Here kom staan toe daar en roep soos die vorige kere: “Samuel, Samuel!” Ons weet dat dit God in menslike vorm was, want daar word beskryf dat God daar staan en aan die einde van die hoofstuk lees ons dat "die woord van God” van toe af weer aan Samuel verskyn het (1 Sam. 3:19-21 ABA Vertaling). Nog 'n profeet na wie "die woord van die Here" in menslike vorm gekom het, was Jeremia. In Jeremia 1, waar hy as profeet aangestel word, sê Jeremia dat "die woord van die Here" tot hom gekom het. Jeremia identifiseer die "woord" met God. Die Here het sy hand uitgesteek en aan sy lippe geraak (Jer. 1:1-9 AFR83). God In Menslike Vorm Lank voor die koms van Jesus van Nasaret, sien ons reeds in die Ou Testament 'n patroon van God wat in menslike vorm verskyn. As jy daaraan dink, maak dit eintlik sin. God verskil heeltemal van ons. Die Bybel herinner ons dat niemand God in Sy ware wese, Sy ware heerlikheid, kan sien en bly lewe nie. Toe Bybelse karakters God in fisiese vorm ontmoet, het hulle verwag om te sterf (Gen. 32:31; Deut. 5:24; Rig. 6:22–24). Maar hulle het nie, omdat God Sy teenwoordigheid gefiltreer het deur iets wat ons menslike psige kon verwerk ─ 'n vuur, 'n wolk en meer dikwels as wat Christene dit besef, 'n mens. In baie gevalle word God se voorkoms in menslike vorm beskryf as 'n ontmoeting met "die Engel van die Here." Hierdie engel is 'n bekende karakter. Hy verskyn byvoorbeeld aan Moses in die brandende bos (Eks.3:1–3). Die God in die bos het belowe om Moses te gebruik om Sy volk uit Egipte te lei. By Bet-El het God in 'n droom aan Jakob verskyn (Gen. 28:10–22), waar Hy as die Here (Jahweh) geïdentifiseer word. Later ontmoet Jakob weer die Engel van die Here in 'n droom waar Hy dit duidelik maak dat Hy dieselfde God was wat na hom by Bet-El gekom het. (Gen.31:11-12) Baie Bybelleraars is huiwerig om die Engel van die Here as God self te identifiseer. Daar is egter 'n hele aantal duidelike aanduidings dat hulle een en dieselfde is. Moontlik die belangrikste aanduiding hiervan gebeur kort nadat Moses die wette by God ontvang het. Terwyl die Israeliete voorberei vir die reis na die Beloofde Land, sê God vir Moses: “Kyk, Ek stuur 'n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die te bring wat Ek gereedgemaak het. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom. Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees.” (Eks. 23:20-22, AFR53). Dit is nie net ‘n normale engel nie. Hierdie Engel kan sondes vergewe (of besluit om dit nie te doen nie). Hierdie Engel het God se naam in Hom. Daardie uitdrukking is vreemd maar betekenisvol. Die "naam" word in die Ou Testament gebruik om na God self, Sy wese of Sy ware heerlikheid te verwys. Ons lees in Jesaja 30:27-28 (AFR53) byvoorbeeld dat die "Naam van die Here" beskryf word as ‘n persoon ─ God self: “KYK, die Naam van die Here kom van ver af, sy toorn brand, swaar wolke kom op; sy lippe is vol grimmigheid en sy tong soos 'n verterende vuur en sy asem soos 'n oorlopende stroom wat tot by die nek kom — om nasies te sif met 'n sif van vernietiging; en 'n toom wat verkeerd stuur, is in die kakebene van die volke.” Toegewyde Jode sê selfs vandag nog ha-shem ("die naam") as hulle van God praat. Nog 'n manier om seker te wees dat die Engel, God in menslike vorm was, is om Eksodus 23:20-22 met ander skrif gedeeltes te vergelyk. Die Engel in die brandende bos, die Engel met God se naam in Hom, het inderdaad die Israeliete uit Egipte na die Beloofde Land gelei (Rig. 2:1-3). Maar so ook het die Here (Jos. 24:17-18) en Sy teenwoordigheid (Deut. 4:37-38). Die Here, die teenwoordigheid en die Engel van die Here is verskillende maniere om na dieselfde figuur te verwys: God. Maar die Engel is menslik in vorm. “Toe seën hy vir Josef en sê: “Mag God, die God voor wie my oupa Abraham en my pa, Isak, geleef het, die God wat my versorg het my lewe lank tot vandag toe, en die Engel wat my uit alle gevaar gered het,... “ (Gen. 48:15-16): Dan, in vers 16, bid Jakob hierdie ongelooflike woorde: "mag Hy hierdie twee seuns seën. Mag Hy sorg dat my naam en die name van my oupa Abraham en my pa, Isak, in hulle voortleef. En mag hulle ’n groot nasie word." (eie beklemtoning bygevoeg). Hy sê nie "hulle gee hierdie seuns hulle seëninge". God en die Engel is nie twee verskillende mense nie, hy praat van hulle as een persoon in die gebed. Selfs meer verbysterend is die roeping van Gideon in Rigters 6. In daardie toneel is beide die Here en "die Engel van die Here" terselfdertyd teenwoordig (Rig. 6:22-23). Selfs in die Ou Testament, was God meer as een persoon, en een van hierdie persone het aarde toe gekom as 'n mens. Jesus: Die Woord, Die Naam En Die Engel Die beskrywings wat ons tot dusver vir God gebruik het, moet bekend klink ─ hulle is almal Ou Testamentiese weergawes van hoe die Nuwe Testament na Jesus verwys. Abraham het die Woord ontmoet, God in menslike vorm. In Johannes 1:1 skryf die apostel, "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God." In vers 14 sê Johannes "Die Woord het mens geword en by ons kom woon." Wanneer 'n Jood uit die eerste eeu die Evangelie van Johannes gelees het, sou hy of sy dadelik die verband maak dat God self gekom het as die Woord. Jesus het inderdaad beweer dat Abraham “uitgesien het na hierdie dag” en dat Hy lank voor Abraham bestaan het (Joh. 8:56–58). Moses het die Engel van die Here ontmoet, God in menslike vorm, in die brandende bos en daarna. Die Engel het die Israeliete uit Egipte gelei na die Beloofde Land. Judas het egter in sy brief geskryf dat Jesus die volk uit Egipte verlos het en die ontroue Israeliete vernietig het (Jud. 1:5). Die Engel was God in menslike vorm. Die Engel was die tweede persoon in die Drie-eenheid ─ en sou later uit die Maagd Maria gebore word. Die teenwoordigheid van God, die naam, het hierdie Engel van alle ander engele onderskei. By tye in die Nuwe Testament, praat Jesus soms van God die Vader as die Naam. In Sy gebed in Getsemane, net voor Hy in hegtenis geneem en later gekruisig is, bid Jesus, “Ek het u Naam bekendgemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle was U s’n en U het hulle aan My toevertrou en hulle het u boodskap gehoorsaam uitgevoer. Hulle besef nou dat alles wat U My gegee het van U af kom,... Ek het u Naam aan hulle bekendgemaak" (Joh. 17:6-7,26). Wat het daardie laaste stelling beteken? Jesus sê nie dat Hy mense laat weet het wat God se naam is nie. Hulle was Jode en het God se naam, Yahweh, geken. Hulle het die Ou Testament geken en kon God se naam in duisende verse naslaan. Wat Jesus bedoel het deur God se naam bekend te maak, is dat Hy God self aan die mense bekendgemaak het. Hy was God sigbaar vir die mense. Die Naam het mens geword. Waarom Is Dit Belangrik? Ons is nou ver genoeg in ons studie om te verstaan dat alle bekende Bybelverhale in 'n oorkoepelende konteks saam pas: die geestelike stryd in die bonatuurlike wêreld, die stryd tussen die gode. Met hierdie Bybelse siening van die bonatuurlike wêreld, sien ons dat God ernstige vyande het: ander gode wat eens getrou was aan Hom, maar op hulle eie pad gegaan het. Hierdie vyandige gode is die magte, heersers en owerhede waarvan Paulus praat (Ef. 6:12; Kol.1:16). Hulle bestaan nog steeds. Niks in die Nuwe Testament dui daarop dat hulle nie meer hier is nie. Hulle is steeds gekant teen God se heerskappy ─ en om die ewige versoening tussen God en mens, deur die Evangelie, te verhoed. Een van hierdie magte is die heerser van die dood. Hy het 'n wettige aanspraak op die mensdom, aangesien die misleiding van Adam en Eva gelei het tot die verlies van onsterflikheid. Sy doel was om Yahweh se mense uit te roei. Dit was ook wat die vyandige seuns van God in gedagte gehad het toe die Israeliete Kanaän binnegegaan het: moor of word vermoor om te verhoed dat God se mense die land in besit neem. Toe die Israeliete eers in die land was, het die strategie verander: verlei God se volk om ander gode te aanbid sodat Yahweh hulle sou vernietig. Dit is toe ook wat gebeur het. God het Sy mense in ballingskap gestuur. Die magte van die duisternis was egter bewus daarvan dat Yahweh nie net Sy plan sommer sou prysgee nie. Die vloek wat op die Slang geplaas is, het voorspel dat 'n afstammeling van Eva eendag sou kom wat die effek van die mens se mislukking sou omkeer. Hulle het geweet dat die beloofde een wel sou kom ─ selfs al, soos Paulus sê, het hulle nie presies geweet het hoe alles sou plaasvind nie (1 Kor. 2:6–8; Ef. 3:9-11; Ef. 6:12). Dit was 'n raaisel, doelbewus weggesteek deur die Allerhoogste. ________________ HOOFSTUK SEWE: Reëls van die Geveg Ons storie tot dusver: God het die nasies by Babel onteien. Die mindere gode onder wie hulle verdeel was, sou van nou af oor hulle heers (Deut. 32:8-9). Toe God oorbegin het met Abraham, was dit duidelik dat Hy van plan was om eendag alle nasies terug te bring deur Israel se invloed (Gen 12:3). Maar die gode van die ander nasies sou nie net hulle eer en mag prysgee nie (Ps. 82:6-8). Dit sou konflik beteken in die sigbare en onsigbare wêrelde. Vandat Israel bestaan het, was sy in die visier van die gode. Wie Is Yahweh? Dit vat nie lank voor Israel in 'n moeilike situasie beland nie. Die storie van Josef (Gen. 37-50) verduidelik waarom Israel na Egipte gegaan het. God het in Sy almag die onreg wat Josef deur sy broers aangedoen is, gebruik om Israel van hongersnood te red (Gen. 46:3-4; 50:20). God het met opset nie beveel dat Israel dadelik weer Egipte moes verlaat nie. God het geweet dat die Farao wat Josef geëer het, sou sterf, en vervang sou word met 'n vyand van Josef se volk (Eks. 1). God het voorsien dat die Israeliete as slawe verdruk sou word (Gen. 15:13-16). Hy het ook geweet dat Hy Israel op die regte tyd sou red (Gen. 46:4). Maar waarom dan so lank wag? God het altyd 'n goeie rede waarom Hy lyding toelaat. Ons kan dit net nie altyd verstaan nie. Maar in hierdie geval, vertel die Bybel ons waarom. Nadat Moses uit Egipte gevlug en homself in die woestyn gevestig het, het God met hom uit die brandende bos gepraat (Eks. 3:1-14) en hom beveel om terug na Egipte te gaan. Sy opdrag was eenvoudig: sê vir Farao "Laat my volk toe om te gaan" (Eks. 5:1). Farao het egter ander planne gehad. In Egipte was hy god as 'n mens, die simbool van al Egipte se mag en heerlikheid. Hy sou nie net toelaat dat een of ander onsigbare God of Hebreeuse herder vir hom sê wat om te doen nie. Hy het nie eers geweet of Moses se God regtig bestaan het nie. Hy het spottend gesê: “Wie is hierdie ‘Here’ nogal dat ek na hom moet luister om Israel te laat gaan? Ek ken nie ’n ‘Here’ nie.” (Eks. 5:2). 'n Pynlike antwoord het vir hom gewag. God het vir Moses gesê "Ek sal hom hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek." (Eks. 4:21). God het 'n appeltjie te skil gehad met hom. Nadat hy Israel vir eeue lank onderdruk het, was dit tyd vir Egipte en al sy gode om gestraf te word. Farao se hardkoppigheid was deel van die plan. Die Bybel sê vir ons dat die plae teen die gode van Egipte gerig was ─ veral die laaste plaag waarin al die eersgeborenes gesterf het. (Eks. 12:12; Num. 33:4). Dit was 'n direkte aanval op die huis van Farao: Teen middernag het die Here deur Egipte begin trek. Hy het in elke huis die seun wat eerste gebore is, laat doodgaan. Van die oudste seun van die farao wat na hom sou koning word, tot by die oudste seun van die man wat in die tronk sit, is almal dood. Selfs onder die vee het dié wat eerste gebore is, gevrek. (Eks 12:29 DB). Farao het God bespot, maar nou is die rolle drasties omgekeer. Soos Paulus later geskryf het, ”Moenie ’n fout maak nie. God laat nie met Hom spot nie: Wat mense saai, sal hulle ook maai!” (Gal. 6:7). Wat Egipte verduur het, het die gewenste uitwerking gehad. Selfs mense in Kanaän het gehoor wat die God van Israel aan Egipte en sy gode gedoen het. (Jos. 2:8-11; vergelyk met Eks. 15:14-16; Jos.9: 9). Jetro, Moses se skoonpa uit Midian, som die wyse les wat die nasies geleer het op: "Nou weet ek die Here is groter as enige ander god,...” (Eks. 18:11). Dit is geen wonder dan dat Moses, aan die ander kant van die Rooi See, terwyl hy met Farao en sy leër gespot het, retories aan die Farao en sy leër vra: "Wie van die gode kan met U vergelyk word, Here?" (Eks. 15:11). Toe hulle eers uit Egipte en deur die Rooi See gekom het, het die Israeliete geweet waarheen hulle op pad was. Hulle sou God by Sy nuutste tuiste en hoofkwartier ontmoet: die Berg Sinai. In werklikheid het die Israeliete baie min van God geweet. Ten tye van die uittog, was daar glad nie ‘n Bybel nie. Die enigste verhale wat hulle geken het, was die mondelinge tradisies van hulle voorouers. Wanneer ons nou hierdie verhale in die Bybel lees, kan ons duidelik God se plan in al hierdie dinge sien. Die Israeliete moes dit egter nog leer. Sinai was hul klaskamer. Israel ─ God Se Familie En Aardse Verteenwoordigers Toe Moses voor Farao gestaan het, het hy 'n boodskap vir hom gehad: "Israel is my seun, my eersgebore seun... Ek het julle beveel om my seun te laat gaan om My te eerbiedig" (Eks. 4:22–23). Die idee dat God 'n seun het ─ in hierdie geval al die afstammelinge van Abraham ─ is 'n belangrike konsep. Hierdie konsep neem ons terug na die skepping van Adam en Eva. God wou 'n menslike familie hê. Hy wou woon op Sy skepping, die aarde, met die mense wat Hy gemaak het. Hy wou hê Sy bonatuurlike en menslike familie moes saam met Hom woon en Hom dien. Hy wou hê mense moet vermenigvuldig en vir die hele aarde om soos Eden te word. Maar toe God die mensdom by die toring van Babel onteien het, het Hy geen familie gehad nie ─ totdat Hy Abraham geroep het. Israel was God se nuwe familie. Dit was tyd om terug te gaan na Sy oorspronklike plan. Soos Adam en Eva God se beeld op aarde was, sou Israel nou God se beeld wees. Toe die Israeliete by Sinai aangekom het, was dit soos om terug by die huis te kom. Selfs God se hemelse raad was daar en het gekyk hoe God se plan hervat word. Hulle was getuies van 'n nuwe verbond wat God met Sy volk gesluit het: die Wet. Die Wet ─ Gelewer Deur Die Hemelse Raad Was jy verbaas toe ek gesê het dat die hemelse raad teenwoordig was by Sinai toe God die Tien Gebooie aan Moses gegee het? Ons sien egter nooit engele in films oor Eksodus en die reis na Sinai nie. Maar die Bybel sê hulle was daar. Dit sê selfs dat hulle God se wet oorhandig het. (Hand. 7:52–53; Heb. 2:1–2). Daar staan geskryf dat die Wet "met Sy eie vinger geskryf is" (Deut. 9:9-10). Klink dit bekend? Met ander woorde ─ God in menslike vorm. God was op Sinai, in menslike vorm, net soos in die verhale in Genesis oor die Engel van die Here. Hy en Sy hemelse raad het die Wet aan Moses en die Israeliete gegee. Nadat die Wet uitgevaardig is, het Moses, Aäron, Aäron se seuns en sewentig van Israel se ouderlinge, God in menslike vorm gesien. Hierdie keer was daar 'n maaltyd ingesluit (Eks. 24:9–11). Net soos die Laaste maaltyd in Jesus se tyd 'n seël van die nuwe verbond van Jesus se bloed was, was hierdie maaltyd ook 'n viering van God se nuwe verbond met Israel ─ die Wet. God het aan Israel die Wet gegee vir hulle om heilig te wees (Lev. 19:2). Hy wou hê Israel moes anders wees as alle ander mense, herkenbaar aan almal as Sy eie familie. Net soos God heeltemal anders is as die ander gode, so ook was Sy mense bedoel om heeltemal te verskil van alle ander nasies. Wat beteken heiligheid? Wat was die konsep daaragter? Heiligheid beteken nie om "vreemd" te wees nie. Om heilig te wees beteken om met God geidentifiseer te word, toegewyd te wees aan Hom en om die goeie dinge te geniet wat kom deur op goeie terme met God te lewe. God wou, deur Israel, aantreklik wees vir die ander nasies sodat hulle na Hom toe sou wou terugkeer (Deut. 4:6–8; 28:9–10). Daarom word Israel 'n "koninkryk van priesters" genoem (Eks. 19:6) en " 'n lig vir al die nasies" (Jes. 42:6; 49:6; sien ook 51:4; 60:3). Die hele volk het die posisie van Abraham geërf om tot seën vir alle nasies te wees (Gen. 12:3). Geloof En Lojaliteit Om in regte verhouding met God te lewe is nog 'n manier om te praat van redding. In teëstelling met wat ons op Sondagskool geleer het, is die Israeliete nie gered deur al die reëls van die Wet te volg nie. In die Ou en Nuwe Testamente kan jy nie werk om gered te word nie, jy kan nie jou verlossing verdien nie. Dit word gegee deur die genade van God aan almal wat glo. Soos almal wat na Christus se dood en opstanding gebore is, moes die Israeliete geloof hê. Hulle moes glo dat hulle God, die God van die gode was en vertrou dat Hy hulle Sy volk gemaak het. Slegs hulle het toegang tot die God van alle gode gehad. Die Wet was nie die manier waarop Israeliete hulle verlossing kon verdien nie ─ dit was wel die manier hoe hulle hul lojaliteit aan hulle God bewys het. Verlossing, vir die Israeliete, het gegaan oor geloof in God se karakter, Sy beloftes, en deur te weier om ander gode te aanbid. Dit was oor geloof en lojaliteit uit die hart, nie om “witvoetjie” by God te soek nie . Koning Dawid het aaklige dinge, soos moord en owerspel, gepleeg (2 Sam.11). Volgens Moses se wet, het hy die wet oortree en het hy die doodstraf vir sy misdade verdien. Hy het egter nooit gewankel in sy geloof in Jahweh as die Allerhoogste God nie. Hy het nooit sy lojaliteit aan God gebreek en na ander gode oorgeskakel nie. Daarom was God genadig teenoor hom. Dieselfde geld vir die Nuwe Testament. Om in die Evangelie te glo, beteken om te glo dat die God van Israel aarde toe gekom het as 'n mens, vrywilliglik aan die kruis gesterf het as 'n offer vir ons sondes, en drie dae later uit die dood opgestaan het. Ons moet dit in geloof aanvaar en ons lojaliteit aan Jesus wys deur al die ander gode agter ons te laat. Ongeag van wat hierdie ander gode oor ons verlossing sê, vertel die Bybel vir ons dat verlossing slegs deur Jesus kom (Hand. 4:12) en deur getrou in ons geloof aan Hom te bly (Rom. 11:17–24; Heb. 3:19; 10:22; 38-39). Persoonlike foute en mislukkings is nie dieselfde as om Jesus met 'n ander god te vervang nie ─ God ken die verskil. Waarom Is Dit Belangrik? Die Eksodus en die gebeure by Sinai is vol spesiale simboliek. Die toneel waarin Moses en sy geselskap by die tafel sit met God in menslike vorm op Sinai, trek dadelik ons aandag. Moses het sewentig ouderlinge by hom gehad. As jy teruggaan na Genesis 10 en jy tel die aantal nasies wat God onteien het na die voorval by die toring van Babel, kom jy tot sewentig. Hierdie nasies is toegewys aan die seuns van God ─ die ander mindere gode ─ toe God die nasies veroordeel het (Deut. 4:19–20; 32:8-9 AFR53). Maar waarom sewentig ouderlinge, sewentig seuns van God en sewentig nasies wat onterf is? Die ooreenstemmings is doelbewus. Aan die begin van Jesus se bediening het Hy sewentig dissipels uitgestuur (Luk. 10:1). Dit was die voorloper tot die Groot Opdrag. Hierdie getal stuur 'n belangrike boodskap: die dissipels van Jesus sal alle nasies en lande vir God se Koninkryk terugeis. Hierdie Koninkryk sal sy finale vorm aanneem aan die einde van die tyd in die nuwe, wêreldwye Eden van Openbaring 21-22. Die herhaling van die getal sewentig vertel vir ons dat God se nuwe, aardse familie, Israel ─ die afstammelinge van Abraham ─ die manier sou wees om te herstel wat verlore gegaan het. Maar dis nie al nie. Die apostel Paulus skryf in Galasiërs 3 dat gelowiges die beloftes beërwe wat gegee is aan Abraham. Deur in Jesus te glo, is jy 'n kind van Abraham (Gal. 3:26-29). Dit beteken dat ek en jy die taak het om die nasies terug te neem van die gode. Dit is ons werk om mense wat geestelik deur ander gode oorheers word tot ommekeer te bring om in Jesus te glo. Ons is God se menslike raad op aarde, en eendag wanneer ons verheerlik word sal ons aansluit by Sy bonatuurlike familie in die nuwe Eden. Op baie plekke in die Bybel vind ons die idee weer. Die boek Openbaring beskryf hoe gelowiges van Jesus die heerskappy oor die nasies sal beërwe (Op. 3:21). Dit beteken dat ons die seuns van God sal vervang wat sedert Babel oor die nasies regeer het. Dit verklaar waarom Johannes sê dat gelowiges die reg gegee is om kinders van God genoem te word (Joh. 1:12; sien ook 1 Joh. 3:1–3). Ons sal die vyandiggesinde goddelike seuns van God in die laaste dae vervang. Dit is ook waarom Paulus, wanneer hy skryf vir gelowiges om op te hou dat die wêreld se howe hulle geskille oplos, sê: "Weet julle nie dat ons oor engele sal oordeel nie?" (1 Kor. 6:3 AFR83). Ons sal uiteindelik hoër wees as die engele wanneer ons op die nuwe aarde verheerlik word. Ons sal eendag soos Jesus wees (1 Joh. 3:1-3; 1 Kor. 15:35-49) en saam met Hom oor die nasies heers (Op. 2:26) wat tans deur die vyandige gode regeer word. Gelowiges, die geestelike afstammelinge van Abraham, sal uiteindelik die onterwing van die nasies en die vloek van die dood omkeer wat uit Eden se mislukking gestrek het. Vir hierdie doel, moet ons leef. Die hele plan in die Ou Testament lei na ons. Dink terug aan Eden. God wou sy twee families ─ die menslike en die goddelike ─ met Hom in Eden hê om saam te lewe en te regeer. Hierdie plan is verwoes deur rebellie, maar is laat herleef deur die redding van Israel uit Egipte. Uit Abraham se afstammelinge sou die Messias kom wat die foute van Eden ongedaan sou maak (Gen. 3:15). Sonder Israel sou ons geen doel in die lewe gehad het nie. En dit is presies waarom die gode en hulle volgelinge weer probeer het om Israel uit te wis. ________________ HOOFSTUK AGT: Heilige Grond Vir meer as 'n jaar het die Israeliete by Berg Sinai gebly. Hoekom so lank? Hulle het immers reeds 'n nuwe verbond met God gehad en het die Tien Gebooie ontvang. Maar hulle het nog baie gehad om te leer. Benewens dat hulle belowe het om in die God van hulle voorvaders te glo en om getrou aan Hom te bly, moes hulle meer oor God self leer en wat Hy van hulle verwag het. Die Konsep Van Heiligheid Baie van die vreemde wette en gebruike in die Ou Testament is daarop gemik om mense te leer dat God heeltemal anders is as enigiets anders wat bestaan. God is uniek in Sy natuur en karakter; Hy is heeltemal anders as die mensdom of enigiets anders. Vir Israel moes hierdie waarheid te alle tye versterk word, anders sou hulle God bloot as 'normaal' sien. Die Bybelse woord wat gebruik word om God se “andersheid" te beskryf, is heiligheid. Dit beteken “om afgesonder te wees” of “om onderskeidelik te wees”. Die konsep van "heiligheid" gaan nie noodwendig oor moreel korrekte gedrag nie ─ die idee is nie dat ons op 'n bepaalde manier moet optree om God se unieke morele standaarde te verteenwoordig nie ─ alhoewel dit daarby ingesluit is (Lev. 19:2). God was nie tevrede om aan die Israeliete bloot net 'n rasionele verduideliking vir Sy heiligheid te gee nie. Hy wou hê dat hierdie konsep van andersheid in elke aspek van die alledaagse lewe in antieke Israel deurtrek moes word. Die Bybel vertel vir ons dat dit bereik was deur rituele (simboliese dade) en deur reëls oor hoe om heilige gebiede te nader. Hoe Is God "Anders"? Die kort antwoord is: “op elke manier”...maar dit is te abstrak. Die Bybel is baie meer prakties en die rituele en reëls van die Israelitiese lewe weerspieël dit. Die Bybel leer byvoorbeeld dat God nie slegs die bron van hulle lewe was nie ─ Hy was lewe. God is nie van hierdie aarde, die plek waar dood, siekte en onvolmaaktheid is nie. Sy ryk is bonatuurlik. Ons ryk is aards. Die plek op aarde wat Hy bewoon word heilig en bonatuurlik, bloot omdat Hy teenwoordig is. Die plekke waar ons is, is ‘alledaags'. God is die teenoorgestelde van alledaags. In antieke Israel, was hierdie idee oorgedra deur die feit dat mense genooi en gereinig moes word om op dieselfde plek as God te wees. Baie wette in die Ou Testament is voorskrifte vir so 'n reiniging. Israeliete kon op verskeie maniere gediskwalifiseer (“onrein”) word van toegang tot heilige grond: seks, bloedverlies, 'n paar fisiese gestremdhede en deur aan 'n lyk (mens of dier) te raak. Die Israeliete is verbied om sommige voëlspesies te eet wat op karkasse leef (bv. aasvoëls en valke; Lev. 11: 13-19), of diere wat in of op karkasse voorkom (byvoorbeeld akkedisse en muise; Lev. 11: 24–40). In hierdie gevalle, het onreinheid niks te doen gehad met morele gedrag nie, maar is geassosieer met lewensverlies wat nie in ooreenstemming was met God se volmaaktheid nie. Alhoewel dit eenvoudige logika is, pas dit nie in by ons moderne denke nie. Verlies van bloed of seksuele vloeistowwe is gesien as die verlies van iets wat die lewe skep of onderhou. God sou nie met die verlies van lewe geassosieer word nie, maar sou gesien word as die bron van lewe. Om rituele reiniging te moes ondergaan na die verlies van sulke vloeistowwe, is beskou as 'n herinnering aan God se natuur. Dieselfde reiniging was vereis sou jy onrein geword het deur kontak met die dood. In Israel kon 'n mens ook verbied word van heilige grond as gevolg van ‘n fisiese gestremdheid of besering, in hierdie geval omdat sulke onvolmaaktheid nie geassosieer kon word met God se volmaaktheid nie. Al hierdie wette was bedoel om 'n bonatuurlike wêreldbeskouing te bevorder. Die Oplossing Vir Die Probleem Van Onreinheid Om “onrein” en ongeskik te wees om die heilige grond binne te gaan, was 'n ernstige saak vir antieke Israeliete. Hulle kon nie offers en gawes bring na die vereiste plek daarvoor as hulle onrein was nie. Die oplossing was rituele reiniging, wat soms ‘n offer of ‘n wagtydperk behels het. Die logika van bloedoffers ─ om bloed op 'n persoon of voorwerp te besprinkel om hulle skoon en geskik te maak om die heilige plek in te gaan ─ is vir ons vreemd. Maar offers van bloed het 'n teologiese doel gehad ─ dit het die konsep van plaasvervanging bekendgestel. Aangesien die lewenskrag in die bloed was (Lev. 17:11), het die doodmaak van ‘n dier die Israeliete geleer dat as hulle God op 'n ander manier as Sy manier genader het, dit tot die dood sou lei. Die bloed van die offer was 'n barmhartige plaasvervanger om die besmette, onrein toestand van die Israeliet reg te stel. Die les was dus dat God die lewe van ‘n Israeliet gespaar het wanneer 'n dier as 'n plaasvervanger geoffer was. Menslike lewe was meer werd vir God as dié van diere, omdat mense geskape is as 'n beeld van God (Gen. 1:26; 9:6). Israeliete het hul bestaan te danke aan 'n bonatuurlike ingryping wat Abraham en Sara in staat gestel het om 'n kind te hê (Gen. 2:1-3). Die menslike lewe was egter in gevaar in die teenwoordigheid van ‘n Heilige God. Offers het die Israeliete daaraan herinner dat God mag oor lewe en dood gehad het ─ en Hy wou vir hulle genade wys. Hemel (En Hel) Op Aarde Deur die aandag op God se uniekheid te vestig, is sekere idees gekommunikeer ─ nie net oor God nie, maar ook oor die grense met die bonatuurlike. Die idee om tussen aardse en bonatuurlike ryke te onderskei, was fundamenteel tot die bonatuurlike wêreldbeskouing van die Israeliete. As die grondgebied waar God se teenwoordigheid woon heilig was, dan was die grondgebied elders nie heilig nie ─ dit was “alledaags” of in sommige gevalle, vyandig en boos. God se teenwoordigheid was gekenmerk deur herinneringe aan Eden. Baie kenmerke van die Tabernakel en Tempel was ontwerp om die Israeliete aan Eden, die plek waar hemel en aarde ontmoet het, te herinner. Die goue kandelaar is gevorm en versier soos 'n boom (Eks. 25:31–40), 'n verwysing na die Boom van die Lewe. Dit het reg voor die voorhangsel gestaan wat die ingang geblok het tot die Allerheiligste, die plek waar die Verbondsark gestaan het met ‘n deksel wat as 'n troon vir God ontwerp is (Eks. 25:10-22). Die gerubs in die Allerheiligste is ook 'n duidelike verwysing na Eden. Die gerubs van Eden het as wagte gestaan in die woning van God. Die gerubs in die Allerheiligste het wag gestaan oor die deksel van die Verbondsark. Later, nadat Salomo die Tempel gebou het, is die tabernakelstruktuur binne in die tempel geskuif en twee reuse gerubs is oor die Ark geplaas as ‘n troon vir God wat die Ark self 'n voetbank vir God gemaak het (1 Kron. 28:2). Die Tempel is ook ontwerp om soos die tuin van Eden te lyk, gevul met beelde van welige plantegroei en diere (1 Kon. 6-7). Blomme, palmbome, leeus en granaatbome is in die Tempel se argitektuur gegraveer. Dit was 'n visuele herinnering aan die plek waar God op aarde gewoon het met Sy menslike familie. Die Israeliete moes ook herinner word aan die donker kant van kosmiese geografie. As die Israelietiese kamp, en later ook die nasie van Israel, heilige grond was, dan beteken dit dat die grondgebied buite Israel onheilig was. Lank gelede voor die gebeure van Sinai, het God die ander nasies onteien en dit aan mindere gode oorhandig (Deut. 4:19–20; 32:8–9). Eendag sou Hy hierdie nasies terugeis, maar in die tyd van die Bybel was hulle koninkryke van duisternis. Daar is 'n Israelietiese ritueel wat dit baie duidelik uitbeeld. Die Dag van Versoening (Yom Kippur) wat elke jaar gehou word, en beskryf word in Levitikus 16, het 'n treffende voorbeeld ingesluit om mense te herinner aan die grens tussen heilige en onheilige grond. Daar was twee bokke gebruik. Een wat geoffer is en waarvan die bloed gestrooi is om die Tabernakel van menslike besoedeling te reinig vir nog ‘n jaar. Hierdie geofferde bok was "vir die Here". Die ander bok is nie geslag nie ─ dit was in die woestyn ingestuur nadat die hoëpriester simbolies al die sondes van die mense na die bok oorgedra het. Hierdie bok was "vir Asasel." Wie of wat is “Asasel”? In sommige tradisies word hierdie woord vertaal as 'n sondebok in plaas van Asasel. In die Dooie See Manuskripte, is dit egter ‘n regte Hebreeuse naam ─ die naam van 'n demoon. Tydens die woestynreis na die Beloofde Land, het die Israeliete aan demone geoffer (Lev. 17:7), uit vrees dat bose magte hulle kamp sou bedreig. Die woestyn was immers buite die Israeliete se kamp, en dus die plek waar vyandige wesens was. Die praktyk moes stop, en dit is waarvoor die bok vir Asasel bedoel was. Die bok vir Asasel was nie 'n offer vir bose gode nie ─ die bok was immers nooit geslag nie. Inteendeel, deur dit die woestyn in te stuur was ‘n simboliese manier om die heilige grond (die Israelietiese kamp) te reinig van sonde. Waarom Is Dit Belangrik? Sommige dinge verander in die Nuwe Testament en sommige bly dieselfde. God is steeds "anders" as enigiets in die hemel en op aarde. Sy heiligheid vereis dat ons gereinig moet word voordat ons Sy teenwoordigheid kan ingaan. Vir ons word dit bereik deur te glo aan dit wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Alles wat Jesus namens ons gedoen het, het bonatuurlike konnotasies. Hy het in die woestyn ingegaan ─ die plek waar ons sou verwag om die magte van die duisternis te beleef ─ en het Satan se versoekings oorwin. Na hierdie gebeurtenis het Jesus sy bediening begin, wat gelei het tot die oorwinning oor die duiwel wat die "mag oor die dood" gehad het (Hebr. 2:14). Jesus is buite die heilige stad gekruisig (Hebr. 13:12). Jerusalem was heilige grond en Jesus was onrein omdat Hy al ons sondes op Hom geneem het. Jesus se dood en opstanding reinig ons ─ berei ons voor om in God se teenwoordigheid in te kom. Ons sondes is “weggeneem” (Rom. 11:27; sien ook 1 Joh. 3:5). Alhoewel ons onrein sondaars is, is ons heilig as ons in Christus is. Ons is onvolmaak, maar dit word oor die hoof gesien as gevolg van Jesus. Dis so eenvoudig, tog so diepgaande. Ons is geneig om te dink dat in baie opsigte was die Israeliete geestelik meer bevoorreg as ons. Hulle het immers God se teenwoordigheid in hulle midde gehad. Hulle het geleef in 'n wêreld waar bonatuurlike kosmiese geografie 'n werklikheid was. Ons is geneig om te dink dat ons meer geestelik, en meer ingestel op God sou wees as dit maar so was dat dieselfde, aanhoudende herinneringe aan God wat hulle beleef het, ook vir ons ‘n realiteit was. Die Nuwe Testament sê dit is. Ons het nie 'n Tabernakel of Tempel nodig om heilige grond aan te dui nie. Ons eie liggame is heilige grond. Paulus noem ons liggame 'n "tent" (2 Kor. 5:4), want net soos God teenwoordig was in die Allerheiligste in die tabernakel en tempel, woon dieselfde Heilige Gees nou in ons (Rom. 8:9-11). Uiteindelik sal ons liggame sterf. Die aardse huis van ons gees sal vervang word met “'n huis wat nie met hande gebou is nie” (2 Kor.5:1-3), ‘n hemelse woning ─ die nuwe Eden, hemel terug op aarde (Op. 22:1-3). Aangesien God in ons woon deur Sy Heilige Gees, is elke kerk ─ elke byeenkoms van gelowiges ─ heilige grond. Dit is waarom Paulus, toe hy vir die Korinthiërs vertel het dat hulle 'n Christen moet uitdryf wat nie sy rug op die sonde wou draai nie, hulle die opdrag gegee het om “daardie man aan die Satan oor te gee” (1 Kor. 5:5). Die kerk was heilige grond. Buite die gemeenskap van gelowiges was die domein van Satan. Dit was waar sonde en al die gepaardgaande, selfvernietigende gevolge behoort het. Dit is tyd dat ons na onsself kyk deur bonatuurlike oë. Jy is 'n kind van God, geskik vir heilige grond, nie deur wat jy doen of nie doen nie, maar omdat jy in Christus is, aangeneem deur God (Rom. 8:15; Gal. 4:5). Jy is "verlos uit die mag van die duisternis en... oorgebring onder die konings-heerskappy van Sy geliefde Seun" (Kol. 1:13). Ons moet nooit, nie vir een oomblik, vergeet wie ons in Christus is ─ en wat dit vir die res van die wêreld beteken nie. ________________ HOOFSTUK NEGE: Heilige Oorlog Die Bybel is 'n omstrede boek. Mense wat dit nie sien as die Woord van God nie, maak dikwels beswaar teen wat die Bybel sê maar sommige dinge maak selfs Christene ongemaklik. Israel se oorloë om die Beloofde Land te verower, is een van daardie struikelblokke. Hoekom? Meestal as gevolg van die baie slagting. Dit lyk of dit blindelings en veels te gewelddadig gedoen is. Was dit nodig om in sommige stede die hele bevolking ─ insluitend mans, vrouens, kinders en selfs vee uit te wis? Waarom was die uitlewering van die inwoners nie genoeg nie? Sou dit nie beter gewees het om hulle in balingskap te stuur in plaas daarvan om hulle dood te maak nie? Daar is ‘n antwoord op hierdie besware ─ maar ek het gevind dat die antwoord op hierdie vrae dikwels Christene selfs meer ongemaklik maak as die vraag self. Die redenasie en motivering van hierdie veroweringsverhale kan slegs verstaan word as jy daarna kyk deur die bonatuurlike wêreldbeskouing van die Israeliete. Israel Se Bonatuurlike Denke In die stryd om die Beloofde Land, was twee faktore van uiterste belang, beide diep gewortel in Israel se begrip dat hulle wêreld nie alleen die blyplek van die mensdom is nie, maar ook die groot prys in 'n onsigbare bonatuurlike oorlog. Ons het albei faktore voorheen genoem, maar kom ons kyk weer daarna. Een faktor is as gevolg van die gebeure rondom die toring van Babel, nadat die nasies in opstand teen God gekom het en Hy besluit het om nie meer 'n direkte verhouding met hulle te hê nie. In plaas daarvan het Hy lede van sy hemelse raad, die seuns van God, afgevaardig om hulle te lei (Deut. 4:19–20; 32:8–9). Daarna het Hy Abraham opgeroep en hom en sy vrou, Sara, in staat gestel om 'n kind (Isak) te hê van wie die volk van Israel sou kom. In Psalm 82 leer ons dat die ander gode korrup geword het. Hulle het onreg toegelaat. Mense het hierdie gode begin aanbid in plaas van die Allerhoogste God. Op dié manier het hulle vyande van God en Sy volk, Israel, geword. Aangesien sommige van hierdie volke in die land (Kanaän) gewoon het wat God vir sy volk bedoel het na die uittog uit Egipte, het Moses en die Israeliete hierdie nasies as aartsvyande gesien en dat hulle gode alles in hulle vermoë sou doen om Israel te vernietig. Die tweede faktor is selfs meer skrikwekkend vir die Israeliete. Dit word verduidelik deur wat gebeur het toe die Israeliete by die grens van die Beloofde Land Kanaän aangekom het. Moses het 12 verkenners gestuur om die land en sy inwoners te ondersoek. Die verkenners het gesien dat dit 'n fantastiese land was ─ dit loop oor van "melk en heuning" ─ soos God belowe het (Num. 13:27). Maar toe kom hulle met die slegte nuus: “Die land waarna ons gaan kyk het, is ’n land wat sy inwoners opeis. Al die volke wat ons daarin gesien het, is besonder groot mense. Ons het Enak se nageslag daar gesien. Hulle is reuse. Ons het voor hulle soos sprinkane gelyk.” (Num. 13:32-33). Ons het voorheen van die Nefilim gepraat. Hulle was die bose nageslag van die seuns van God en die menslike vroue waarvan ons geleer het in Gen 6:1-4. Die reuse Enakiete wat deur die verspieders in Kanaän gesien is, was hulle afstammelinge. Daar was baie meer van hierdie afstammelinge dwarsdeur die land versprei, onder die nasies en stede, wat die Israeliete sou moes verslaan om die Beloofde Land te verower (Num. 13:28–29). Die taak om die land te verower het aanvanklik na 'n uitdaging gelyk, maar nou was dit amper onmoontlik. Hulle sou krygers van abnormale grootte moes aandurf. Slegs twee verspieders ─ Josua en Kaleb ─ het geglo dat God die Israeliete sou help om die Enakiete te verslaan. Die ander verspieders het die res van die Israeliete oortuig dat hulle sou verloor. In plaas daarvan om te vertrou dat God ─ dieselfde God wat die Farao en sy leër vernietig het ─ sou intree om hulle die oorwinning te gee, het hulle gehuil: "Ons kan nie daardie mense aanval nie, hulle is vir ons te sterk" (Num. 13:31 AFR83). Daarop het die Here aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? (Num. 14:11 AFR53). Trouens, God was so kwaad dat Hy die hele volk van Israel wou onterf ─ net soos die ander volke by die Toring van Babel ─ om weer met Moses oor te begin: Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou 'n groter en sterker nasie maak as hulle. (Num. 14:12 AFR53). Moses het God gesmeek om dit nie te doen nie (Num. 14:13–19). God het bedaar, maar Hy kon nie hulle ongeloof miskyk nie. Hulle sou op die harde manier moes leer. God het vir Moses gesê: Die Here sê toe: “Ek sal hulle vergeef soos jy gevra het. Maar so seker as wat Ek leef en die aarde vol is van die Here se groot mag, nie een van hierdie mans wat gesien het hoe groot Ek is en watter wondertekens Ek in Egipte en die woestyn gedoen het en wat My herhaaldelik getoets het deur nie na My te luister nie, nie een van hulle wat My verag het, sal in die land kom wat Ek aan hulle voorouers beloof het nie... ‘So waar as Ek leef, sê die Here, Ek gaan met julle alles laat gebeur waarvan julle My verdink het. Julle lyke sal hier in die woestyn lê. Nie een van julle bo twintig jaar oud wat in die sensus getel is en wat oor my gekla het, sal in die land kom wat Ek beloof het dat julle daarin sal woon nie. Net Kaleb, seun van Jefunne, en Josua, seun van Nun, sal ingaan. “Julle het gesê dat julle kinders oorlogsbuit sal word. Ek sal húlle egter in die land laat kom en hulle sal die land beleef wat julle versmaai het. (Num. 14:20–31) "Tien keer" was 'n metafoor vir "keer op keer" in Bybeltye (Gen. 31:7 AFR53; Job 19:3 AFR53). Tot nou toe, het God altyd hulle klagtes geduld. In plaas daarvan om bly te wees dat hulle nie langer slawe in Egipte was nie, het hulle gekla oor die voedsel wat hulle in die woestyn gegee is (Num. 11:1–14; 31-35) en oor die leier wat God vir hulle gekies het (Num. 12:1–16). Maar God se geduld was op; hierdie keer sou hulle ongeloof hulle duur te staan ​​kom. Israel sou vir veertig jaar in die woestyn moes ronddwaal totdat al die ongelowige volwassenes gesterf het. 'n Tweede Kans Israel sou 'n tweede kans kry om die Beloofde Land in besit te neem. Deuteronomium 2 tot 3 vertel hoe die Israeliete gedurende hulle trek van veertig jaar beland het in die gebied oos van die Jordaanrivier (wat bekend staan as “Transjordaan”). Die lande van Transjordaan was Edom, Moab en Ammon. God het hierdie gebiede aan Abraham se neef, Lot, en aan Jakob se broer, Esau, gegee. Die mense wat daar gewoon het, was familie van die Israeliete... altans die meeste van hulle was. Maar daar was ook ander mense. God het Moses na die plek gelei vir ‘n spesiale rede. Dit was nie slegs 'n familie besoek nie. Die Israeliete het uiteindelik aangekom by die gebied genaamd Basan. Hierdie plek het 'n skrikwekkende reputasie gehad. In antieke geskrifte buite die Bybel, staan Basan bekend as "die plek van die slang". Twee van sy hoofstede, Astarot en Edreï, (albei word in verband met hierdie reis genoem (Deut. 1:4; Jos. 13:12)] is gesien as poorte na die koninkryk van die dode. So, in die konteks van die Israeliete se bonatuurlike wêreldbeskouing het God hulle na die poorte van die hel gelei. Maar dit was nie al nie. God het die Israeliete daarheen gebring om twee konings te ontmoet, Sihon en Og. Hierdie twee konings was Amoriete (Deut. 3:2–3; 31:4) en heersers van wat die Bybel die Refaïte noem (Deut. 3:11-13, Josua 12:4; 13:2). Volgens Deuteronomium 2:11 word die Enakiete "ook die Refaïete genoem". God, deur Moses, het die Israeliete na 'n gebied gelei wat beset is deur dieselfde soort reuse wat jare tevore die verspieders in ongeloof verskrik het (Num. 13:32–33), en wat veroorsaak het dat die Israeliete vir 'n addisionele veertig jaar moes ronddwaal. Waarom het God hulle daarheen gebring? Want hierdie konfrontasie sou 'n voorsmaak wees van wat gedoen moes word sodra die veertig jaar verby was. Israel sou uiteindelik die Jordaanrivier moes oorsteek om besit te neem van die land wat God aan hulle belowe het. God was besig om Sy mense te toets. Sou hulle hierdie keer vertrou en veg? Indien wel, sou 'n oorwinning hulle die vertroue en geloof gee vir wat sou kom. Jare tevore het die Israeliete met hulle sterte tussen hulle bene gevlug. Maar hierdie keer het die verhaal anders geëindig. Soos Moses gesê het: "Die Here ons God het hom egter in ons mag oorgegee en ons het hom, sy seuns en sy volk verpletter.... So het die Here ons God vir koning Og en sy hele volk aan ons oorgegee en ons het hulle almal doodgemaak." (Deut. 2:33; 3:3) Baie jare later het die Profeet Amos hierdie gebeurtenis oorvertel in sy eie Boek in die Bybel: "[Die HERE] wat die Amoriete vernietig het voordat my volk in die land aangekom het. Hulle was so lank soos seders, so sterk soos akkerbome." (Am. 2:9) Dit was 'n moeilike begin aan hulle tweede kans. God het vereis dat hulle hul vrese oorwin ─ die vrees wat hulle vir veertig jaar doelloos laat ronddwaal het. Die God wat die Rooi See verdeel het, was aan hulle kant. Dit was tyd dat hulle dit onthou het. “Heeltemal Verwoes” Israel het die stryd teen Sihon en Og gewen. Dit is hier waar ons die eerste keer sien waarom soveel verwoesting betrokke was in die verowering van die Beloofde Land. Die hele bevolking van die stede waar die groot Refaïete gewoon het, is “heeltemal verwoes” (Deut. 3:6 AFR83). Wraak was egter nie die doel nie. Die doel was om die bloedlyn van die Nefilim heeltemal uit te wis. Vir die Israeliete was die reuse stamme se bloedlyne demonies, afkomstig uit rebelse, gevalle bonatuurlike wesens. Hulle kon nie met ‘n demoniese nageslag saamleef nie. 'n Geruime tyd het verbygegaan en voor die Israeliete die Jordaan oorgesteek het, het Moses gesterf. Die leierskap is aan Josua oorgedra. Hy het baie militêre veldtogte aangevoer tydens die verowering van die Beloofde Land. Hierdie veldtogte is gelei deur die twee faktore wat ek vroeër genoem het: verdryf die vyandige volke en, vernietig die bloedlyne van die reuse stamme in die proses. As jy in daardie konteks daarna kyk, is die verowering van die Beloofde Land eintlik 'n heilige oorlog ─ 'n stryd teen die magte van die duisternis en vyande onder die heerskappy van vyandige gode, wat die Bybel beskryf as werklike geestelike wesens. Die logika van verowering word mooi opgesom in Josua 11:21-22 AFR83: “In dié tyd het Josua ook die Enakiete in die berge, in Hebron, Debir en Anab, in al die Judaberge en in al die Israelberge uitgeroei. Hy het hulle saam met hulle stede uitgeroei, en daar het geen Enakiete in die gebied van die Israeliete oorgebly nie. Net in Gasa, Gat en Asdod was daar Enakiete oor.” Waarom Is Dit Belangrik? Josua se militêre veldtogte was meestal suksesvol, maar hulle was nie voltooi nie. 'n Paar reuse het ontsnap ─ en alhoewel dit nie belangrik gelyk het nie, het dit toekomstige gebeure voorspel. Sommige reuse eindig op in die stad Gat. Gat het 'n Filistynse stad geword (Jos. 13:3) en was waar Goliat vandaan sou kom in die tyd van koning Dawid (1 Sam. 17:4). Goliat was ook nie die enigste reus in Gat nie (1 Kron. 20:5-8). Nie almal wat tydens die verowering van die Beloofde Land vir totale uitwissing bestem was, is inderdaad vernietig nie. Trouens, die feit dat die verowering nie sy hoof doelwitte bereik het nie, het groot gevolge vir die Israeliete gehad. Die boek van Rigters vertel vir ons dat die verowering onvolledig was op ander maniere toe Josua gesterf het. Dit het nooit sy volle doel bereik nie. Die Israeliete het gevoel dat hulle goed genoeg gedoen het, en was ongehoorsaam aan God se bevel om die ander volke te verdryf. Maar gedeeltelike gehoorsaamheid is ongehoorsaamheid. Die Israeliete sou eeue later steeds die prys betaal omdat hulle God se bevele nie ten volle gevolg het nie. In die boek Rigters, sien ons dieselfde ding gebeur keer op keer: Israel was herhaaldelik oorval deur vyandige nasies en lojaliteit en geloof in God was amper weg. Dinge het verbeter in die dae van Dawid en sy seun Salomo, maar toe Salomo eers weg was het Israel verbrokkel in burgeroorlog en afgodery. Die triomf van die verowering van die Beloofde Land was oorskadu deur ernstige mislukking. Die heerskappy van God se Koninkryk ─ Sy plan om Eden te herstel ─ het verdwyn in vlamme. Die bonatuurlike wêreldbeskouing wat vanuit Babel gekom het, waar die ongelowige volke onder die heerskappy van bose gode was, het ongeskonde gebly. Israel was verslaan en verstrooi en hulle Beloofde Land het weer onder die heerskappy van ander gode en hulle nasies gekom. Ons sien dieselfde wêreldbeskouing ook in die Nuwe Testament. Paulus gebruik terme soos heersers, owerhede, magte en trone om die magte van die duisternis te beskryf. Elkeen van hierdie terme was in antieke tye gebruik om na geografiese gesag en heerskappy te verwys. Die oorsaak van Israel se mislukking was hulle ongehoorsaamheid en hulle ontrouheid. Mense is swak. Ons mag miskien wonder waarom God enigsins vir ons omgee. Maar as ons terugkyk na Eden, weet ons hoekom. God het Homself daar verbind tot die mensdom. Ons is Sy beeld en Sy aardse familie. Sy plan om die aarde te regeer, het ons behels. As God Sy plan vir die mens, om aan Sy raad op aarde deel te neem, sou skraap, sou dit kommunikeer dat Hy nie in staat was om dit te laat werk nie, of dat dit 'n slegte idee van die begin af was. Maar God is in staat om Sy eie doelwitte te bereik en soos daar al in 'n vroeëre hoofstuk gesê is, maak God nie foute nie. Dit was tyd vir 'n nuwe benadering tot die probleem van sonde en mislukking. Die mensdom kon nie vertrou word om die koninkryk van Eden te hernu nie. Slegs God self kon doen wat nodig was om gedoen te word. Slegs God kon die verpligtinge van Sy eie verbond nakom. Maar die mensdom sou nie op sy geskuif word nie. In plaas daarvan, sou God mens moes word. Hy sou self die Wet en die verbond vervul en dan die straf van die mensdom se mislukking op homself neem. Maar so 'n ondenkbare oplossing moes natuurlik ‘n geheim bly van almal, insluitende die intelligente, bonatuurlike wesens, wat vyandig was teenoor Sy doelstellings. Dit sou nie maklik wees nie. ________________ HOOFSTUK TIEN: Verborge in volle sig Sedert die sondeval, het God probeer om Sy oorspronklike plan vir Eden te hervat: om saam met Sy hemelse en menslike families op aarde te lewe. God het vir Adam en Eva die opdrag gegee om vrugbaar te wees en te vermenigvuldig en om daardeur God se heerskappy oor die res van die planeet te versprei. God wou hê die hele planeet moes 'n plek wees waar die hemel en die aarde bymekaar gekom het, waar die mensdom die goddelike kon geniet, en waar die goddelike die aarde en mensdom kon geniet. Ons weet hoe dit uitgedraai het. 'n Geskiedenis Van Mislukking Die mensdom het gesondig en is uit God se teenwoordigheid verban. Eden was gesluit. Die bonatuurlike vyand, die Slang, was verban ─ uitgegooi of afgekap ─ uit God se teenwoordigheid na die aarde, na die plek waar die dood heers, waar die lewe net tydelik is. Hy het heerser oor die dood geword, en daarom het hy 'n wettige aanspraak op elke mens wat ooit sou lewe ─ omdat hulle sondig, en die loon van die sonde is die dood (Rom. 6:23 AFR83). Na die Vloed, het God weer die doel van Eden herhaal met Noag en sy familie: wees vrugbaar en vermenigvuldig. Dit was 'n nuwe begin. Maar, in plaas daarvan, het die mensdom gerebelleer. Eerder as om aan God gehoorsaam te wees en die kennis en heerskappy van God oral te versprei, sou hulle 'n toring bou waar God na hulle toe sou kom. Weereens ‘n mislukking. Dit was nie God se plan nie. Hy het die nasies se tale verwar en hulle oorgegee aan ander gode van Sy hemelse raad. Toe besluit Hy om oor te begin met 'n nuwe menslike familie ─ deur Abraham en Sara. Hy sou weer terugkeer na die ander nasies ─ deur Abraham se nageslag ─ sodra Sy koninklike heerskappy op aarde herstel is (Gen. 12:3). Dit was ook ‘n mislukking. So ook die volgende poging: om Israel uit Egipte te bring, dan na Sinai en dan uiteindelik na die Beloofde Land. Israel het misluk. Uiteindelik het God vir Dawid en toe Salomo opgewek. Maar na Salomo gesterf het, het Israel ander gode begin aanbid en teen mekaar gedraai. God moes hulle uit die Beloofde Land in ballingskap verdryf. Die verhaal van die mens, afgesny van die Teenwoordigheid van God, is alles mislukking. Dit is omdat die mensdom sedert die sondeval verlore gegaan het. Alle mense is onvolmaak en vervreemd van God. Geen menslike leier kon vertrou word om God se Koninkryk te vestig en in stand te hou nie. Hulle sou nie aan God alleen getrou bly nie. Hulle sou hulle eie pad gaan. Mense sou sondig, misluk en by die heerser van die dood, God se groot vyand, aansluit. Maar God se visie om Sy heerskappy in 'n nuwe Eden te deel met Sy rentmeester-konings, kon nie sonder die mensdom gebeur nie. Die enigste manier hoe die mens ooit kon deel in God se plan was vir hulle om weer nuut gemaak te word. Die vloek van die sondeval moes opgehef word. En daarvoor het God 'n plan gehad. Die Oplossing ─ En 'n Probleem God het 'n man nodig gehad wat meer as ‘n mens was ─ iemand wat versoekings kon weerstaan en altyd gehoorsaam sou wees, iemand wat geskik was om koning te word, iemand wat die vloek van die dood sou verbreek deur te sterf en uit die dood uit op te staan deur sy eie krag. Dit alles kon net op een manier gebeur: God self sou mens moes word. As 'n mens, sou Hy Sy plan vir die hele mensdom vervul en Eden herstel. Slegs wanneer mense vergewe word vir hulle sondes en goddelik, soos Jesus, gemaak word deur die opstandingskrag (1 Joh 3:1-3), kan Eden 'n werklikheid word. Maar daar was 'n probleem. As hierdie plan ontdek is ─ dat die man wat God is, hier was om te sterf en weer op te staan, om te verseker dat God se oorspronklike visie herstel sou word ─ sou die magte van die duisternis dit nooit toelaat nie. Dit is presies wat Paulus in die brief aan die Korintiese Kerk sê: “Nee, die wysheid waarvan ons praat, is die diepsinnige wysheid van God wat voorheen geheim gehou is, wat God van ewigheid af daargestel het sodat ons die heerlikheid kan ontvang. Maar die heersers van hierdie wêreld het dit nie begryp nie. As hulle dit wel begryp het, sou hulle nooit ons Here aan wie die heerlikheid behoort, gekruisig het nie.” (1 Kor. 2:7-8) Van wie praat Paulus? Die owerstes van hierdie wêreld kan moontlik verwys na menslike figure ─ soos Pontius Pilatus en die Joodse leiers ─ maar Paulus het ook die bonatuurlike, demoniese magte in gedagte gehad (Ef. 2:2). Die plan moes geheim gehou word van God se aardse en goddelike vyande. Alles het afgehang van die dood en opstanding van die God-man. Maar hoe hou jy so iets 'n geheim? Die Kriptiese Messias Die God-man van wie die herstel van Eden afgehang het, was natuurlik die Messias ─ Jesus van Nasaret. Het dit jou verras toe ek voorgestel het dat die messiaanse plan 'n geheim was? Kan ons dan nie net die Ou Testament lees en die hele plan sien nie? Nee, ons kan nie. Glo dit of nie, maar daar is nie 'n enkele vers in die Ou Testament wat die woord Messias gebruik om 'n man te beskryf wat eintlik God is en sterf vir die sondes van die mensdom nie. Nie eens Jesaja 53:11 met die beskrywing van "die lydende dienskneg." Trouens, die woord Messias verskyn nooit in daardie hoofstuk nie, elders in Jesaja, verwys die "dienskneg" na die volk van Israel, nie 'n individuele persoon nie (Jes. 41:8; 44:1–2, 21; 45:4; 48:20; 49:3). Die woord Messias, wat eenvoudig “die gesalfde” beteken, verwys amper altyd na Dawid of een van sy afstammelinge wat as koning na hom regeer het. Trouens, die bewys vir wat ek sê ─ dat 'n beskrywing van ‘n goddelike Messias, wat sou sterf en weer uit die dood opstaan, moeilik is om in die Ou Testament te vind ─ is duidelik in die Nuwe Testament. Dink aan hoe die dissipels gereageer het toe Jesus vir hulle gesê het dat Hy na Jerusalem sou gaan om te sterf. Hulle was verstom en ontsteld om hierdie aankondiging te hoor (Matt. 17:22–23; Mark. 9:30–32). Hulle het nie gesê, "O ja, ons lees dit mos in die Skrif." Trouens, Petrus het Jesus selfs bestraf vir hierdie stelling. (Matt. 16:21–23). Die dissipels het geen idee gehad wat hierdie nuwe plan van God was nie. Hulle het Jesus slegs gesien as die seun van Dawid en die regmatige opvolger van sy troon, iemand wat wonderwerke gedoen het net soos die profete van die Ou Testament. Selfs na die opstanding, moes Jesus die oë van die dissipels op ‘n bonatuurlikse wyse oopmaak om die lydende Messias te sien. Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy na hulle gekom en gesê: “Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek nog saam met julle was, het Ek aan julle verduidelik dat alles wat in die wet van Moses en in die profete en die psalms oor My geskryf is, vervul moet word.” Toe het Hy hulle verstand geopen om die Skrifte te verstaan.” (Luk. 24:44-45) God se "nuwe plan" ─ waarin Hy sou sterf en uit die dood opstaan om die vloek te verbreek ─ is glad nie so duidelik in die Ou Testament nie. In plaas daarvan is 'n paar leidrade verspreid dwarsdeur die Ou Testament. Maar jy sal nooit al die leidrade op een plek vind nie. Die portret van die Messias is slegs agterna duidelik ─ en selfs dan, slegs as jy weet waarvoor om te kyk en te verwag. Die intelligente, bonatuurlike, bose wesens kon natuurlik sien dat die beloofde Seun van Dawid gekom het (Matt. 8:28–29; Luk. 4:31–35). Tot dusver kon hulle dit uit die Ou Testament verstaan. Maar niks wat die demone ooit gesê het gee vir ons die indruk dat hulle verstaan het dat Jesus gekom het om te sterf en weer op te staan uit die dood, ten einde die vloek te verbreek nie. Soos Paulus gesê het, as die demone en Satan dit verstaan het, sou hulle nooit mense soos Judas gebruik het om Jesus te verraai aan mense wat Hom wou doodmaak nie. Die duiwel en al sy volgelinge is alles behalwe dom. Hulle was mislei daarin om Jesus dood te maak, net soos God beplan het. Hulle het 'n reeks gebeure begin wat tot hul eie ondergang sou lei. Dit was 'n beplande misleiding uit die hemel. Dele Van Die Messiaanse Profiel In retrospek kan ons die dele van die messiaanse profiel met meer duidelikheid sien as die dissipels. Alhoewel daar geen vers is wat praat van ‘n goddelike messiaanse seun van Dawid wat sou sterf en uit die dood opstaan om die vloek van die dood te breek nie, loop hierdie temas soos 'n draad deur die Ou Testament. Noudat ons weet hoe die plan uitgevoer is, kan ons ‘n draad vind en die patrone volg. Byvoorbeeld, ons mag vra "Wie is die seun van God?" Volgens die Ou Testament, is die antwoord nie "Jesus" nie. Adam was God se seun ─ hy was die eerste man. Israel word God se seun genoem (Eks. 4:23; Hos. 11:1). Die koning van Israel is God se seun genoem (Ps. 2:7). In die Nuwe Testament word Jesus "die tweede Adam" en "die Seun van God" genoem (Rom. 1:4; 1 Kor. 15:45; 2 Kor. 1:19). Ons kan die vraag vra, "Wie is God se dienaar?" Adam het God gedien (Gen. 2:15). Israel is ook God se dienaar genoem (Jes. 41:8; 44:1–2, 21; 45:4; 48:20; 49:3). Dawid en die ander konings van sy geslagslyn is God se dienaar genoem (2 Sam. 3:18; Ps. 89:4; 1 Kon. 3:7; 2 Kron. 32:16). Jesus was ook 'n dienaar (Hand. 3:13; 4:30; Fil. 2:1-8). Het hierdie seuns en dienaars van God ooit gely? Het hulle aardse bestaan ooit tot ‘n einde gekom? Was daardie bestaan hernu? Het hulle 'n toekoms in die nuwe Eden? Die antwoord is "Ja" op al hierdie vrae. Adam, Israel en die konings van die Huis van Dawid was almal verban uit God se teenwoordigheid ─ uit die plek op aarde waar God gewoon het (Eden en die Beloofde Land). Tog was hulle, en sal hulle, verlos word in die Nuwe Eden, om saam met God en die opgestane Jesus te leef. Die punt is dat al hierdie figure op een of ander manier vir Jesus uitwys en Hy voltooi hierdie patrone. Hy is die volledige portret wat sigbaar word wanneer al hierdie individuele dele opgespoor en op hul regte plekke geplaas word. Alles was duidelik sigbaar gewees maar kon slegs agterna gesien word. Waarom Is Dit Belangrik? Intelligente boosheid ─ Satan, die demone en die mindere gode wat die nasies regeer ─ weet nie alles nie. Hulle ken nie God se gedagtes nie en kan dit ook nie verstaan nie. Ons is geneig om aan te neem dat hulle alwetend is omdat hulle bonatuurlik is. Dis nie waar nie. Daar is slegs een alwetende wese ─ God. En Hy is aan ons kant. As gevolg van die sondeval, het Satan 'n regmatige aanspraak op ons almal gehad. Wat bedoel ek daarmee? As gevolg van Adam se sonde, "het die dood tot alle mense deurgedring" (Rom. 5:12). Die Slang was vervloek, neergewerp om te regeer as die heerser van die doderyk ─ die onderwêreld, of dit wat ons die hel noem. As gevolg van die sondeval, ontsnap niemand die dood nie en almal is bestem om te gaan na die ryk van die dood ─ waar die duiwel heers. Alles het verander toe Jesus die eerste keer gekom het en God se plan vervul het om ons te red deur te sterf aan die kruis en op te staan uit die dood. Die eerste stap in die herstel van Eden was om ‘n manier te verseker vir die mensdom om die vloek van die dood vry te spring. Elkeen wat glo is deel van God se Koninkryk en familie, en word nie meer gyselaar gehou deur die vloek van die dood en die heerser van die dood nie. Dit is waarom Jesus, toe hy begin het met die herlewing van die koninkryk (Luk. 10: 1–9), gesê het: “Ek het die Satan soos 'n weerlig uit die hemel sien val” (Luk. 10:18). Jesus het geweet dat Sy dood en opstanding die prys vir ons sondes sou betaal, en Satan sonder enige aanspraak op ons siele sou los. Die Koninkryk was die begin van die einde vir die heerser van die dood. Ons moet weer onthou wie ons is ─ en waar ons identiteit vandaan kom. Gelowiges, gesamentlik as die Kerk, word die liggaam van Christus genoem. En Jesus se liggaam was uit die dood opgewek. Ons sal uit die dood opstaan omdat Hy opgestaan het (1 Kor. 15:20-23). Hy is die eersgeborene uit die dood. Ons is "die vergadering van die eersgeborenes, wie se name in die hemel opgeteken is" (Heb. 12:22–24 AFR83). Soos Johannes gesê het, "Aan almal wat Hom egter aanvaar het, die wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word" (Joh. 1:12). Satan het geen aanspraak op die kinders van God nie, omdat hulle uit die dood sal opstaan. Daar is geen rede om te soek vir die lewendes in die ryk van die dood nie. God sou nie sy plan aan enigiemand ─ menslik of bonatuurlik, vriend of vyand openbaar nie. Die spesifieke manier waarop die Messias God se plan sou vervul, moes geheim bly. God sou dit egter aan hulle duidelik maak dat wanneer die Messias verskyn, Hy as God in menslike vorm sou wees, en die herstel van Eden, die einddoel sou wees. Soos ons in die volgende twee hoofstukke sal sien, was dit net genoeg inligting om mense tot geloof te bring en die magte van die duisternis te lok om hulle eie ondergang aan die gang te sit. ________________ HOOFSTUK ELF: Bonatuurlike Voorneme In die vorige hoofstuk, het ons gesien hoe die Ou Testament die Messias aan ons voorgestel het deur hom in die openbaar weg te steek. Die sleutel tot God se plan om die mensdom te red en Eden te herstel was vir die Messias, Jesus, om aan die kruis te sterf en uit die dood op te staan. Slegs deur ‘n mens te word, kon God verseker dat 'n menslike koning uit Dawid se nageslag die mense sou regeer sonder om in sonde te verval of geestelik af te dwaal. Slegs as hierdie koning in die plek van die volk sou sterf en weer uit die dood opstaan, kon God sonde oordeel en terselfdertyd die mensdom red. Slegs deur die dood en opstanding van die Messias kon gevalle mense steeds 'n plek in God se hemelse familieraad hê, om saam te heers in die nuwe Koninkryk van Eden, soos oorspronklik bedoel. Maar dink aan alles wat dit vereis het: Jesus moes op een of ander manier daarin slaag dat die bonatuurlike magte van die duisternis, mense sou manipuleer om Hom dood te maak ─ sonder dat hulle besef wat hulle eintlik besig was om te doen. Soos Paulus vir die Korinthiërs gesê het (1 Kor 2:6-8), as hulle geweet het wat die gevolge daarvan sou wees, sou hulle Hom nooit gekruisig het nie . Die lewe en bediening van Jesus kan meer sinvol verstaan word as ons dit teen hierdie agtergrond beskou. Lesers van die Nuwe Testament kan maklik die indruk kry dat Jesus se bediening wat tot die kruis gelei het nogal toevallig was. Die vier Evangelies vertel immers nie almal eers dieselfde gebeure nie ─ byvoorbeeld, die geboorte van Jesus word slegs beskryf in twee Evangelies (Matteus en Lukas), en slegs een beskryf die drie wyse manne uit die Ooste (Matt. 2). Soms is die volgorde van gebeure anders in die Evangelies. Maar die werke van Jesus voor die kruis ─ genesing van die siekes, prediking oor die Koninkryk van God, vergifnis van sondaars, konfrontering van skynheiligheid ─ was nie net die toevallige dade van 'n reisigende, wyse man wat hier en daar 'n paar wonderwerke verrig het nie. Daar is meer in die Evangelies aan die gang as wat jy aanvanklik gesien het. Daar is 'n belangrike subteks aan wat Jesus gedoen het. Die Boosheid Om Uitgeskei Te Word Die gebeurtenis wat die begin van Jesus se bediening gekenmerk het, was Sy doop. Dit was die plek waar God in die publiek openbaar het dat Jesus Sy seun was (Mark. 1:11), en ook waar Johannes die Doper vir Jesus geïdentifiseer het as die een wat "die sonde van die wêreld wegneem" (Joh. 1:29). Wanneer ons daardie woorde van Johannes lees, dink ons dadelik aan die kruisiging. Maar dit is nie waaraan Johannes se dissipels gedink het nie. Eerlikwaar, niemand het so daaroor gedink nie. Toe Jesus teen die einde van Sy bediening ─ sowat drie jaar na Sy doop ─ begin praat het van Sy dood, het selfs Sy eie dissipels die idee verwerp (Matt. 17:22–23; Mark. 9:30–32). Die laaste ding wat hulle verwag het, was om te hoor dat hulle leier binnekort sou sterf. Dit was mal praatjies. Hulle het nie verstaan dat Jesus se dood aan die kruis, sedert die begin reeds die plan was nie. Waarom het hulle dit nie verstaan nie? Omdat, soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, die plan nie duidelik in die Ou Testament te vinde was nie. Na Jesus se doop, het die Heilige Gees Hom na die woestyn gestuur om Satan te konfronteer (Matt. 4:1; Mark 1:12; Luk. 4:1-13). Dat die duiwel gekom het om Hom te versoek wys vir ons dat Satan geweet het wie Jesus was ─ die Messias met die opdrag om God se heerskappy op aarde te herstel. Die "gesalfde" (messias) sou immers 'n koning uit die nageslag van Dawid wees. Satan, "die leier van hierdie wêreld" (Joh. 12:31), het verstaan dat Jesus gekom het vir sy domein ─ die nasies wat God onteien het by die toring van Babel voordat Hy Israel geskep het (Deut. 4:19–20; 32:8–9). Die meeste van ons weet wat daar tussen Jesus en Satan gebeur het. Satan het Jesus drie keer versoek (Matt. 4:3-11). Satan se derde strategie om Jesus te kry om sy verhouding met God te skend, was om aan die Seun van God al die nasies van die wêreld aan te bied (Matt. 4:8–9), die presiese rede waarvoor hy aangeneem het dat Jesus gekom het: “Vervolgens neem die duiwel Hom na die top van ’n baie hoë berg en wys vir Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en praal. Daarop sê hy vir Jesus: “Dit alles sal ek vir jou gee. Al wat jy moet doen, is om neer te kniel en my te aanbid.” (Matt. 4:8–9) Satan se aanbod was 'n slim verdraaiing van God se plan. God sou kry wat Hy wou hê ─ om al die nasies wat Hy onterf het terug te kry. Opdrag suksesvol voltooi! Al wat Jesus moes doen, was om Satan te aanbid in plaas van God. Satan se aanbod wys dat hy nog nie besef het dat God se plan Jesus se dood vereis het nie. Jesus het hom ook nie enige waarskuwing hieroor gegee nie. Hy het ook nie aan Satan verduidelik waarom Hy sy aanbod geweier het nie. Hy het eenvoudig net vir Satan gesê om weg van Hom af te gaan. God sou terugneem wat syne was, wanneer, en hoe Hy dit sou kies. Jesus se sending was oor meer as net heerskappy oor die nasies. Dit was oor die herbou van 'n familie. 'n Familie wat die ander nasies, nie net Israel nie, ingesluit het, het beteken dat die boete vir sonde betaal moes word. Soos God oorspronklik beplan het sou Sy kinders deel wees van Sy heerskappy. Die kruis was noodsaaklik om die mensdom te verlos en dus om God se plan in werking te stel. Jesus sou nie homself laat mislei nie ─ maar mettertyd sou die duiwel wel mislei word. 'n Voorsmaak Van Eden Onmiddellik na die konfrontasie in die woestyn, het Jesus twee dinge gedoen: Hy roep Sy eerste dissipels (Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes) en genees 'n duiwelbesete man (Mark. 1:16–28; Luk. 4:31–5:11). Beide die oproep van dissipels en genesing van mense het aangehou en dit het 'n herkenbare patroon geword. Namate Hy meer dissipels gekry het, het Hy hulle die mag gegee om duiwels uit te dryf en die siekes te genees van elke siekte, gestremdheid en toestand (Luk. 9:1-5). Jesus het aanvanklik twaalf dissipels opgeroep. Die getal was nie toevallig nie. Dit stem ooreen met die aantal stamme van Israel. Jesus begin die Koninkryk met Israel in gedagte. Hulle was immers God se volk, uitverkies bo die ander nasies (Deut. 32:8-9). Paulus het later dieselfde siening gehad met die verspreiding van die Evangelie ─ begin eers by die Jode, dan die ander nasies (Rom.1:16-17). Jesus het nie gestop by die Twaalf nie. In Lukas 10 het Hy sewentig ander dissipels beveel om demone uit te dryf en die siekes te genees (Luk. 10:1, 9, 17). Weereens, was dit nie 'n toevallige getal nie. Dit is dieselfde aantal nasies wat in Genesis 10 gelys word ─ die nasies wat God onteien het en onder die heerskappy van die mindere gode geplaas het, tydens die voorval by die Toring van Babel (Deut. 4:19–20; 32:8–9). In sommige vertalings staan twee en sewentig in plaas van sewentig. Dit is omdat sommige antieke manuskripte van Genesis 10 die nasies op so 'n manier lys dat jy twee-en-sewentig in totaal tel. In ieder geval, die punt bly dieselfde ─ die getal dissipels stem ooreen met die aantal nasies in Genesis 10. Net soos die roeping van die twaalf dissipels 'n teken was dat die Koninkryk van God na Israel gekom het, so was die uitstuur van die sewentig 'n teken dat die Koninkryk die ander volke sou terugneem. Toe die sewentig na Jesus teruggekeer het (Luk. 10:17), was Jesus se reaksie veelseggend: "Ek het gesien hoe Satan uit die lug val soos 'n weerligstraal!" (Luk. 10:18). Die boodskap is treffend: die groot ommekeer was aan die gang. Satan sou nie meer 'n aanspraak op die mensdom hê as hulle eers aan Jesus behoort het nie. Hy het nie meer toegang tot God gehad om ons aan te kla voor God nie (Op. 12:10). Hy was 'n aanklaer sonder ‘n hofsaak. Kom Kry My Maar Na drie jaar wat Jesus gepreek het oor die komende Koninkryk van God en die liefde van God aan die mense gewys het en gedemonstreer het hoe lewe in ‘n nuwe Eden sou lyk, het Jesus begin om voor te berei vir die einde ─ Sy werklike doel. Voor Sy laaste reis na Jerusalem, het Jesus die dissipels na die verre Noorde van Israel geneem. Hy moes die kruisiging deur middel van provokasie begin. Dit is presies waarom Hy hierdie plek gekies het om die bonatuurlike magte uit te daag. Jesus het die dissipels na 'n plek genaamd Caesarea Filippi geneem. Maar dit was sy Romeinse naam. In die Ou Testament word die plek Basan genoem. Ons het reeds hieroor gepraat in Hoofstuk 9. Basan is gesien as die ingang na die doderyk ─ die poorte van die hel. Caesarea Filippi was aan die voet van die Berg Hermon, die plek waar, volgens Joodse geloof, die seuns van God aarde toe gekom het tydens die rebellie wat beskryf word in Genesis 6:1-4. Kortliks, in die Ou Testament was Basan en Hermon die hoofkwartier van die bose, kosmiese magte. In hierdie plek, het Jesus Sy beroemde vraag gevra, "En wat van julle, wie sê julle is Ek?" (Matt. 16:15). Petrus het geantwoord, "U is die Messias, die Seun van die lewende God." (v. 16). Jesus het hom geprys en bygevoeg: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie. “Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die doderyk sal dit nie oorwin nie.” (vv. 17-18) Wat Jesus met "hierdie rots" bedoel het is 'n eeue-oue debat. Die sleutel om die term te verstaan is die area se geografie. Caesarea Filippi is geleë in die verre Noordelike deel van Israel. Ten tye van die Ou Testament, was hierdie gebied geassosieer met die idee dat dit verskeie poorte na die doderyk bevat het. Caesarea Filippi is aan die voet van 'n berg geleë. Die "rots" waarna Jesus verwys het, is hierdie berg. Die "poorte van die hel" merk die einste plek waar Jesus en die dissipels gestaan het. Jesus het die donker magte uitgedaag. As gevolg van die Sondeval het die mens die ewige lewe saam met God verloor en, in plaas daarvan, die dood as 'n onafwendbare feit en ewige skeiding van God verdien. Die heerser oor die dooies ─ die Slang, ook genoem Satan of die duiwel ─ het aanspraak op die mensdom gehad. Elke mens sou saam met hom in die doderyk opeindig. Maar God het ander planne gehad. Die geheime plan om Jesus te stuur om vir die mensdom se sondes te betaal, sou 'n direkte aanval op die poorte van die hel wees. Die heerser van die dood, met al sy magte, sou nie in staat wees om teen hierdie aanval van die Koninkryk van God staande te bly nie. In werklikheid lees ons in die gedeelte in Mattheus 16 hoe Jesus aan die duiwel se voordeur klop om sy aanspraak op die mensdom uit te daag. Jesus wou Satan uitlok. Hoekom? Want die tyd het aangebreek dat Jesus moes sterf om God se geheime plan in werking te stel. Asof Sy woorde nie uitdagend genoeg was nie het Jesus 'n stap verder gegaan. Mattheus, Markus en Lukas vertel almal dat die volgende gebeurtenis in die bediening van Jesus, die Verheerliking op die berg was. In Markus 9:2-8 lees ons: “Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes teen ’n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen was. En daar, terwyl hulle na Jesus gekyk het, het sy voorkoms verander. Sy klere het helder wit begin skitter – so wit soos geen aardse proses dit kan maak nie. Toe verskyn Elia en Moses en hulle het met Jesus gepraat. Petrus sê daarop vir Jesus: “Leermeester, dis wonderlik om hier te wees! Kom ons bou drie skuilings: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.” Eintlik het hy nie geweet wat om te sê nie, want hulle het groot geskrik. Daarna het ’n wolk hulle oordek en ’n stem het uit die wolk gesê: “Hý is my Seun, die Een wat Ek liefhet. Doen wat Hy vir julle sê.” Skielik, toe hulle begin rondkyk, sien hulle niemand anders meer by hulle nie, net Jesus.” Die Verheerliking van Jesus, het op die berg Hermon plaasgevind. Jesus het hierdie berg gekies om vir Petrus, Jakobus en Johannes te wys wie Hy werklik was ─ die verpersoonliking van God se heerlikheid. Die boodskap vir Satan en die magte van die duisternis was: "Ek het aarde toe gekom om terug te neem wat myne is. Die Koninkryk van God kom." Kortliks, "Ek is hier ─ wat gaan jy daaromtrent doen?" Dit is nie toevallig dat Jesus onmiddellik na die verheerliking na Jerusalem teruggekeer het en vir Sy dissipels begin vertel het dat Hy binnekort sou sterf nie. Hulle wou dit nie hoor nie, maar Jesus het Satan en die ander bose magte uitgelok om stappe te neem. Hulle sou voel dat hulle dringend met Hom moes afreken. En dit is presies wat Jesus wou bereik. Sy dood sou die sleutel tot alles wees. Waarom Is Dit Belangrik? Jesus het 'n doelbewuste bediening gehad. Hy het 'n duidelike siening gehad van Sy rol in die herstel van God se Koninkryk op aarde, wat sou voortgaan tot die dag waarop Hy weer sou terugkeer, ‘n dag wat ‘n nuwe wêreldwye Eden sou aankondig. Ons lewens is nie so sentraal soos Sy lewe nie, maar elkeen van ons, soos die dissipels, het ook ‘n belangrike rol om te volbring. Ons moet leef asof ons dit glo. Gelowiges wat deel gemaak is van God se familieraad, is nie daar om toeskouers te wees nie, maar deelnemers (Kol. 1:13). Jesus was onder andere van plan om mense te laat verstaan hoe Eden was, en hoe die lewe eendag met God sou wees. In God se familie en onder Sy heerskappy, sal daar geen siektes of liggaamlike gebreke wees nie. Daar sal ook nie meer vyandige magte wees nie. God se finale Koninkryk is groter as Eden of Israel. Die Koninkryk sal wêreldwyd wees. Alle nasies sal deel daarvan wees. En dit sal alles wees wat Eden was ─ Hemel op aarde. Ons taak is om Jesus na te volg. Ons kan, soos Hy, sorg vir beide liggaam en siel van ons mede-beelde van God, om hulle na geloof in ons Koning te lei en hulle aan te moedig om getrou aan Hom te bly. Dit neem nie noodwendig bonatuurlike krag om "die wat hartseer is te troos" en "vryheid aan te kondig" in die voetspore van die Messias nie (Jes. 61:1), maar hierdie aksies is in werklikheid bonatuurlik. Hulle vereis 'n doelgerigte, strategiese visie en om die boosheid te weerstaan. Elke goeie daad sal gebruik word deur die Heilige Gees om met mense se harte te praat. Elke verkondiging van die Evangelie, sal vrug dra. Die goedheid van Jesus stem ooreen met Sy boodskap. Dit is ‘n patroon wat gevolg kan word deur enige gelowige ─ en dit is die posbeskrywing vir Koninkryksvisie. Laastens, word ons weer daaraan herinner dat intelligente boosheid nie net beperkte mag het nie, maar ook kwesbaar is teen Koninkryksvisie en optrede. Jesus het reeds sy plek ingeneem "aan die regterhand van God ... terwyl die engele, owerhede en magte aan Hom onderwerp is" (1 Petr. 3:22). Ons is "alreeds maar nog nie" mede-heersers saam met Hom (Kol. 3:1; 2 Tim. 2:12; Op. 2:26; 3:21). Die poorte van die hel kan nie die ontstaan en voleindiging van die Kerk as God se Koninkryk op aarde keer nie. Die keuse om deel te neem aan die groot ommekeer is ons s'n. ________________ HOOFSTUK TWAALF: Kom op die wolke Die vorige hoofstuk het beskryf hoe Jesus van Sy toekomstige dood begin praat het onmiddellik nadat hy die magte van die duisternis uitgelok het by die poorte van die hel en Berg Hermon. Die uitdaging het 'n reeks gebeure aan die gang gesit wat gelei het tot Sy verhoor en dood aan die kruis. Christene het al dikwels die verhoor gelees, maar die bonatuurlike agtergrond van hierdie verhaal word dikwels gemis. Om te verstaan wat uiteindelik vir die Joodse owerhede gedryf het om Jesus tot die dood te veroordeel en Hom aan Pontius Pilatus oor te gee, moet ons terugkeer na die Ou Testamentiese boek van Daniël ─ na 'n vergadering tussen God en Sy hemelse vergadering, Sy goddelike raad. “‘n Oue Van Dae” En Sy Raad Daniël 7 begin met 'n vreemde visioen. Daniël sien vier diere wat uit die see kom (Dan. 7:1-8). Hulle voorkoms is skrikwekkend, veral die vierde dier. Wanneer drome in die ou testament geïnterpreteer word, het voorwerpe en lewende dinge altyd betekenis en in hierdie droom verteenwoordig die diere van Daniël se visioen vier ryke. Ons weet dit want sy visioen stem ooreen met die temas van Nebukadnesar se droom in Daniël 2, wat gehandel het oor Babilon en die drie daaropvolgende ryke. Ons fokus, egter, is op wat Daniël volgende beskryf: “Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en 'n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan 'n brandende vuur; 'n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.” (Dan. 7:9-10,AFR53) Ons weet dat die "Oue van dae" is die God van Israel. Dit word gou duidelik, veral wanneer ons hierdie beskrywing van Sy troon vergelyk met Esegiël se visioen van God se troon (Eseg.1). Die vuur, wiele en die menslike vorm op die troon is dieselfde as in Daniël se visioen. Maar het jy gesien daar is meer as een troon? Daar is verskeie trone in Daniël se visioen (Dan. 7:9) ─ genoeg vir die goddelike hof, God se raad (Dan. 7:10). Die hemelse raad vergader om te besluit oor die lot van die diere ─ die ryke ─ van die visioen . Daar is besluit dat die vierde dier doodgemaak moet word en dat die ander diere van al hulle mag gestroop sou word (Dan. 7:11-12). Hulle sou vervang word deur 'n ander koning en koninkryk. En dit is waar dinge selfs meer interessant word. Soos Die Seun Van 'n Mens Op Die Wolke Daniël gaan voort met sy beskrywing van die visioen: “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van 'n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” (Dan. 7:13-14, AFR53) "Seun van ‘n mens" is 'n algemeen gebruikte term in die Ou Testament. Dit verwys natuurlik na ‘n mens. Wat wel verrassend is in hierdie gedeelte is hoe hierdie persoon verder beskryf word. Daniël 7:13 beskryf 'n man wat op die wolke kom na die Oue van dae. Hoekom is dit so belangrik? Want in die Ou Testament word hierdie beskrywing slegs vir God gebruik (Jes. 19:1; Deut. 33:26; Ps. 68:32–34; Ps. 104:1–4). Maar in Daniël 7, is God reeds op die toneel as die Oue van Dae. Dit is asof Daniël in sy visioen 'n "tweede God" sien wat ook menslik is ─ dieselfde as wat Christene glo dat God meer as een persoon is. Dit is presies die punt! Toe Jesus voor Kajafas gestaan het tydens sy verhoor in Mattheus 26, met sy lewe wat aan 'n draad hang, het Hy ‘n teer punt aangeraak met die volgende: “En die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en niks gevind nie. En alhoewel daar baie valse getuies gekom het, het hulle niks gevind nie. Maar oplaas kom daar twee valse getuies en sê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou. Daarop staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U? Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is? Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel. Toe verskeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor! Wat dink julle? En hulle antwoord en sê: Hy is die dood skuldig.” (Matt. 26:59-66 AFR53). In wat aanvanklik soos 'n betekenislose antwoord op 'n redelike vraag lyk, haal Jesus Daniël 7:13 aan in antwoord op Kajafas. Wil jy regtig weet wie ek is, Kajafas? Luister mooi. Die reaksie is onmiddellik. Kajafas het dadelik verstaan dat Jesus daarop aanspraak gemaak het dat hy die tweede God persoon van Daniël 7:13 was ─ die man wat beskryf was op ‘n manier soos slegs God beskryf was in die Ou Testament. Dit was godslastering ─ en gronde vir die doodsvonnis Jesus het dit natuurlik geweet. Hy het geen belangstelling gehad om homself te beskerm nie. Hy het geweet dat Hy moes sterf om God se Koninkryk te herstel, gelowiges deel van God se familie te maak en die vervreemde nasies terug te eis van die magte en owerhede wat sedert Babel oor die nasies wat God verwerp het, geheers het. Hy het wel gesterf. Dawid se woorde in Psalm 22, bekend vir sy beskrywing van die fisiese effek van die kruisiging, gee ons ook 'n idee van watter verskriklike dinge gebeur het in die onsigbare wêreld tydens die kruisiging. Die lydende psalmis skryf: “Maar ek is net ’n wurm, en nie ’n man nie; ek word bespot deur die mensdom, verag deur almal om my. Elkeen wat my sien, spot met my. Hulle trek vir my gesigte, skud die kop en sê: “Vertrou op die Here; laat Hý hom dan red! Laat die Here hom verlos as Hy hom dan so liefhet!” Maar U het my die lewenslig laat sien, my as suigeling op U laat vertrou. Vanaf geboorte is ek van U afhanklik. Vanaf die begin van my lewe was U my God. Moenie ver van my af bly nie, want ellende kom en daar is geen helper nie. Soos ’n trop bulle omsingel my vyande my; wilde beeste van Basan het my omring! Soos brullende leeus wat uitmekaar wil skeur, met oopgesperde bekke storm hulle op my af.” (Ps.22:7-14) Die grillerige deel is die beskrywing van wilde beeste van Basan. Soos vroeër genoem, ten tye van die Ou Testament, was Basan die middelpunt van die demoniese gode en die doderyk. Hierdie gebied was die toonaangewende leier in die aanbidding van Baäl wat dikwels as 'n koei of bul uitgebeeld is. "wilde beeste van Basan" verwys na demone, die magte van die duisternis. Vandag is hierdie situasie verbeeldingryk in al sy gruwelike besonderhede uitgebeeld deur C.S. Lewis in The Lion, the Witch and the Wardrobe. Niemand wat al die boek gelees het of die film gesien het, sal binnekort vergeet hoe Aslan nederig sy lewe op die klip tafel oorgee aan die ingenome hordes van die Wit Heks nie. En net soos Jesus vir Satan uitoorlê het, het Aslan van die Wit Heks ‘n bespotting gemaak. Wat die donker magte gesien het as die oomblik van hulle groot oorwinning, was eintlik die begin van hul onherroeplike ondergang. Julle Is Gode, Maar Tog Sal Julle Soos Mans Sterf Satan het sy greep op die lewens van die kinders van Adam verloor, maar dit was nie sy enigste verlies deur die kruis nie. Sy trawante, die bonatuurlike gode (elohim) van die ander nasies, sou ook sien dat hulle domein verlore gaan. Die bonatuurlike gode is deur die Allerhoogste, die God van Israel, aan hierdie nasies toegeken (Deut. 4:19–20; 32:8–9). Dit is nie duidelik wanneer dit gebeur het nie, maar hulle het God se vyande geword. Hulle het God se volk, Israel, verlei om offers aan hulle te bring in plaas van God (Deut. 17:1-3; 29:26-27; 32:17). Psalm 82, die Psalm waar ons die eerste keer na die hemelse raad gekyk het in hoofstuk 2, vertel dat hierdie elohim hulle mag misbruik het en die kwaad beloon het. Hulle gee nie om vir God se wette en geregtigheid nie: ”God staan op in die hemelse vergadering. Tussen die hemelse wesens lewer Hy uitspraak: “Hoe lank nog sal julle onregverdige beslissings vel en die goddeloses bevoordeel? Sela “Laat reg geskied aan armes en wese. Verdedig die saak van die hulpelose en behoeftige. Bevry die armes en die behoeftiges; verlos hulle uit die greep van goddelose mense. Maar hulle weet nie en verstaan nie. Hulle lewe in duister terwyl die fondamente van die aarde skud.” (Ps. 82:1-5) Die res van die Psalm vertel hoe God sy hemelse raad versamel het om die gode hulle toekomstige lotgevalle te vertel. Hulle skrikbewind sou eindig wanneer God die nasies na Hom terugroep: “Ek het wel gesê: ‘Julle is gode, seuns van die Allerhoogste.’ Maar nee! Julle sal sterf soos ’n mens, soos enige maghebber sal julle val.” (Ps. 82:6-8) Wanneer sou God die nasies herwin? Die antwoord kan gevind word in Daniël 7:14: “Om te heers, het hy ontvang: gesag, eer en mag. Al die volke, nasies en tale sou hom dien. Sy heerskappy is vir altyd. Dit sal nooit verdwyn nie. Sy koninkryk sal nie ophou nie.” Die boodskap van Daniël 7:13-14 is duidelik: wanneer die Seun van die mens sy Koninkryk ontvang, sal dit die begin van die einde wees vir die bonatuurlike kragte van die bose. Jesus het Sy Koninkryk ontvang tydens die opstanding, "toe God Christus uit die dood opgewek het en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het. Nou is Christus hoog verhewe bo elke owerheid en gesag en krag en heerskappy, ja, elke noemenswaardige instansie, nie net in hierdie wêreld nie, maar ook in die wêreld wat kom." (Ef. 1: 20-21). Waarom Is Dit Belangrik? Voor die kruis het Satan aanspraak gemaak op elke siel. Elke persoon sterf, dus gaan elkeen na sy domein, die doderyk. En dit is waar ons sou wees as dit nie vir Jesus was met Sy dood en opstanding nie. As gevolg van ons geloof in Sy werk aan die kruis, het ons saam met Hom opgestaan. Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, is Satan uit God se teenwoordigheid verban toe Sy Koninkryk op aarde begin het (Luk. 10:18). Daar was geen plek vir Satan om ons van God te beskuldig nie. Hy het geen aanspraak meer op ons siele nie. Waarom leef ons dan asof Satan nog steeds die reg het? Ons redding word nie verdien deur 'n perfekte morele lewe nie. Dit word deur die geloof aan ons gegee in genade (Ef. 2: 8-9). Dit beteken dat ons ook nie ons redding deur morele onvolmaaktheid kan verloor nie. Wat ons nie met werk kan verdien nie, kan ons nie verloor met slegte werk nie. Om gered te wees gaan oor getroue geloof ─ die vertroue dat Jesus se werk Satan verslaan het en die rug op alle ander gode en hulle geloofstelsels gekeer het. Dit is die boodskap van God se Koninkryk wat ons aan alle nasies moet duidelik maak (Matt. 28:19–20). En as ons gehoorsaam is, sal die domein van die vyandige gode, die heersers en magte, geleidelik verminder ─ siel vir siel, oomblik vir oomblik. Die poorte van die hel, die doderyk, is nie bestand teen die opstanding nie. Hulle sal nie die verspreiding van die Evangelie kan stop nie Ten tye van Jesus se kruisiging blyk dit nie die werklikheid vir die dissipels te wees nie. Tog sou hulle binnekort die boodskap kry. En dit sou op 'n onvergeetlike manier gebeur. ________________ HOOFSTUK DERTIEN: Die Groot Ommekeer Behalwe die verhale van Jesus in die Evangelies ─ die geboorte, die bergrede, Sy dood, ens ─ is die verhaal in Handelinge 2 een van die bekendstes in die Nuwe Testament. Die oomblik toe die Heilige Gees die volgelinge van Jesus op Pinksterdag vervul het. Dit is die beginpunt van die Kerk en die verspreiding van die Evangelie aan die res van die wêreld. Alhoewel dit 'n bekende verhaal vir baie is, gebeur daar meer as wat ons aanvanklik besef het. Handelinge 2 is die teenoorgestelde van wat by die toring van Babel gebeur het. Dit is 'n ommekeer van die post-Babel geografie van die Ou Testament, waarin die nasies buite Israel deur die mindere gode oorheers word. Wat tydens Pinkster gebeur het was ‘n plan om die Evangelie van Jesus te gebruik om oorlog te voer teen die lande en nasies wat God ten tye van Babel onteien het ─ 'n antieke strategie vir die geestelike stryd. Pinkster Die gebeure op Pinksterdag wat in Handelinge 2 beskryf word, is baie uitsonderlik: “Op Pinksterdag, sewe weke na Jesus se opstanding, was al die gelowiges op een plek saam. Skielik was daar in die lug bokant hulle ’n geluid soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was. Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme het toe tussen hulle verskyn en op elkeen van hulle gaan sit. Almal is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat. Daar het toegewyde Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. Die geluid van die stormwind en die stemme het ’n groot skare daar laat saamkom. Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan. “Hoe is dit moontlik?” het hulle uitgeroep. “Almal wat hier praat, is Galileërs, en tog hoor ons hulle in ons moedertaal praat!“ (Hand. 2:1-8) Sommige van die woorde wat in hierdie gedeelte gebruik word, moet ons terugbring na die bonatuurlike wêreldbeskouing van die Ou Testament, maar in Afrikaanse vertalings is dit nie so voor die hand liggend nie. Die "stormwind" wat verband hou met die koms van die Heilige Gees, is 'n algemene beskrywing in die Ou Testament van die teenwoordigheid van God (2 Kon. 2:1, 11; Job 38:1; 40:1). Vuur word dikwels ook in hierdie konteks beskryf (Eseg.1:4; Jes. 6:4, 6; Dan. 7:9; Eks. 3:2; 19:18; 20:18). Hierdie beskrywing toon dat God teenwoordig was en dat hierdie gebeurtenis Sy bedoeling was. Sy doel was om die terugkeer te begin van die nasies wat hy aan die mindere gode toegewys het (Deut. 4:19–20; 32:8–9) en wat nou Sy vyande was (Ps. 82). God wou die woorde van die dissipels hiervoor gebruik, vandaar die beskrywing van die spreek in tale. God het die Joodse volgelinge van Jesus in staat gestel om met die Jode te praat wat uit ander lande gekom het, lande wat die domein van vyandige gode was. Toe hulle die Evangelie hoor en glo sou hulle na hulle eie lande terugkeer en die nasies van Jesus vertel. Pinkster En Babel Die ongehoorsaamheid by die toring van Babel het daartoe gelei dat God besluit het om die nasies te verdeel en gesag daaroor aan ander gode te gee (Deut. 4:19–20; 32:8–9). Met die eerste oogopslag lyk dit of dit min te doen het met die gebeure in Handelinge 2. Maar in die oorspronklike taal is daar ‘n duidelike verband tussen die twee. Daar is twee hoofaspekte wat verband hou met Babel. Eerstens word beskryf dat die tonge van vuur “verdeel” is. Tweedens, was die Jode wat uit ander lande gekom het, “verward” oor wat gebeur het. In Afrikaans is dit miskien nie te oortuigend nie. Lukas het egter in Grieks geskryf en die Griekse woorde wat hy gebruik vir "verdeeld" en "verwarring" is dieselfde as in die Griekse vertaling van Genesis 11:7 en Deuteronomium 32:8. Albei gedeeltes beskryf die verdeling van tale en mense in Babel en die verwarring wat as gevolg daarvan ontstaan het. Lukas, die skrywer van Handelinge, was nie 'n Jood nie. Hy kon net Grieks lees. Daarom het hy die Griekse weergawe van die Ou Testament, wat destyds (en vandag) bekend was as die Septuagint gebruik. Dit was die Ou Testament van die vroeë kerk, aangesien min mense Hebreeus kon lees. Lukas het aan die gebeure by Babel gedink toe hy Handelinge 2 geskryf het. Maar hoekom maak hy hierdie verbinding? Dink terug aan wat op Pinkster gebeur het. Die Heilige Gees het op dieselfde manier gekom as wat God Homself in die Ou Testament geopenbaar het, met vuur en sterk wind. Die verwarring tussen al die verskillende tale (wat die gevolg was van Babel) is verwyder toe die tonge van vuur die dissipels in staat gestel het om die tale van die ander Jode wat na Jerusalem gekom het, te praat. Drie duisend Jode het daardie dag die Goeie Nuus van Jesus geglo (Hand. 2:41). Hierdie nuwe gelowiges het Jesus aangeneem as hulle Messias en sou met die Goeie Nuus terugkeer na hulle eie land, die lande wat in die tyd van Babel geskep is. In Genesis 11 sien ons hoe God sy rug op die mensdom gedraai het. Onmiddellik daarna lees ons in Genesis 12 dat Hy Abraham gekies het om Sy volk en land te vestig. Nou was Hy besig om al die nasies wat Hy onteien het, saam met die nageslag van Abraham, terug te bring. Uiteindelik sou God se Koninkryk alle lande van die vyandige gode inneem. Die verrassendste van alles is die lys van lande in Handelinge 2 en die volgorde waarin dit genoem word. As ons hierdie lande op 'n kaart sou sien, sou ons sien dat hierdie lande van Oos na Wes loop: Van Babilon en Persië, waar die Jode in ballingskap in die Ou Testament gewoon het, tot die mees Westelike punt op aarde wat destyds bekend was. Dit is dieselfde gebiede waar die volke gewoon het, soos genoem in Genesis 10, die volke van die mindere gode. Ons Stryd Is Nie Teen Vlees En Bloed Nie Die grootste deel van Handelinge gaan oor Paulus se reise. Paulus was die apostel aan die heidene ─ die een wat deur God aangestel is om kerke buite die land van Israel te plant. Paulus se reise, insluitende gebeure soos sy gevangeskap deur die Romeine, het hom meer Wes geneem. In sy briewe in die Nuwe Testament, skryf Paulus dikwels oor die bonatuurlike magte wat sy bediening en prediking van die Evangelie gedwarsboom het. In sy taalgebruik kan ons sien dat hy die kosmiese geografie van die Ou Testament verstaan het. Sien jy die ooreenkomste in Paulus se terminologie vir die onsigbare magte van die duisternis? • Regeerders en Maghebbers (Ef. 1:20–21; 3:10; 6:12; Kol. 1:16) • Magte en Kragte (Ef. 1:20–21; Kol. 2:15) • Heersers (Ef. 6:12; 1 Kor 2:6) • Here (1 Kor. 8:5) Al hierdie woorde word in verband met plaaslike regerings gebruik. Trouens, dieselfde terme word in die Nuwe Testament en ander Griekse geskrifte gebruik om te verwys na politieke magte van die mens. Paulus se taalgebruik het te make met owerhede van plaaslike domeine. Dit is 'n weerspieëling van die verhouding tussen die bonatuurlike en die aardse wêrelde wat die Ou Testament duidelik maak: die nasies wat God onteien het en onder die gesag van bonatuurlike wesens val, wat Hom en Sy volk wil dwarsboom. “Op Na Spanje” In die boek Handelinge eindig Paulus sy reis in Rome waar hy opgesluit is. Hy het twee redes gehad om na Rome te reis: hy wou 'n beroep doen op die keiser en die Goeie Nuus versprei. Paulus het geweet as hy die Evangelie aan nasies onder die heerskappy van vyandige gode wou bring, hy na die einde van die wêreld moes reis (sover dit destyds bekend was). Ten tye van die Ou Testament, is hierdie plek Tarsus genoem. In Paulus se tyd word dit Spanje genoem. Paulus moes na Spanje gaan om sy sending te voltooi. Voordat hy gevange geneem is, het hy aan die Christene in Rome geskryf dat hy van plan was om na Spanje te gaan. “terwyl ek na Spanje onderweg is. Ek hoop om julle op my deurreis na Spanje te sien. Nadat ek my eers vir ’n tydjie aan die samesyn met julle verlustig het, kan julle my dan verder na Spanje toe stuur..... As ek dit dan afgehandel het en alles rondom hierdie insameling veilig afgerond het, wil ek by julle langs na Spanje toe reis. (Rom. 15:24; 28) Paulus het verstaan dat God Sy Koninkryk gedurende sy leeftyd begin herstel het. Hierdie kennis was sy motivering om alle nasies te bereik. Hy het geglo dat as "al die heidene gered" is "dit is hoe God al die Israeliete sal red" (Rom. 11:25–26 ABA). Hy het gedink dat hy dit wat by Pinkster begin het, moes voltooi. Waarom Is Dit Belangrik? Paulus het 'n bonatuurlike perspektief op sy lewe gehad. Hy het homself gesien as 'n instrument van God. En hy was. Dit was ook van toepassing op alle ander gelowiges wat na Pinkster (en dus voor Paulus) na hul eie land teruggegaan het en sodoende die Evangelie saamgeneem het na hierdie demoniese domeine. Dit geld ook vir ons. As ons, soos Paulus, 'n instrument van God is, hoe is dit dan moontlik dat hy soveel meer invloed gehad het en mense bereik het? Paulus het verstaan waaroor sy lewe gaan, dit is wat die verskil tussen hom en ons maak. Hy het geglo dat die magte en kragte van die duisternis werklik was en dat die God aan wie se kant hy gestaan het, sterker was. Glo u dit ook? Dit is wat die Bybel vir ons as vanselfsprekend maak. Dit was ook vir Paulus vanselfsprekend en hy het dit dus geleef. Paulus het nie geweet hoe groot die aarde werklik was nie. Hy was nie bekend met Noord-Amerika, Suid-Amerika, China, Indië, Noorweë, Australië, Ysland en vele ander lande nie. Gelukkig was hierdie lande aan God bekend. God het geweet dat die taak om die Evangelie aan al die nasies van die wêreld te bring, groter was as wat Paulus destyds kon verstaan. God het geweet dat andere in Paulus se voetspore moes volg om elke deel van die aarde met die Goeie Nuus te bereik. As ons nie hierdie missie aktief nastreef nie, dan doen ons nie waarvoor ons op aarde is nie. As ons net wil hê dat God iets vir ons moet doen, dan is ons meer soos die mense van Babel eerder as Jesus, die twaalf dissipels en Paulus. Wat ons meer kan leer uit die Bybelverse waarna ons gekyk het, is die Bybelse definisie van demoniese vestings. Dit beskryf nie presies hoe die grense van hierdie vestings loop, of hoe die hiërargie van die duisternis werk nie. Wat ons wel kan sien, is dat die onsigbare magte die aarde as hul domein beskou. Ons weet dat hierdie magte God se Koninkryk wil teëstaan en mense wil verhinder om by God en Sy plan aan te sluit. Dit beteken dat ons weerstand kan verwag wat ons nie alleen met gesonde verstand of wetenskap kan verduidelik nie en nie op ons eie kan verslaan nie. God het vir ons Sy Gees en onsigbare agente gegee om ons te help op hierdie sending (1 Kor. 3:16; 6:19; Heb. 1:13; 1 Joh. 4:4). Maar nou is die belangrikste vraag: hoe sou ons lewens anders wees as ons na die wêreld kon kyk met dieselfde, bonatuurlike, perspektief as Paulus? Sê nou ons leef met die wete dat ons God se familie is, en met die doel om ander broers en susters uit die duisternis te red? Wat as ons bewustelik leef, wetende dat elke keuse en elke woord wat uit ons mond kom, 'n doel het? Wat as ons glo dat onsigbare entiteite ons keuses, optrede en woorde kan gebruik om mense te beïnvloed ─ vir goed of kwaad? Ons werk, ons inkomste, ons talente en selfs ons probleme beïnvloed egter nie wie ons regtig is nie, wie ons sal word en wat ons doel op aarde is nie. Ons kan nie die bonatuurlike wêreld sien nie, maar net soos die wêreld van mikroskopiese lewe, wat ons nie met die blote oog kan sien nie, is dit steeds deel van ons eie wêreld. Vroeë gelowiges het die wêreld so gesien. Soos ons in die volgende hoofstuk sal sien, het hulle geglo dat die wêreld rondom hulle deur die duisternis onderdruk is. Eendag sou hierdie duisternis meegee. Ondanks die feit dat dit 'n klein groepie was in die aangesig van die vyandige wêreld met al sy magte, het die Christendom wêreldwyd ontstaan, danksy God en Sy onsigbare volgelinge wat saam met hulle gewerk het. Hulle het in die geestelike stryd geglo en dat hulle dit nie kon verloor nie. Ons is 'n lewende bewys daarvan. ________________ HOOFSTUK VEERTIEN: Nie van hierdie wêreld nie In die tuin van Getsemané, waar Jesus gebid het voordat hy in hegtenis geneem is, het hy dié bekende woorde oor Sy volgelinge gesê: "Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos ek nie behoort aan die wêreld nie." (Joh. 17:16). Gelowiges was beslis in die wêreld met die taak om die Evangelie na elke land te bring (Matt. 28:19–20), maar hulle was nie van hierdie wêreld nie. Hierdie paradoksale konsep is op verskeie maniere aan die vroeë Christene duidelik gemaak: Heilige Grond En God Se Teenwoordigheid Hoofstuk 8 verduidelik die konsep van heilige grond. Vir die Israeliete van die Ou Testament, was God heeltemal anders as enigiets op aarde. Die plek waar God se teenwoordigheid gewoon het, was anders. Dit verander nie die feit dat God oral en altyd teenwoordig ─ of 'alomteenwoordig' ─ is nie. Maar dit het die plek aangedui wat God gekies het om met Sy volk kontak te maak. Om hierdie rede is die Tabernakel en die Tempel gebou. Die konsep van heilige grond was nie net die rede vir al die wette, rituele en regulasies nie, dit was ook daar om die idee van kosmiese geografie duidelik te maak, die idee dat die wêreld verdeel was tussen die mindere gode en die Allerhoogste, die God van Israel. Die konsep van heilige grond maak 'n dramatiese verskyning in die Nuwe Testament. Al wat ons moet doen, is om onsself af te vra: "Waar is die Teenwoordigheid van God nou?" Selfs al is God alomteenwoordig, woon Hy in almal wat glo. Glo dit of nie, jy is heilige grond. Paulus skryf duidelik dat "...die Gees van God in julle as Sy tempel woon..." (1 Kor. 6:19). Dieselfde geld vir die grond waar gelowiges in groepe bymekaar kom. Paulus het aan die gemeente in Korinte geskryf dat hulle saam "'n tempel van God" is (1 Kor. 3:16). Hy het vir die gelowiges in Efese gesê dat hulle "lede van God se huisgesin" was (Ef. 2:19). Hy noem hulle "'n tempel wat aan Hom, die Here, toegewy is, in wie julle ook saam gebou is tot 'n plek waarin God deur Sy Gees woon" (Ef. 2:21-22). Die meeste van ons ken hierdie uitspraak van Jesus: "Waar twee of drie mense in my Naam bymekaar is, is Ek in hulle midde" (Matt. 18:20). As jy kyk na hierdie binne die konteks van die Ou Testament oor heilige grond, sien jy die volgende betekenis; hierdie stelling sê dat waar gelowiges ookal bymekaar kom, sal die geestelike grond wat hulle beset, geheilig word te midde van die magte van die duisternis. In die Ou Testament, het Yahweh uiteindelik vir Israel as Sy woonplek gekies ─ spesifiek die tempel in Jerusalem. Israel het heilige grond geword omdat God se teenwoordigheid daar gewoon het. Maar daardie heilige grond was bedreig deur die omliggende nasies en hulle vyandige gode. Net so is gelowiges vandag besig met geestelike oorlogvoering. Ons is nou God se tempel, die spesiale plek waar God se Gees woon en skyn van God se teenwoordigheid ─ en ons is versprei in 'n wêreld wat onderdruk word deur die magte van die bose. Uitlewering Aan Satan Paulus se siening van die heiligheid van die plaaslike kerk maak hierdie konsep duidelik. Elke byeenkoms van gelowiges is heilige grond en daar is geen ruimte vir doelbewuste sonde nie. Hoofstuk 8 het verduidelik hoe die Israeliete sondes hanteer het om die heiligheid van die kamp, hulle heilige grond, te bewaar. Dit het ook die dag van versoening ingesluit (Lev. 16), waar die sondes van die volk ritueel oorgedra is na die bok “vir Asasel” (Lev. 16:8, 10). Asasel was 'n demoniese figuur wat in die woestyn sou woon. Die Israeliete het 'n bok in die woestyn ingestuur wat hulle sonde weg gedra het. Dus is die sonde van alle mense op simboliese wyse oorgedra na die plek waar dit hoort ─ die woestyn, die plek waar die duisternis heers. Paulus laat die Korinthiërs op dieselfde manier met sonde afreken ─ stuur dit weg na waar dit hoort. In 1 Korinthiërs 5 skryf Paulus oor die man met seksuele sonde waarvan hy nie wil wegdraai nie. Hy beveel hulle om hierdie man aan Satan oor te gee! (1 Kor. 5:5). Sy motivering vir hierdie stelling was dat daar geen ruimte vir sonde op heilige grond was nie. Gelowiges moes diegene wat doelbewus wou aanhou sondig, uit die kerk gooi (1 Kor. 5:9-13). Om uit die kerk gegooi te word, het beteken om terug te gaan in die wêreld, terug na Satan se domein. Paulus het gehoop dat die resultaat vir die man wat hom nie wou bekeer nie, die volgende sou wees: “sodat sy sondige aard vernietig word, maar hyself verlos kan word op die oordeelsdag.” (1 Kor. 5:5). (Dit verwys nie na die fisiese dood nie, maar die dood van die vleeslike begeertes wat hierdie man in ‘n val lok [Gal. 5:24-25; 1 Kor. 11:32–33]). Doop As Geestelike Oorlogvoering Petrus se siening was dieselfde as Paulus s’n in hierdie situasie: gelowiges was in ‘n stryd met die magte van die duisternis. Hierdie oorlogvoering denkwyse kan gevind word in een van die vreemdste gedeeltes in die Nuwe Testament, 1 Pet 3:14-22: “Maar as dit inderdaad gebeur dat julle swaarkry omdat julle doen wat reg is, sal God sy seën op julle laat rus. Moet dus nie dat mense julle bangmaak of afskrik nie. Inteendeel, erken in julle harte Christus as die een wat seggenskap het. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer. Doen dit egter taktvol en eerbiedig. Sorg dat julle gewete skoon bly. Wanneer mense dan sleg van julle praat, sal hulle skaam kry wanneer hulle agterkom hoe voorbeeldig julle leefstyl is omdat julle aan Christus behoort. Hou in gedagte: As God beskik dat julle moet ly omdat julle goeddoen, is dit beter as om te ly omdat julle kwaad doen. Ons moenie dink dis net ons wat onverdiend ly nie. Ook Christus het só gely toe Hy eens en vir altyd vir ons sondes gesterf het. Hy het nooit enige sonde gedoen nie; tog het Hy vir sondaars gesterf om julle by God te laat tuiskom. Wat sy liggaam betref, het Hy gesterf, maar wat sy gees betref, is Hy lewend gemaak. Só het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en sy oorwinning daar aangekondig. Hierdie geeste is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy baie geduldig met hulle was. Dit het gebeur in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net agt mense is uit die verskriklike vloed gered. Die redding in die ark is ’n voorteken van die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop red julle deur die opstanding van Jesus Christus. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n pleit voor God dat jou gewete skoon bly. Christus hét die hemel binnegegaan. Hy sit nou aan die regterhand van God, met die engele, magte en kragte onder sy beheer.” Jy sien waarskynlik 'n paar eienaardighede in die stuk. Wat het die doop te doen met Noag se ark en gevange geeste? En beteken hierdie teks dat die doop ons red? Wat Petrus hier doen, is vergelykbaar met wat Paulus in Romeine 5 doen. Paulus praat hier van Jesus terwyl Adam terselfdertyd in gedagte was. Jesus is die teenoorgestelde van Adam. Daarom sê Paulus dinge soos "Soos uit die ongehoorsaamheid van een mens het alle mense sondaars geword, so sal alle mense regverdig wees" (Rom. 5:19). Toe Petrus oor Jesus geskryf het in 1 Petrus 3, het hy Henog in gedagte gehad in plaas van Adam. Maar vir Petrus was Jesus en Henog nie teenoorgesteldes nie. Petrus het Henog gebruik as 'n analogie vir iets wat hy oor Jesus wou oordra. Jy wonder waarskynlik na wie Petrus verwys het. In die Ou Testament vind ons slegs 'n paar verse oor Henog (Gen. 5:18-24). Hieruit kan ons sien dat hy voor die vloed geleef het, dat hy "naby aan God" geleef het en dat sy lewe tot 'n einde gekom het want “God het hom weggeneem" (Gen. 5:24). In geen van hierdie verse vind ons enige verband met die beskrywing van Henog in 1 Petrus 3 nie. Om te verstaan waarom Henog vir Petrus aan Jesus herinner, moet ons eers onthou dat Petrus oor Henog in die Joodse geskrifte buite die Ou Testament gelees het. Petrus was veral vertroud met 'n antieke Joodse skrif wat baie oor Henog te sê gehad het. Hierdie boek word natuurlik 1 Henog genoem. Hierdie boek beskryf breedvoerig wat tydens die vloed gebeur het. Daar word baie uitgewei oor Genesis 6:1-4, waar die seuns van God (Henog noem hulle “die wat wag hou”) kinders (die Nefilim reuse) saam met menslike vroue voortgebring het. Toe Petrus en Judas geskryf het oor die engele wat gesondig het in die tyd van Noag (2 Petr. 2:4–5; Judas 6), het hulle verwys na idees wat slegs in 1 Henog gevind kan word en nie in die Ou Testament nie. Byvoorbeeld, die verhaal van die vloed in Genesis vertel nie vir ons dat hierdie hemelse seuns van God vasgevang is in die onderwêreld tot aan die einde van die tyd nie. Dit staan egter in 1 Henog (1 Henog 6:1–4; 7:1–6; 10:4, 11–13). Iets het met hierdie "gevange geeste" gebeur wat vir Petrus aan Jesus herinner het. In 1 Henog word 'n droom van Henog beskryf waarin die gevange geeste hom vra om namens hulle iets van God te vra. Henog was immers naby aan God. Wie anders sou hulle kies om te pleit dat hulle vrygelaat word? Henog het gedoen wat hulle gevra het, maar het teruggekom met slegte nuus. God se antwoord was duidelik ‘nee’. Om hierdie antwoord aan die geeste te lewer, moes Henog neerdaal na die onderwêreld. Hy het dit aan hulle duidelik gemaak dat hulle steeds skuldig bevind is. Petrus het daardie storie gebruik as 'n analogie vir Jesus. Wat hy wou duidelik maak, was die volgende: Jesus het gesterf, in die onderwêreld neergedaal en daar 'n boodskap aan die gevalle entiteite oorgelewer. Toe hulle sien dat Jesus die doderyk binnegaan, het hulle waarskynlik gedink dat hulle mede-demone op aarde die stryd gewen het, en dat hulle binnekort vrygelaat sou word. Jesus het egter vir hulle gesê dat Hy net vir 'n rukkie sou bly ─ Hy sou binnekort weer uit die dood uit opstaan. Dit was alles deel van God se plan. Die gevalle geeste het nie gewen nie. In werklikheid was hulle net so veroordeel en verdoem soos altyd. Daarom sluit hierdie vreemde gedeelte met, Jesus "hét die hemel binnegegaan. Hy sit nou aan die regterhand van God, met die engele, magte en kragte onder sy beheer." (1 Pet. 3:22). Waarom verbind Petrus dit alles met die doop? In Petrus se gedagtes, is die dood en opstanding van Jesus ─ insluitende die verkondiging van Sy oorwinning oor die demoniese magte, in die doop gesimboliseer. Die doop simboliseer die dood en opstanding van Jesus (Rom. 6:1-11). Vir Petrus stem dit alles ooreen met die doop, want vir hom is dit " 'n pleit voor God dat jou gewete skoon bly" waarvoor ons kan vra "deur die opstanding van Jesus Christus" (1 Petr. 3:21). Die Griekse woord vir "pleit" verwys na 'n gelofte wat iemand maak. Die Griekse woord vir "gewete" beteken dikwels "om tussen goed en kwaad te kan onderskei," maar dit is nie hier van toepassing nie. Om die verskil tussen goed en kwaad te ken, hou geen direkte verband met Jesus se dood en opstanding nie. Die Griekse woord kan ook verwys na 'n belofte wat iemand geneem het om hulself toe te wy aan iets ─ 'n wyse eerder as dwase toewyding. Dit is waarna Petrus verwys in 1 Petrus 3. In wese was die doop 'n eed wat 'n persoon afgelê het en ‘n boodskap aan die donker magte (en natuurlik aan almal teenwoordig by die doop) oor aan wie se kant hy staan in hierdie geestelike stryd. Vroeë Christene verstaan dit beter as wat ons vandag doen. As gevolg van hierdie gedeelte, was dit algemeen in die vroeë kerk om Satan en sy engele te verwerp tydens die dooprituele. Waarom Is Dit Belangrik? Eerstens, verstaan dat gelowiges heilige grond is, die woning van God se Teenwoordigheid ─ die Heerlikheid van die Ou Testament. Leef ons egter so? Israeliete en die gelowiges van Jesus se tyd het altyd die behoefte gevoel om anders te wees as ongelowiges. Hulle doel was nie om vreemd te wees met die doel dat ongelowiges hulle wou vermy nie. Israel was bedoel om 'n "koninkryk van priesters" en " 'n heilige volk" te wees (Eks. 19:6). Om te lewe soos God dit beplan het, het gelei tot 'n vrugbare, produktiewe en gelukkige lewe. Deur na die lewens van die Israeliete te kyk, sou nasies wat deur vyandige gode onderdruk is, aangetrokke word om na die ware God terug te keer. God se plan is om die mense van elke nasie te red en hulle lede van Sy familie te maak. Wanneer ons wêreldbeskouing in lyn is met God se plan, is ons nie meer van hierdie wêreld nie. Om van hierdie wêreld te wees, beteken om opgeneem te wees in aardse belange en daarvolgens te woon. Ongelowiges moet in staat wees om te sien uit ons taal, gedrag, etiek en die hantering van ander, wat ons verskillend maak van hulle. Hulle moet in staat wees om te sien dat ons nie sinies, selfsugtig of wreed is nie en dat ons nie ander misbruik nie. Ons lewe nie 'n lewe wat om selfverryking draai nie. Ons is die teenoorgestelde van al daardie dinge. Met ander woorde, ons is hier om soos Jesus te lewe. Mense wou rondom Hom wees omdat Hy anders was as enigiemand anders. Tweedens, wat ons in die kerk doen, moet God en Jesus eer. In Bybelse tye, het 'n besoek aan die Tabernakel of die Tempel altyd gepaard gegaan met die herinnering aan God se volmaaktheid, hoe 'anders' Hy was, en die liefde vir Sy kinders. Dit het alles hand aan hand gegaan. Waarom sou hierdie God, wat bo alles staan en niks nodig het nie, 'n menslike familie wou hê? Waarom sou hierdie God moeite doen om 'n nuwe familie te begin nadat Hy eers alle nasies tydens Babel onteien het en hulle oorhandig het aan ander gode? Waarom het Hy dit nie gelos soos dit was nie? Omdat Hy ons liefhet! Omdat ons weet dat God 'n ander keuse kon gemaak het, maar getrou aan ons gebly het, kry Sy liefde 'n dieper betekenis. As ‘n kerk slegs van God se liefde praat sonder om die ironie van God se liefde, gemeet teen Sy ander eienskappe, te noem, kan ons gou Sy liefde as vanselfsprekend aanvaar. Dit kan miskien goedkoop lyk, veral vir mense wat God se heiligheid nog nie verstaan nie. Laastens, wat ons in hierdie hoofstuk bespreek het, is dat die donker magte deur ons gedrag weet aan wie se kant ons is. Hulle is nie dom nie. Hulle sien hoe getrou ons aan God is en hulle sien ook dat ons Jesus volg deur ons keuses en dade, soos die doop, en om sonde te weerstaan. Maar hulle sien ook wanneer ons ontrou optree en hoe dit ons kwesbaar maak. Of ons dit nou wil glo of nie, ons word deur albei leërs in hierdie geestelike stryd gesien. Om op hierdie manier te lewe is makliker gesê as gedaan. Selfs al is ons reeds verlos, val ons steeds. Om hierdie waarhede te leef, moet ons fokus met ons hele hart en siel oor waarom ons, as buitelanders in ons eie wêreld, op aarde is. Nie "in" nie, maar "van" hierdie wêreld, net soos Jesus (Joh. 8:23; 1 Joh. 4:4). Hierdie kontras, sowel as ons status, sal selfs duideliker word as ons beter verstaan wat dit beteken om kinders van God te wees. ________________ HOOFSTUK VYFTIEN: Deelnemers aan die Goddelike Natuur Weet jy wie jy is? Ek het dit al voorheen gevra, maar dit is tyd om hierdie vraag weer te vra. Ja, ons is 'in', maar nie ‘van’ hierdie wêreld nie. Ja, dis waar, ons word gered deur die genade van Jesus deur ons geloof (Ef. 2:8-9). Maar dit is net die begin van die openbaring van wat God met Sy plan wil bereik. God se oorspronklike plan vir Eden was dat mense aan dieselfde familie moes behoort as Sy bonatuurlike familie, die hemelse seuns van God wat reeds hier was voor God Sy skepping begin het (Job 38:7-8). Selfs ná die val, het hierdie plan onveranderd gebly. Christen, jy sal ‘n goddelike natuur ontvang, net soos een van God se elohim kinders, soos Jesus self (1 Joh. 3:1-3). Teoloë het baie verskillende name vir hierdie konsep. 'n Algemene term hiervoor is “verheerliking”. Petrus het geskryf dat gelowiges “deel gekry het aan sy Goddelike natuur" (2 Petr. 1:4). Johannes sê, "Onthou die liefde wat die Vader aan ons gegee het! Ons word kinders van God genoem en ons is." (1 Joh. 3:1). In hierdie hoofstuk kyk ons hoe die Bybel hierdie konsep verduidelik. Seuns Van God, Afstammelinge Van Abraham Toe God, by Babel, die nasies van die wêreld onder die mindere gode geplaas het, was Hy reeds van plan om oor te begin met sy eie menslike familie. God het Abraham geroep (Gen. 12:1-8) onmiddellik na die Babel-voorval (Gen. 11:1-9). Deur Abraham en Sara, sou God terugkeer na Sy oorspronklike plan vir Eden. God se volk, die afstammelinge van Abraham, die Israeliete, het daarin misluk om God se heerskappy op die aarde te herstel. Maar een van hierdie kinders sou wel slaag. God het mens in Jesus geword, 'n afstammeling van Dawid, Abraham en Adam. Deur Jesus, het God Sy belofte vervul om eendag die nasies te seën wat Hy by Babel gestraf het. Paulus het verskeie kere hieroor geskryf. Hier is twee voorbeelde: “’n Geheime plan is deur openbaring aan my bekendgemaak. Oor dié geheime plan het ek hierbo kortliks geskryf. Deur dit te lees kan julle ’n begrip vorm van my insig in die geheime Christusplan. God het hierdie geheime plan nie in vorige geslagte aan mense bekendgemaak nie, maar nou het Hy dit deur die Gees bekendgemaak aan die apostels en profete wat aan Hom toegewy is. Dié geheime plan is dat die nie-Joodse nasies deur Christus Jesus saam sal deel in die erfenis van God se volk, dat hulle saam lede van dieselfde liggaam is, en saam deel het aan die beloftes wat op grond van die Goeie Nuus verkry word.” (Ef. 3:3-6) “Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo. Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal. Nou is daar nie langer sprake van Jood of Griek, slaaf of vryman, man of vrou nie; julle is tog almal één in Christus Jesus. Verder, omdat julle aan Christus behoort, ís julle die nageslag van Abraham en dus erfgename van die belofte!” (Gal. 3:26-29) Soos verduidelik was in vorige hoofstukke, sien ons dwarsdeur die Ou Testament dat die nie-Israeliete in die gebiede van die laer gode geleef het aan wie God hulle by Babel toegewys het. Daar is alle nasies (behalwe Israel) onteien en uitgesluit van 'n verhouding met die ware God. Israel alleen was God se “erfdeel” (Deut. 32:9) uit die mensdom. Die Israeliete het baie terme vir die onterfde volke gehad, beide geografiese en etniese etikette (bv. Egiptenare, Moabiete, Amalekiete). Die mees omvattende beskrywing in die Nuwe Testament was die woord "heidene", ‘n etiket wat van die Latynse woord vir “nasies” (gens), afkomstig is. As jy nie 'n Jood was nie, was jy 'n heiden. Die verhaal van die Nuwe Testament gaan oor 'n afstammeling van Abraham ─ Jesus ─ wat gesterf het en opgestaan het uit die dood om nie net Abraham se etniese afstammelinge (Israeliete/Jode) te red nie, maar ook al die volke van die nasies wat afgesny is van die ware God. In die verse hierbo aangehaal, noem Paulus die insluiting van die heidene in God se familie “'n raaisel”. Hy was verstom dat die nasies wat God onteien het en wie onder die heerskappy van ander gode geval het, God se belofte aan Abraham kon beërwe. In Christus is almal wat die Evangelie aanneem, kinders van Yahweh, die ware God, die God van Abraham, Isak en Jakob (Joh. 1:12; Gal. 3:26; Rom. 8:14). Dit is waarom die Nuwe Testament praat van gelowiges as familie (seuns, kinders, erfgename) en praat van "aanneming" deur God (Rom. 8:15, 23 AFR53;Ef. 1:5; Gal. 4:4). Die Bybel is baie duidelik en doelbewus wanneer dit die woord “erfenis” gebruik. Dit vertel vir ons wie ons is: die nuwe hemelse-menslike familie van God. Die lot van gelowiges is om uiteindelik te word wat Adam en Eva was: onsterflike, verheerlikte beelde van God, wat in Sy teenwoordigheid leef. Maar selfs dit beskryf nie ten volle wie ons is nie. Die beste deel is hoe Jesus na ons kyk. Familie Reünie Die eerste twee hoofstukke van die brief aan die Hebreërs skets 'n spesiale beeld uit van God se gemengde familie ─ menslik en bonatuurlik. Ek dink dit is een van die wonderlikste gedeeltes in die Bybel. Hebreërs 1 maak die punt dat Jesus "oneindig groter as die engele" is (v. 4). Niemand is hoër in God se hemelse raad as Jesus nie, Hy is immers God. Trouens, die skrywer maak dit duidelik dat nie een van die engele in staat was om mens te word en die Koninkryk te erf nie, daarom moet "al die engele van God Hom aanbid” (v. 5-6). Jesus is koning. Verbasend genoeg, toe Jesus 'n mens geword het, was Jesus 'n tyd lank minder waardig as die engele. Hy was een van ons. Mense is laer as bonatuurlike wesens soos engele. Die skrywer van Hebreërs vra: "Wat is die mens dat U aan hom sou dink, ’n mensekind dat U aan hom sou aandag gee? Vir ’n klein rukkie het U hom minder gemaak as die engele; U het hom met heerlikheid en eer gekroon. U het alles onder sy beheer geplaas.” Wanneer die Skrif sê “alles” is onder die mens se beheer geplaas, beteken dit werklik álles. Tog sien ons nou nog glad nie dat alles reeds onder die mens se beheer is nie. Maar ons sien wel vir Jésus. Vir “’n klein rukkie” is Hý “minder gemaak as die engele”, maar nou is Hy “met heerlikheid en eer gekroon” omdat Hy vir ons die doodslyding deurgemaak het. Ja, Hy het deur God se genade vir elke mens gesterf. (Heb. 2:6-9) Wat is die gevolg van Jesus se optrede? Ons antwoord mag "ons verlossing" wees. Dit sou reg wees, maar die skrywer van Hebreërs probeer iets vir ons nog duideliker maak. Omdat God in Jesus mens geword het, sal Sy sterflike volgelinge bonatuurlik gemaak word en by dieselfde familie aansluit. Eendag, wanneer ons sterf of wanneer Jesus terugkom en die nuwe Koninkryk van Eden op aarde voltooi, sal Hy ons voorstel aan die res van die hemelse raad. Hy het soos een van ons geword, sodat ons soos Hy kon word: “God – wat alles gemaak het en op wie alles gerig is – wou baie mense deel laat kry aan die heerlikheid. Daarom was dit net gepas dat Hy hulle Voorganger – naamlik Jesus wat vir hulle die pad tot verlossing sou oopmaak – deur lyding volkome vir sy taak gereedmaak. Nou is dit so dat sowel Jesus – dié Een wat geheilig is – as almal wat deur Hom geheilig word, dieselfde Vader het. Dit is waarom Jesus nie huiwer om hulle sy broers en susters te noem nie. Want Hy sê vir God: “Ek sal u Naam bekendmaak aan my broers en susters. Ek sal in u gemeente u lof besing.” Hy sê ook: “Ek sal vas op Hom vertrou.” En verder: “Hier is Ek saam met die kinders wat God My gegee het.” (Heb. 2:10-13) Jesus skaam hom nie dat Hy mens geword het ─ dat Hy laer geword het as die elohim van God se raad nie ─ in plaas daarvan is Hy trots daarop. Dit was alles deel van ‘n strategies deurdagte plan. Hy staan voor die raad ("die gemeente") en stel ons voor: Kyk! Kyk na my en die kinders wat God vir my gegee het. Ons sal vir altyd saam wees. En dit was die plan van die begin af. Ons deelname aan God se bonatuurlike, hemelse familie is ons voorland. Paulus beskryf dit pragtig in Romeine 8:18-23 : “Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie. Die skepping smag na daardie dag wanneer God sy kinders openlik bekend sal stel.... Wat meer is, ons wat die Gees as voorsmaak en waarborg van ons toekomstige heerlikheid ontvang het, kreun ook in ons binneste in ons smagting om van ons verganklike liggame verlos te word.” Paulus het die getroue gelowiges met hierdie boodskap bemoedig. Hy het vir die Romeinse Christene gesê dat hulle bestem was om "gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders" (Rom. 8:29 AFR53). Hy het aan die Korintiese Kerk gesê: "Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ’n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee." (2 Kor. 3:18). Paulus het ook gesê dat ons menslikheid verander sal word: "Want ons verganklike aardse liggame moet in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie." (1 Kor. 15:53). Vir Petrus, het hy nou deel geword van God se familieraad wat “deelgekry het aan sy Goddelike natuur" (2 Pet. 1:4). Johannes sê eenvoudig dat "ons net soos Hy sal wees" (1 Joh. 3:2). Waarom Is Dit Belangrik? As Christene, het ons moontlik dikwels gehoor dat ons soos Jesus moet wees. Dit is beslis ook so. Maar wanneer ons dit hoor dink ons, ons moet meer in ons aksies wees, meer moreel of net "minder sleg." Ons verander iets wat ons skaars kan verstaan ─ die idee dat ons eendag net soos Hy sal wees ─ in 'n prestasie verpligting. In plaas daarvan om skuldig te voel oor hoeveel ons nie soos Jesus is nie en weer 'n belofte maak "om beter te doen," moet ons, ons denke laat vernuwe. Die seën van wat Hy vir ons gedoen het en vir ons sal doen, sal ons denke verander oor “om soos Hy te wees”. Ons kan 'om soos Jesus te wees' verander in 'n taak wat ons moet uitvoer, “anders sal God kwaad word”, maar dit is ‘n verkeerde teologie. Op hierdie manier verander Sy genade vir ons in 'n verpligting. In plaas daarvan, kan ons dankbaar wees dat God ons sal verander, 'n verandering wat God met trots en opgewondenheid vir ons vooraf bestem het (Rom. 8:29). Ons kan so leef dat die mense wat onder die heerskappy van die donker magte val, tot God se familie wil behoort. Die eerste perspektief is na binne gerig, die ander kyk hemelwaarts. Die Christelike lewe op aarde gaan nie oor die vrees dat ons sal misluk om God gelukkig te maak nie. Hy het ons immers liefgehad toe ons nog slawe van die duisternis was. Christelike lewe gaan regtig oor die volgende twee konsepte; eerstens, ons aanneming in God se familie, wat beteken dat Jesus ons broer is en dat God ons liefhet soos Hy Jesus liefhet. Tweedens, ons rol in God se plan om Sy Koninkryk op aarde te herstel. Ons is en sal deel wees van God se hemelse raad. Hy is ons Vader, ons is Sy kinders, bestem om in die plek te woon waar Hy vir ewig sal wees. Ons is Sy medewerkers in die taak om diegene te bevry wat steeds onder die heerskappy van die dood is en gevange gehou word deur die onsigbare donker magte. Dit is waaroor die Bybel gaan: van Eden tot Eden. Dit is jou lewensdoel. Jou aardse lewe gaan nie daaroor om jou plek in God se familie te verdien nie. Jy kan dit ook nie verdien nie, dit is 'n geskenk. Jou aardse lewe gaan daaroor om jou dankbaarheid vir jou aanneming in God se familie te wys, dit te geniet en andere te kry om daarin te deel. HOOFSTUK SESTIEN: Heers oor Engele Om te weet wie ons as Christene is, is van kritieke belang vir ons geloof. Ons is die seuns en dogters van God, ‘n hervormde hemelse raad wat reeds deelneem aan die Koninkryk van ons Vader. Maar daar is meer daaraan as net dit. Ja, ons is God se familieraad ─ maar vir watter doel? Alhoewel ons reeds in die Koninkryk is (Kol. 1:13), het ons nog nie die volle openbaarmaking van die Koninkryk gesien nie ─ ons het nog nie gesien dat die hele aarde in Eden verander het nie. Hierdie paradoksale konsep van "nou, maar nog nie" word op verskillende maniere in die Bybel gesien. In hierdie hoofstuk wil ek vir jou 'n voorsmakie gee van die "nog nie" deel. Hieruit sal dit duidelik word vir watter doel ons in God se familieraad is. Deelname Aan Die Koninkryk Nou Ons deelname aan God se Koninkryk is nie vooraf bepaal nie, in die sin van: ons is nie slegs robotte vir wie alle take en funksies reeds vooraf geprogrammeer is nie. Dit skend die hele idee dat ons God se beelde, Sy verteenwoordigers, is. Ons is gemaak om soos Hy te lyk. Hy het vrye wil. As ons nie ware vryheid het nie, kan ons nie soos Hy lyk nie ─ per definisie sou ons dan nie soos Hy wees nie. Ons is vry om Hom te gehoorsaam en te aanbid, of om in opstand te kom en te lewe vir ons eie begeertes. En wat ons saai, sal ons ook maai. Ons saai is nie vooraf geprogrammeer nie. Maar God is groter as ons. Hy het 'n plan wat sal gebeur. Die uitkoms van daardie plan is nie afhanklik van, of beïnvloed deur menslike vrye wil nie. Ons kan dit nie ondermyn nie ─ ook nie die hemelse wesens wat vryheid het om te kies nie. Dink aan die vergadering van die hemelse raad wat ek in Hoofstuk 1 gewys het. Ek het gevra of jy regtig geglo het wat die Bybel sê. Toe neem ek jou na 'n vergadering van God en Sy hemelse raad in 1 Konings 22. God het beveel (so dit móet gebeur) dat die bose Koning Agab moes sterf. Die gode in Sy raad was egter toegelaat om te bepaal hoe hy sou sterf (1 Kon. 22:19-23). Voorbestemming en vrye wil gaan hand-aan-hand in die bestuur van God se Koninkryk. God se voorneme sal nie gestop of verander word nie. Dit is vir Hom moontlik om sonde en rebellie te vat, en steeds Sy eie doelwitte te bereik ─ deur middel van Sy ander vrye verteenwoordigers. Soos C. Lewis eens gesê het (in sy boek Perelandra); "Wat jy ook al doen, Hy maak 'n goeie ding daaruit. Maar nie die goeie wat vir jou sou wag as jy aan Hom gehoorsaam was nie." Met watter doel, in die hier en nou, is ons God se familieraad? Om saam met God deel te neem aan die verlossing van mense uit die duisternis. Om vir mense te wys hoe om regverdig en met genade te lewe ─ ons na-aap God om Hom aan ander te wys. Om die waarheid oor die ware God te verdedig en te versprei in 'n vyandelike wêreld wat onderdruk word deur jaloerse bonatuurlike intelligensie. Om die lewe te geniet soos God bedoel het. Al hierdie roepings is opleiding vir die toekomstige Koninkryk. Soos Paulus die Korintiërs gevra het, wat hulle goddelike perspektief verloor het terwyl hulle oor aardse sake gestry het: "Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie?” (1 Kor. 6:3). Hy het dit ernstig bedoel. Paulus het probeer om 'n spesifieke punt met hierdie stelling te beklemtoon. Aangestel Oor Die Nasies Die finale vorm van die Koninkryk moet nog kom. Wanneer dit daar is, sal die magte van die duisternis verslaan wees. Die demoniese gode sal hulle heerskappy oor die nasies vir ewig verloor en vervang word deur God se verheerlikte, menslike familie en raad. Kyk na wat Jesus in die boek Openbaring gesê het: “Ek lê op julle geen ander verantwoordelikheid nie, behalwe om vas te hou aan wat julle het totdat Ek kom. Aan die een wat aanhou oorwin en enduit my werke praktyk maak, sal Ek bevoegdheid gee oor die nasies. Hy sal die nasies met ’n ysterstaf beheer en hulle soos kleipotte stukkend breek. Net soos Ek dit van my Vader ontvang het, sal Ek vir hom die môrester gee.” (Op. 2:24b-28) Wanneer Jesus terugkeer om Sy troon op die nuwe aarde ─ 'n nuwe, wêreldwye Eden ─ in te neem, sal Hy dit met Sy broers en susters deel. Alle owerhede en magte sal van hulle trone neergewerp word, en ons sal hulle plek inneem. Hulle heerskappy sal nie oorhandig word aan engele wat getrou is aan God nie ─ ons sal bo die engele uitstyg in God se finale Edeniese Koninkryk. Jesus sal Sy menslike broers en susters in beheer plaas. Is jy verbaas oor daardie laaste stelling in Openbaring 2:28? "sal Ek vir hom die môrester gee"? Dit klink vreemd, maar dit praat van die heerskappy oor die nasies wat Jesus met ons deel nadat Hy met die bose magte afgereken het. "Môrester" is 'n term wat gebruik word om hemelse wesens te beskryf (Job 38:7). Dit is ook 'n messiaanse term. Aangesien die Messias hemels is, was hierdie soort “sterre-terme” soms gebruik om Sy naderende heerskappy te beskryf. Numeri 24:17 sê, " 'n Ster styg uit Jakob, 'n septer van Israel." In Openbaring beskryf Jesus homself as volg: "Ek is die seun van Dawid, sy afstammeling, die stralende môrester" (Op. 22:16). Hierdie is kragtige woorde in Openbaring 2:25-28. Jesus sê nie net dat Hy die Messiaanse môrester is nie, maar Hy gee ons ook die môrester. Hy deel Sy Messiaanse heerskappy met ons. Openbaring 3:20-21 gaan selfs verder, sodat gelowiges nie hierdie punt kan mis nie: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die fees-ete saam geniet. Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.” (Op. 3:20-21) Vir watter doel is ons deelnemers aan die goddelike natuur? Waarom stel Jesus ons voor aan die hemelse raad as Sy broers en susters? Sodat God vir ons heerskappy oor die aarde kan gee, soos Hy oorspronklik bedoel het. Die hemel sal terugkeer na die aarde in 'n nuwe, globale Eden. Die Ewige Eden Sedert die eerste hoofstuk in Genesis, was Eden die fokus van God se plan vir die mensdom, Sy bonatuurlike beelde en vir Sy Koninkryk. Dit is dus nie 'n verrassing of 'n toeval dat die laaste hoofstuk van Openbaring ons terugneem na Eden nie: “Toe het die engel aan my die rivier met lewegewende water gewys. Dit is helder soos kristal en vloei vanaf die troon van God en van die Lam. Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Dit dra twaalf keer per jaar vrug; elke maand dra hy sy vrugte. En die blare van dié boom gee genesing aan die nasies. Geen vervloeking van enigiets sal langer meer bestaan nie. Die troon van God en van die Lam sal in die stad staan en sy diensknegte sal Hom dien. Hulle sal Hom vol in die oë kyk, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees. Daar sal ook geen behoefte aan die lig van ’n kandelaar of van die son wees nie omdat die Here God vir hulle lig sal gee, en hulle sal vir altyd as konings regeer.” (Op. 22:1-5) Sien jy dat die boom van die lewe die nasies sal genees? Die nasies wat voorheen deur owerhede en magte gedomineer was, sal nou regeer word deur die nuwe seuns en dogters van God ─ ek en jy. Dit is nie die eerste keer dat die boom van die lewe in Openbaring genoem word nie. In Openbaring 2:7 en 2:11 praat Jesus met diegene wat aanhou glo tot die einde toe; “Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek laat eet van die boom van die lewe wat in die paradys van God staan.... [en] sal nié deur die tweede dood getref word nie.” Die verwysing na die boom van die lewe het duidelik te doen met Eden. Die eerste dood verwys na die fisiese dood, in die wêreld ingebring danksy Adam se sonde en verbanning van Eden. Alle mense, gelowiges en ongelowiges, sal opstaan op die dag van die Laaste Oordeel. Daarom is hierdie Laaste Oordeel die tweede dood (Op. 21:8). Diegene wat saam met God in die nuwe Eden bly, sal nie die tweede dood ly nie. Waarom Is Dit Belangrik? Baie Christene het 'n onvolledige siening van die hiernamaals. Die Bybel gee ons nie 'n volledige beeld van hoe dit gaan wees nie maar sommige dinge is egter kristalhelder. Ons sal nie op harpe speel of sing terwyl ons op wolke sweef nie. Ons sit nie net op hemelse banke en gesels met oorlede familielede of beroemde gelowiges van die verlede nie. In werklikheid sal ons die lewe leef wat Eden ons aangebied het! Ons sal sorg vir en geniet wat God gemaak het, saam met die hemelse wesens wat aan Hom getrou gebly het. Die hemel en die aarde sal nie meer aparte plekke wees nie. Om te weet wat ons finale bestemming is, behoort ons denke te verander in die hier en nou. Soos Paulus gesê het; “Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet.” (1 Kor. 2:9). Om te weet hoe skouspelagtig en heerlik hierdie uitkoms sal wees, help om ons huidige situasie in perspektief te sien. Nadat Paulus hierdie woorde geskryf het, het hy in sy tweede brief aan die Korintiërs gesê: “God, die Vader van ons Here Jesus Christus, word geprys! Hy is die Vader van barmhartigheid en die God wat in elke opsig bemoedig. In al ons swaarkry bemoedig Hy ons. ... Ons wil nie hê dat julle, broers en susters, oningelig moet wees oor ons swaarkry in die provinsie Asië nie. Om die waarheid te sê, ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek.” (2 Kor. 1:3-9) God kan ons aan die lewe hou. Maar selfs in die dood sal ons opgewek word om saam met Jesus op die troon te sit (Op. 3:21). Ons kan op twee maniere leef: met, of sonder ons finale bestemming in sig. As ons bewus is van ons einddoel, moet dit ons gedrag beïnvloed. As jy geweet het dat jy eendag saam met iemand gaan woon of saamwerk in dieselfde kantoor, maar dit is iemand wat jy net gekritiseer en verkleineer het of net nie van hou nie, dan sou jy meer tyd en energie daaraan bestee het om 'n vredemaker te wees, iemand wat ander aanmoedig of dalk selfs 'n vriend vir hulle te wees. Hoe is dit dan dat ons soms ons naaste gelowiges so sleg behandel? Waarom doen ons soms meer moeite om ongelowiges soos vyande te hanteer in plaas daarvan om Jesus aan hulle te wys? Ons het óf ons oë op die ewige lewe óf nie. Hoeveel heerskappy moet Jesus met jou deel om jou gelukkig te hou? Miskien is dit 'n snaakse vraag gegewe dat elke gawe wat Jesus aan ons oorhandig fantasties sal wees. So, waarom stry ons met ander gelowiges ter wille van status? Waarom veg ons mekaar vir aandag en vir persoonlike gewin? Is ons dieselfde as die Korinthiërs wat herinner moes word aan hulle toekoms deur Paulus? Ons is óf tevrede om saam met Hom te regeer óf nie. Christen, dit is tyd om te leef asof jy weet wie jy is en wat God se planne vir jou is. ________________ Gevolgtrekking Ons het aan die einde van ons reis gekom. Maar dit is waarskynlik beter om te sê dat ons nou eers begin het. Ons het onsself 'n paar fundamentele vrae gevra: Is daar enige ander gode? Indien wel, hoe beïnvloed dit ons interpretasie van die Bybel? Wat beteken dit vir ons geloof wanneer ons aanneem dat die onsigbare wêreld van die Bybel werklik bestaan ─ nie net vir die bekende en aanvaarde Bybel verhale nie, maar ook die onduidelike en dikwels geïgnoreerde gedeeltes? Toe ek eers die bonatuurlike ontdek, wat soos 'n draad dwarsdeur die verhaal van die Bybel loop, het ek besef dat ek anders moes dink oor baie dinge. Ek kan al hierdie dinge in twee woorde opsom: identiteit en lewensdoel. Ek hoop jy is uitgedaag in beide gebiede deur hierdie boek te lees. Ons Identiteit: Ons Behoort In Die Familie Van God Wat ons in hierdie boek bespreek het, het belangrike implikasies vir wat dit beteken om 'n Christen te wees. In die Nuwe Testament word dit dikwels beskryf as "om in Christus Jesus te wees." Sodra ons besef dat die gode van die Ou Testament werklik bestaan, kry die verbod op die aanbidding van gode anders as Yahweh, 'n hele ander betekenis. Hierdie stelling beteken nie slegs dat jy nie aandag moet skenk aan geld of motors of bote nie. Dit gaan oor God se jaloerse liefde vir Sy mense. Met ander woorde, die opdrag beteken letterlik wat dit sê. Die waansin van lojaliteit aan enige ander god as die God van alle gode, is moeilik om te mis. Die aakligheid om saam te leef met die gevolge van hoe God die gode en hulle mense (die "nasies") beoordeel het, is ook redelik voor die hand liggend. Ons was eens onterf, verslaaf aan die korrupsie en uitbuiting van ander gode. Ons was, soos Paulus sê, van God vervreem en uitlanders van sy verbondsliefde (Ef. 2:12). Ons was verlore, verslaaf aan die duisternis, vyande van God in die diens van onsigbare heersers (Ef. 4:18; Kol. 1:21). Om die idee te verstaan, maak konsepte soos “aanneming” en “erfenis” meer betekenisvol. Dit gee konteks aan hierdie konsepte. God was nie bereid om Sy plan, om saam met Sy familie op aarde te lewe, prys te gee nie. Hy wou saam met Sy familie geniet wat Hy gemaak het. Ja, by Babel het Hy inderdaad sy rug gedraai op die mensdom, maar onmiddellik daarna het Hy Abraham geroep om 'n nuwe familie te begin ─ en om die kanaal te wees waardeur die onterfde nasies die weg terug na hom kon vind (Hand. 17:26-27). Om die werklikheid van die Bybelse bonatuurlike wêreld te omhels is van kardinale belang om die Bybel te verstaan. Dit verduidelik waarom, soos die Ou Testament aangaan, die sonde van afgodery anders was as enige ander sonde. Dit was dié sonde. Israel was geroep om getrou aan God te wees; toe sy die ander gode aanbid het, was sy in balingskap gestuur en onterf, net soos die ander nasies. Dit is 'n belangrike rede waarom redding in die Bybel altyd in terme van geloof beskryf word. God is uiteindelik nie op soek na beter gedrag nie. Hy is op soek na geloof — geloof en lojaliteit. Wanneer ons kies om die God van die gode te volg, sal Hy ons red. As ons 'n ander god kies, sal ons maai wat ons gesaai het. Om met lojaliteit te glo, beteken vandag vir ons om te aanvaar wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het. Hy het immers 'God as mens' geword. Ons etiek en gedrag (ons werke) gaan nie daaroor om lojaal (goed) genoeg te word sodat God ons kan aanvaar nie. Ons volg Sy bevele omdat ons alreeds gekies het om Hom te volg. En Sy bevele lei ons tot geluk en tevredenheid, soos hulle ons weglei van die vernietiging van onsself en ander. Hulle gee vir ons 'n voorsmaak van hoe die lewe in harmonie saam met God en die res van Sy familie ─ ons familie ─ die sigbare en die onsigbare, in Sy Koninkryk, die nuwe Eden sal wees. Ons Lewensdoel: Ons Rol In God Se Plan, Die Herstel Van Eden Om 'n lid van God se familie te wees, het een voorwaarde: standvastige lojaliteit aan die God bo alle gode wat na ons gekom het in die persoon van Jesus Christus. Hierdie lidmaatskap gee ons nie net wonderlike voorregte nie, maar ook 'n duidelike doel vir ons lewens. Die lede van God se familie het 'n sending: om God se agente te wees om sy goeie heerskappy op aarde te herstel en die lidmaatskap van sy gesin uit te brei. Ons is God se middele om die groot ommekeer wat begin het in Handelinge 2, die geboorte van die Kerk, die liggaam van Christus, vooruit te dryf totdat Jesus terugkeer. Na die eerste mislukking in Eden, het boosheid soos 'n siekte onder mense versprei. So sal die Evangelie versprei word as 'n teenmiddel deur dieselfde besmette gashere. Ons is draers van die waarheid van die God bo alle gode en Sy liefde vir alle nasies. Ons is draers van Sy onveranderlike begeerte om saam met Sy familie op aarde te lewe, soos Hy sedert die begin van die skepping wou hê. Eden sal weer lewe. Dit is 'n wetenskaplike feit dat die vastelande elke jaar verder uitmekaar beweeg. Maar ons kan dit nie met ons menslike sintuie waarneem nie. Ons kan dit eers daarna evalueer. So is dit met die bestendige en onomkeerbare vordering van die Koninkryk van God. Dit is nie sigbaar vir die blote oog hoe die domein van die gode (die magte van die bose) dag vir dag krimp, of hoe die Evangelie een na die ander mens bevry van hierdie onderdrukking nie. Tog is dit 'n ononderskeibare sekerheid. Om onsself in hierdie prentjie te sien, moet ons verstaan dat God steeds Sy plan uitvoer, selfs wanneer ons dit nie sien nie. Ons kan nie sê dat ons werklik in 'n bonatuurlike en onsigbare wêreld glo terwyl ons nie glo dat God se intelligente voorsiening aan die werk is in ons eie lewens, en in die geskiedenis van die mensdom nie. God wil hê ons moet doelgerig lewe: om te glo dat Sy ongesiene hand en Sy onsigbare agente wat getrou is aan Hom en ons (Heb. 1:14), by ons omstandighede betrokke is, sodat God se doel vir 'n wêreldwye Eden onstuitbaar verder kan versprei. Elke Christen speel ‘n belangrike rol om die weg na die Koninkryk vir iemand duidelik te maak en om hierdie Koninkryk te verdedig. Elke dag bied ons geleenthede om met mense in verbinding te kom wat onder die heerskappy van die donker magte is. Elke dag maak ons kontak met mense onder die heerskappy van die duisternis, en geleenthede om mekaar aan te moedig in die moeilike taak om ons doel in 'n onvolmaakte wêreld te vervul. Alles wat ons doen en sê, is belangrik, al weet ons miskien nooit hoekom of hoe nie. Maar ons taak is nie om te sien nie - dit is om te doen. Om te lewe deur geloof is nie passief nie - dit is doelgerig. ________________ Gebed vir Vergifnis Gebed Vir Vergifnis - 'n Waardevolle Geskenk 'n Gebed vir vergifnis is iets waarna ons almal op een of ander stadium in ons lewens soek. Vergifnis is 'n waardevolle geskenk wat nie maklik verkry of maklik gegee word nie. Vergifnis is noodsaaklik in die lewe; dit bevry ons van dinge wat ons in die verlede verkeerd gedoen het en gee ons hoop vir die toekoms. Dit is ter wille van vergifnis dat Jesus Christus aarde toe gekom het om vir die mensdom te sterf. Gebed Vir Vergifnis - Moontlik Gemaak Deur Jesus Christus Die gebed vir vergifnis is 'n gebed wat aan God gelewer is. Alhoewel ons mense mekaar kan seermaak, pleeg ons uiteindelik al ons sondes teen God self. Jy kan wonder hoe dit moontlik is. Hoe kan ons misstappe die almagtige Skepper van die heelal seermaak? Gee God selfs om? In Genesis 6 lees ons dat God self eintlik hartseer was oor al die verkeerde dinge wat mense aan mekaar gedoen het: "Die Here het die omvang van die boosheid van die mensdom op aarde raakgesien. Hy het opgemerk dat hulle gedagtes gedurig sleg was. Die Here was spyt dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep bedroef." (Gen. 6:5-6). God is alwetend en is reeds hartseer by die blote gedagte van boosheid. Die uiteindelike vergifnis moet dus ook van God af kom. Maar as gevolg van Sy geregtigheid, kan vergifnis nie vrylik geskenk word nie. Daar moet rekening gehou word van elke onreg sodat God 'n regverdige regter kan wees. Jesus Christus het in ons plek aan die kruis op Golgota gesterf sodat ons sondes vergewe kan word. Sy lyding het vir ons sondes betaal. "want dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet sodat hulle sondes vergewe kan word." (Matt 26:28) In sy liefde het God geweet dat ons gewete bevry moes word van skuld en veroordeling. Hy het geweet dat vergewing van sondes ons grootste behoefte is. Met Sy finale liefdesdaad het God nie net die pyn van ons onreg gely nie, maar ook die gevolge daarvan betaal, sodat ons vergifnis kan kry wanneer ons sondig. Al wat ons hoef te doen is om Sy gratis geskenk van vergifnis te aanvaar. Gebed Vir Vergifnis - Vra God Vir Vergifnis Miskien het jy op hierdie artikel afgekom op soek na 'n gebed van vergifnis om 'n gekwelde siel te sus. Of miskien sukkel jy om iemand anders te probeer vergewe omdat hy of sy jou diep seergemaak het. Vir almal wat Jesus Christus as hul Heer en Verlosser aanneem, is daar vrylik vergifnis gegee. As ons, ons oortredings erken en om vergifnis vra, sal God ons vergewe ─ geen vrae word gevra nie: "As ons ons sondes bely, is Hy getrou en regverdig om ons ons sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig" (1 Joh. 1: 9). Maar as ons Jesus verwerp, verwerp ons eintlik God se gawe van vergifnis. Ons sê eintlik dat ons nie met God versoen wil word nie (1 Joh. 1:10). Alhoewel dit ons vrye keuse is om nie God se vergifnis te aanvaar nie, sal ons eendag aan die einde van ons lewens aanspreeklik gehou word vir al die sondes wat ons gepleeg het. Dit is God se opregte begeerte om met jou versoen te word. "Want God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat almal wat in Hom glo, nie verlore is nie, maar die ewige lewe kan hê" (Joh. 3:16). As jy verlang om waarlik vergewe te word, onthou wat Jesus gesê het en aanvaar hom opreg as jou Here en Verlosser. Jy sal vergewe word en God sal Sy transformerende werk in jou lewe begin. Gebed Vir Vergifnis - Kry 'n Nuwe Lewe Die gebed vir vergifnis gee ons nuwe hoop en 'n nuwe begin. Al ons sondes word deur God uitgewis. "Ek sal hulle ellende vergewe en ek sal nie weer aan hulle sondes dink nie." (Heb. 8:12). As jy verstaan dat jy 'n sondaar is en dat Jesus Christus aarde toe gekom het as die enigste Verlosser van sonde, dan verstaan jy nou die gebed vir vergifnis. Die vraag is ─ is jy gereed om hierdie gebed te implementeer deur God se gawe van Sy seun, Jesus Christus, te ontvang? Indien wel, glo in Christus, bekeer jou van jou sondes en wy die res van jou lewe toe aan Hom as Here: "Vader, ek weet dat Ek u wette verbreek het en dat my sonde my van U weggehou het. Ek is werklik jammer en ek wil nou wegdraai van my vorige sondige lewe na U. Vergewe my asseblief en help my om op te hou sondig. Ek glo dat U seun, Jesus Christus, vir my sondes gesterf het, dat Hy uit die dood opgestaan het, geleef het en my gebede gehoor het. Ek nooi Jesus uit om die Here van my lewe te word, om van vandag af in my hart te heers. Stuur asseblief U Heilige Gees om my te help om U te gehoorsaam en U wil vir die res van my lewe te vervul. Ek bid hiervoor in die Naam van Jesus. Amen." "Draai weg van jou huidige lewe en word gedoop onder die aanroeping van Jesus Christus om vergewe te word vir jou sondes. Dan sal die Heilige Gees aan julle geskenk word" (Hand. 2:38). As jy vandag besluit het om Jesus te ontvang: welkom by God se familie! Die Bybel vertel ons dan van 'n manier om op te volg op ons besluit. • Word gedoop soos Jesus ons beveel het. • Vertel iemand anders van jou nuwe geloof in Christus. • Maak elke dag tyd vir God. Dit hoef nie 'n lang tydperk te wees nie. Ontwikkel net 'n daaglikse gewoonte om tot Hom te bid en Sy woord te lees. Vra God om jou geloof te versterk en jou begrip van die Bybel te verhoog. • Soek die geselskap van ander Christene. Probeer om 'n groep Christen vriende rondom jou te bou wat jou vrae kan beantwoord en jou ondersteun. • Sluit aan by 'n plaaslike kerk waar jy God kan aanbid. WAT DINK JY? ─ Ons het almal gesondig en almal verdien God se oordeel. God, die Vader, het Sy enigste gebore Seun gestuur om daardie oordeel aan te neem vir almal wat in Hom glo. Jesus, die Skepper en die ewige Seun van God, wat self 'n sondelose lewe geleef het, het ons so liefgehad dat Hy vir ons sondes gesterf het om die straf wat ons verdien op Homself te neem. Volgens die Bybel, is Hy begrawe en het Hy opgestaan uit die dood. As jy dit waarlik glo en vertrou in jou hart, alleenlik Jesus aanvaar as jou verlosser en kan verklaar dat "Jesus is die Here," dan sal jy gered word van oordeel en die ewigheid saam met God in die hemel deur te bring. Wat is jou antwoord? ________________ Skrywer se versoek Bonatuurlik is 'n verkorte weergawe van my akademiese en grootskaal gedetailleerde boek The Unseen Realm: Recovering the Supernatural worldview of the Bible (Lexham Press, 2015 ISBN: 9781577995562). Ek hoop Bonatuurlik was tot geestelike verryking vir jou. Danksy skenkings van mense wat omgee vir die inhoud van hierdie boek, het ek die geleentheid om hierdie boek weg te gee. As jy wil help om meer van hierdie tipe werk gratis beskikbaar te stel, oorweeg asseblief om 'n skenker van Miqlat te word. Dit kan gedoen word deur miqlat.org. Vir meer Bybelverwante onderwys, kyk na my webwerf drmsh.com of luister na my Naked Bible Podcast op nakedbiblepodcast.com. Die naam "Naked Bible" is 'n verwysing na my begeerte om mense in die Bybel te leer sonder die filters van moderne tradisies, kerklike denominasie of ander godsdienstige filters. Soos jy op my webwerf sal lees, skryf ek ook Wetenskapfiksie, om mense bekend te stel aan Bybelse Teologie. My boeke (tans The Façade en sy opvolger, The Portent) is slegs beskikbaar in Engels deur Amazon.com.